Selfs nie eens Engeland se gevreesde kolflys kon hom Maandag in Nottingham red nie.
Pakistan het ná 11 agtereenvolgende eendag-nederlae uiteindelik gewen en Engeland met 14 lopies in die spanne se tweede wedstryd van vanjaar se Wêreldbeker-toernooi verras.
Pakistan het 'n reuse 348/8 aangeteken, maar het hard gespook om dié groot totaal te verdedig. Engeland is uiteindelik tot 334/9 beperk.
Die Engelse was op koers om die wedstryd te wen danksy 'n fantastiese vennootskap tussen Joe Root en Jos Buttler, wat albei honderdtalle aangeteken het.
Die gasheer was in die moeilikheid op 118/4 in die 22ste boulbeurt toe Buttler (103, 76b) hom by Root (107, 104b) aangesluit het.
Dié paar het die kolfbeurt weer op koers gekry en 130 lopies om die vyfde paaltjie aangeteken.
Engeland het 99 van 66 balle benodig toe Root uit is. Dit was die groot keerpunt. Root het vroeër met sy telling op 9 oorleef toe daar op glip verbrou is.
Die ervare boulers Mohammad Amir en Wahab Riaz het Pakistan in die wedstryd gehou.
Al het Engeland die wedstryd verloor, was dit nogmaals 'n aanduiding van hoe moeilik die Engelse span geklop gaan word.
Sy kolflys is só diep dat selfs vroeë paaltjies nie genoeg is om dié span te stuit nie.
Daar was ernstige vrae oor die Pakistanse kolflys nadat hy vir net 107 uitgehaal is deur die Wes-Indiese Eilande in Vrydag se wedstryd.
Die toporde het almal beter vertoon.
Die aanvangspaar van Imam-ul-Haq (44) en Fakhar Zaman (36) het 'n goeie grondslag gelê en 82 lopies om die eerste paaltjie gevoeg.
Babar Azam (63, 66b), Mohammad Hafeez (84, 62b) en Sarfraz Ahmed (55, 44b) het hierop voortgebou en Pakistan gehelp om 'n reuse totaal te bou.
Pakistan het momentum verloor teen die einde van die beurt en vier paaltjies met die laaste 23 balle verloor.
Die wedstryd was ook die eerste keer dat Engeland se nuwe boulangel, Jofra Archer, voete van klei gewys het. Archer het Donderdag 3/27 teen die Proteas geneem, maar het gister 0/79 in sy 10 beurte afgestaan.




















