Shukri Conrad het 'n plan om die miserabele middelorde-ineenstortings wat die Suid-Afrikaanse toetsspan teister met wortel en tak uit te roei.
"Ek het die kolwers . . . en die plan. En as ek daardie plan geïmplementeer het, sal kolfineenstortings die uitsondering wees, nie die reël nie," het Conrad, Suid-Afrika se rooibal-afrigter, gesê toe hy uitgevra is oor sy voorbereiding in die opbou na die reeks teen Indië in Desember en Januarie.
Conrad het die voormalige nasionale kolwer en Bangladesj-kolfafrigter, Ashwell Prince, as toets-kolfafrigter aangestel.
"Die reeks teen die Wes-Indiese Eilande (in Februarie en Maart vanjaar) het 'n paar dinge belig, soos onder meer ons kolfkwesbaarhede. Ons bevind ons in goeie posisies, maar dan val ons kwesbare middelorde vas. Dit het nie net in die reeks teen die Windies gebeur nie, maar ook in vorige toetsreekse. Die fokus moet wees om meer konstant te raak en om groot honderdtalle te behaal waarmee ons onsself in wenposisies kan kry."
Die statistieke onderstreep die uitdaging wat Conrad en Prince die hoof moet bied. In sy afgelope 17 toetse het Suid-Afrika net vyf honderdtalle aangeteken. Van 2019 tot 2022 het Suid-Afrika se topses-kolwers, luidens statistieke wat deur ESPN Cricinfo verstrek is, in 11 toetse weg van die huis 'n gemiddeld van net 26.42 gehandhaaf.
Conrad sê planne is nog op koers om 'n gevestigde kolfgroep te hê voordat die reeks teen Indië afskop.
"As jy 'n pistool teen my kop hou, sal ek nou reeds vir jou kan sê hoe 95% van my toetsgroep vir die reeks teen Indië gaan lyk."
Die feit dat David Bedingham hom beskikbaar gemaak het vir Suid-Afrika, pleks van Engeland, het aan Conrad meer kolfopsies op nommer vyf gegee. Bedingham spog met 'n kolfgemiddeld van 49.79 en het in die 2023-seisoen vir Durham 1 019 graafskaplopies behaal teen 'n gemiddeld van 56.51.
Ons wil voortdurend die reservoir van goeie snelboulers uitbrei sodat ons 'n sterk groep byeen het vir reekse tuis.
Daarby is Ryan Rickelton vir die Leeus uitnemend op dreef.
Prince het as afrigter van die Kaapse Kobras 'n groot rol gespeel in die groei van Pieter en Janneman Malan, Kyle Verreynne, Zubayr Hamza en George Linde tot internasionale kolwers. In die eerste toetsreeks waarin Conrad die breier was, het Aiden Markram en Temba Bavuma groot honderdtalle behaal, wat die weg gebaan het na 'n reekssege met 2-0.
Bavuma het in sy eerste ses wedstryde in die Wêreldbeker-toernooi net 122 lopies behaal. Maar Conrad is glad nie bekommerd dat die kaptein nie reg sal wees om as kolwer die aanslag teen Indië in die toetsreeks in Suid-Afrika te lei nie. "Hy is 'n speler van wêreldgehalte en was die laaste paar jaar die land se beste kolwer.
"Toe hy in die eerste toets as kaptein teen die Windies twee nulletjies behaal het, het hy in die volgende toets teruggeslaan met 172. Hy het net sy veerkragtigheid en karakter onderstreep. Temba sal so reg soos 'n roer wees vir die toetsreeks teen Indië," het Conrad beklemtoon.
"Ons wil voortdurend die reservoir van goeie snelboulers uitbrei sodat ons 'n sterk groep byeen het vir reekse tuis," het hy bygevoeg.
Die wyse waarop die boulaanval tot dusver in die Wêreldbeker-toernooi presteer het, het Conrad hoop gegee met die oog op die Indiese reeks. "Hulle is sensasioneel. Dis spesiaal om KG op sy beste te sien as leier van die aanval. Marco (Jansen) en Lungi (Ngidi) swaai die bal. Ons kry ook naatbeweging. Dis baie goeie tekens voordat die reeks teen Indië afskop."
Conrad het egter benadruk hy beskou Jansen op toetsvlak as 'n nommeragt-kolwer. "Nommer sewe is perfek vir hom in eendag-krieket. Maar op toetsvlak is sewe dalk een posisie te hoog vir hom. Hy het groot potensiaal as kolwer," het Conrad bygevoeg.





















