Wb Netbal

Podiumplek vir SA is ‘hoopvol realisties’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Suid-Afrika het 'n realistiese kans op 'n podiumplek, maar dan sal hy 'n paar groot oorwinnings moet behaal.

So sê Jenny van Dyk, die nasionale o. 21-netbalafrigter en gewese Jaguars-breier, oor die Proteas se medaljekanse in die Wêreldbeker-toernooi, wat Vrydag begin.

Norma Plummer, die SA afrigter, gee Sondagaand instruksies aan Khanyisa Chawane by 'n spanoefening. Foto: Gallo Images
Norma Plummer, die SA afrigter, gee Sondagaand instruksies aan Khanyisa Chawane by 'n spanoefening. Foto: Gallo Images

Australië en Engeland se paadjie na die halfeindronde is reeds geplavei en Nieu-Seeland sal sy plek vroeg bespreek, glo Van Dyk.

Tonga, Zimbabwe en Fidji is die spanne in Australië se groep.

Engeland se aanvanklike teenstanders is Malawi, Skotland en Barbados.

Nieu-Seeland is geloot saam met Uganda, Trinidad en Tobago en Singapoer.

Die voorste drie spanne in elke groep vorm in die volgende fase 'n nuwe groep en Suid-Afrika - sou hy deurdring - pak dan Nieu-Seeland, Uganda of Trinidad en Tobago.

Die Proteas se eerste hoë hekkie is Jamaika, teen wie hulle Sondag speel, wat hul veldtog kan maak of breek.

Die Sunshine Girls is vierde op die wêreldranglys teenoor die Proteas se vyfde plek.

"Ons weet Australië en Nieu-Seeland ken van eindstryde, maar Engeland en Jamaika is gevaarlik, want hulle was lanklaas in 'n eindstryd," sê Van Dyk.

"Ons kan hoopvol realisties wees dat Suid-Afrika 'n podiumplek kan behaal.

"Kom ons hoop die tuisvoordeel laat hul buitengewoon goed presteer. Ons het 'n goeie span en ons het vir Norma (Plummer, afrigter); ek sê nie hulle kan dit nie doen nie," sê Van Dyk.

Dit is die Australiërs Norma Plummer en Nicole Cusack se derde WB-toernooi saam met die Proteas.

Die Proteas se eerste wedstryd is Vrydag om 18:00 teen Wallis.

• Klik hier vir 'n volledige interaktiewe gids oor die Wêreldbeker-netbaltoernooi.

• Van Dyk vertrek die naweek as bestuurder saam met die Suid-Afrikaanse o. 18-span na die Statebond-Jeugspele in Trinidad en Tobago.

Die span gaan daar aan die Fast5-kompetisie deelneem.

Benewens die gasheer en Suid-Afrika is die ander lande Australië, Botswana, Kanada, Engeland, Skotland en Sint Vincent en die Grenadine.

Die Suid-Afrikaanse afrigter is Emily Mathosa.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM