Wb Rugby

Bokke het ‘mal’ reis eindstryd toe gehad, sê Smit

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

John Smit het groot respek vir die Springbok-span gegewe die sinkplaatpad wat Siya Kolisi en sy manne tot in vanjaar se Wêreldbeker (WB)-eindstryd moes ry.

Die Springbokke se Wêreldbeker-veldtog in Frankryk het verlede maand met 'n taai openingswedstryd teen Skotland begin. Hier word Cheslin Kolbe deur twee Skotte vasgevat in Marseille. Foto: Gallo Images
Die Springbokke se Wêreldbeker-veldtog in Frankryk het verlede maand met 'n taai openingswedstryd teen Skotland begin. Hier word Cheslin Kolbe deur twee Skotte vasgevat in Marseille. Foto: Gallo Images

"Nadat ons Saterdag teen die All Blacks gespeel het, sou ons in hierdie WB teen al vyf die ander voorste spanne saam met ons in die topses te staan gekom het," sê die voormalige Springbok-kaptein, wie se span die Webb Ellis-trofee in 2007 hier in die einste Franse hoofstad verower het.

"Dit is mal. Dit was 'n moeilike pad om by hierdie eindstryd uit te kom."

Toe die Bokke vroeër in die toernooi in hul groepwedstryd teen Ierland gespeel het, was Andy Farrell se span nog nr. 1 op die wêreldranglys.

KYK | Losgemaal:Webb Ellis-trofee wink, hoe lyk Bokke se wenkanse?

Skotland het die vyfde plek beklee toe hy met Suid-Afrika kragte gemeet het. Frankryk was in die tweede plek op die ranglys toe hy en Suid-Afrika mekaar in 'n titaniese kwarteindstryd getakel het.

Engeland, wat deur die Springbokke in die halfeindstryd uitgeskakel is, beklee tans die vyfde plek op die ranglys.

Suid-Afrika se teenstander in Saterdag se eindstryd, Nieu-Seeland, is tans in die tweede plek met die Bokke wat nommer een is.

Ek dink dit het te doen met waar ons vandaan kom. Ons is taamlik veerkragtig.

Teenoor die Bokke was Ierland en Frankryk die All Blacks se enigste moeilikste teenstanders op pad na die eindstryd.

Die Bokke geniet dit egter volgens Smit om as die buiteperd beskou te word.

"Ek dink dit het te doen met waar ons vandaan kom. Ons is taamlik veerkragtig," sê hy.

"Ons voel altyd by die huis ons baklei vir iets of probeer die een of ander krisis te bowe kom. Dinge is nie altyd maklik nie, dit kan 'n stryd by die huis wees vir baie mense."

Die Springbokke het hul enigste nederlaag onderweg eindstryd toe teen Ierland gely in die groepfase. Foto: Getty Images
Die Springbokke het hul enigste nederlaag onderweg eindstryd toe teen Ierland gely in die groepfase. Foto: Getty Images

Smit sê die All Blacks se wegholsege oor Argentinië in die halfeindronde sou die Nieu-Seelanders beslis gehelp het.

"Daar was nie die helfte van die hoeveelheid intensiteit of fisiekheid (vergeleke met die Bokke se halfeind teen Engeland) nie. Vergelyk wat hul lywe moes deurmaak teen Argentinië met ons s'n in 80 minute. Ons het boonop 'n ommeswaai van sewe dae, een dag minder as die All Blacks se agt (ná hul halfeind). Hulle sou beslis fisiek beter herstel het."

Die Bokke moes alles en nog meer in die stryd werp om Frankryk, die gasheernasie, in die kwarteindstryd tot oorgawe te dwing. Foto: Getty Images
Die Bokke moes alles en nog meer in die stryd werp om Frankryk, die gasheernasie, in die kwarteindstryd tot oorgawe te dwing. Foto: Getty Images

Nog 'n voormalige Springbok-haker, Schalk Brits, beklemtoon op sy beurt die belangrikheid van 'n goeie begin in die eindstryd deur die Suid-Afrikaners.

"Dit ('n swak begin) is my grootste vrees in die toets," sê Brits.

"Wanneer ons Nieu-Seeland onder druk plaas vanaf die afskop en die manier waarop ons verdedig, wil ons hê spanne moet teen ons begin hardloop. Ons het teen Engeland gesien, hulle het baie geskop en ons opskietverdediging het baie omgedraai."

Dit was so hittete of die Springbokke se eindstryddrome is deur Engeland in die halfeindstryd gekelder. Foto: Getty Images
Dit was so hittete of die Springbokke se eindstryddrome is deur Engeland in die halfeindstryd gekelder. Foto: Getty Images

Brits is dit met Smit eens dat die Springbokke dit sal verkies om die buiteperd te wees.

"Die Suid-Afrikaanse perspektief is dat ons graag ons rug teen die muur wil hê. Ons wil die buiteperd wees. Dit is wat Rassie (Erasmus) sal sê," sê hy.

• Hendrik Cronjé doen uit Frankryk vir Netwerk24 verslag oor die Springbokke se Wêreldbeker-veldtog.

Hendrik Cronjé in Parys

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM