Die Springbokke het vandeesweek uit 'n vreemde oord 'n tamaaie kompliment ontvang.
Matt Dawson, voormalige skrumskakel van Engeland en die Britse en Ierse Leeus, het op sosiale media die mening gelug dat Siya Kolisi en kie waarskynlik die beste rugbyspan nóg is.

Dis nou dieselfde Dawson wat in die aanloop tot 2019 se eindstryd teen Engeland nie een enkele Bok in sy gekombineerde vyftiental wou kies nie.
"Wat hulle in hierdie Wêreldbekerrugbytoernooi vermag het, is eenvoudig merkwaardig - vernaam hoe hulle deur die groepsfase en uitkloprondes gekom het.
"Dit is te betwyfel of hul prestasies ooit oortref sal word," het Dawson te kenne gegee.
Met die aanvang van die onlangse WB-toernooi in Frankryk was daar slegs 'n handjievol spelers wat met die unieke prestasie kon spog dat hulle twee keer die titel verower het. Suid-Afrika het met vanjaar se eindstryd die rekordboeke herskryf.
Die Bokke het slegs die tweede span geword om agtereenvolgende titels te wen, en die eerste om al twee dié Wêreldbekers weg van die huis af te wen. Die eerste van die All Blacks se agtereenvolgende oorwinnings (in 2011) was op tuisbodem, in Auckland.
Suid-Afrika spog ná afloop van vanjaar se toernooi met nie minder nie as 25 spelers wat twee wennersmedaljes het.

Net twee van hulle was nie deel van vanjaar se groep nie: Os du Randt, wat sy twee in 1995 en 2007 gewen het, en Frans Steyn, wat in 2007 en 2019 medaljes ontvang het.
Van die 22 spelers wat in 2019 gewen het, was 14 ingesluit in die 23-tal wat aangewys is vir vanjaar se eindstryd teen die Kiwi's.
Veertien All Blacks was deel van Nieu-Seeland se suksesvolle veldtogte van 2011 en 2015, terwyl vyf Wallabies lede was van Australië se kampioenspanne van sowel 1991 as 1999.
Die 25 Springbokke wat tans met twee wennersmedaljes spog, is:
Lukhanyo Am, Damian de Allende, Faf de Klerk, Os du Randt, Pieter-Steph du Toit, Damian Willemse, Eben Etzebeth, Steven Kitshoff, Vincent Koch, Cheslin Kolbe, Siya Kolisi, Jesse Kriel, Willie le Roux, Frans Malherbe, Makazole Mapimpi, Malcolm Marx, Bongi Mbonambi, Franco Mostert, Trevor Nyakane, Handré Pollard, Cobus Reinach, Kwagga Smith, RG Snyman, Frans Steyn en Duane Vermeulen.
















