Engeland se kaptein Owen Farrell sal Dinsdag 'n onafhanklike verhoor ondergaan in sy soeke om 'n potensiële skorsing vry te spring ná sy rooi kaart in sy span se oorwinning teen Wallis verlede naweek.
Die losskakel het aanvanklik 'n geel kaart ontvang vir sy gevaarlike duikslag op die Walliese losvoorspeler Taine Basham, wat later tot rooi opgradeer is tydens die wedstryd nadat dit hersien is, en agterna weer afgradeer is na geel deur 'n onafhanklike regterlike komitee van Sesnasies-rugby.
Die regterlike komitee het vandeesweek met Farrell saamgestem dat daar versagtende omstandighede was in die plettervat, waarin sy skouer die kop van Basham getref het, toe sy Engelse spanmaat Jamie George die Wallis-speler in sy pad gestamp het.
Die besluit het opslae op sosiale media veroorsaak, met oudspelers en spelerwelsynsadvokate wat byna eenparig saamgestem het dat dit 'n slegte voorbeeld stel in 'n tyd wanneer die langtermyn-effek van kopbeserings in die kollig is.
Wêreldrugby het geappelleer, grootliks tot die irritasie van die Engelse afrigter, Steve Borthwick, wat die proses gekritiseer het en gesê het die speler het steeds hul volle ondersteuning.
Farrell het vroeër hierdie seisoen 'n skorsing van vier wedstryde gekry vir 'n soortgelyke duikslag waarin hy nie sy arms gebruik het nie terwyl hy vir Saracens gespeel het, en het in die verlede verskeie probleme met sy tegniek gehad.
As hy wel 'n skorsing kry, sal dit hom waarskynlik uit Engeland se eerste twee wedstryde by die Wêreldbeker-rugbytoernooi hou, wat belangrike Groep D-kragmetings teen Argentinië en Japan is.
Farrell is nie gekies vir die opwarmingswedstryd teen Ierland Saterdag in Dublin nie.
Engeland sal ook vir Fidji op 26 Augustus pak in hul laaste opwarmingswedstryd voordat die toernooi volgende maand in Frankryk afskop. - Reuters



















