Wb Sokker

Frankryk moet Peru se passie demp

Nadat hy gesukkel het om Australië in sy openingswedstryd tot oorgawe te dwing, sal Frankryk ook nie wawiele doen oor die vooruitsig om Peru Donderdag in sy tweede Wêreldbeker-sokkerstryd in Rusland te pak nie.

Antoine Griezmann was nie op sy beste teen Australië nie, maar kan 'n handvol teen Peru wees. Foto: Reuters
Antoine Griezmann was nie op sy beste teen Australië nie, maar kan 'n handvol teen Peru wees. Foto: Reuters

Die rede hiervoor is dat Frankryk 'n besonder power rekord teen Latyns-Amerikaanse lande in Wêreldbeker-toernooie het.

In die Franse se laaste 12 WB-kragmetings teen sulke nasies, het hulle net vier oorwinnings behaal - een daarvan was die eindstryd teen Brasilië in 1998 se toernooi.

Hoewel Frankryk die Aussies met 2-1 getroef het en Peru, in sy eerste WB-toernooi sedert 1982, met 0-1 teen Denemarke verloor het, vertel dit nie die volle verhaal nie.

Frankryk het 'n stotterende vertoning gelewer en was ietwat gelukkig om 'n sege te behaal, terwyl Peru ondanks 'n paar tegniese tekortkominge 'n geïnspireerde vertoning gelewer het teen die Dene.

"Ek dink nie Frankryk hou daarvan om teen spanne van Suid-Amerika te speel nie. Met ons styl, wat daarop berus om aan besit vas te klou, kan ons hulle probleme besorg," het Miguel Trauco, Peru se een verdediger, gesê.

Die Franse verdediger Raphael Varane sê hulle is bewus van die gevaar wat Peru vir hulle inhou. "Dis 'n teenstander wat alles op die veld in die hoogste versnelling gaan doen. Om dit te beveg, sal ons 'n stewige, aggressiewe vertoning moet lewer."

Die doelskieter Paolo Guerrero is een van Peru se gevaarmanne. Foto: Getty Images
Die doelskieter Paolo Guerrero is een van Peru se gevaarmanne. Foto: Getty Images

Om dít reg te kry, sal die Franse afrigter, Didier Deschamps, dit straks oorweeg om Blaise Matuidi in die middelveld te kies. Dié speler het 'n groot fisieke teenwoordigheid en toe hy Corentin Tolisso in die openingswedstryd vervang het, het hy dadelik sy teenwoordigheid laat geld.

Die Franse ster Paul Pogba sê die wyse waarop Matuidi sy kans as plaasvervanger aangegryp het, is 'n voorbeeld vir die res van sy spanmaats.

Hoewel Frankryk vaart en vindingrykheid kortgekom het in sy stryd teen Australië, was hy steeds die enigste van die titel-gunstelinge wat sy eerste wedstryd kon wen.

Deur met Peru af te reken, sal Frankryk nog voor sy laaste Groep C-stryd teen Denemarke reeds seker wees van 'n plek in die tweede ronde.

Peru, wat op die agtervoet is, sal in teenstelling daarmee 'n meer riskante benadering moet volg en dít kan aan Frankryk, wat oor haastige spelers soos Antoine Griezmann en Kylian Mbappe beskik, talle geleenthede op die teenaanval bied.

Peru sal nietemin 'n bietjie inspirasie put uit die geskiedenis. Hy het sy enigste vorige ontmoeting met Frankryk, 'n vriendskaplike wedstryd in 1982, met 1-0 gewen.

- Reuters

* Frankryk se stryd teen Peru in Jekaterinburg word van 17:00 regstreeks op SS 3 en SABC 1 uitgesaai.

WB-bepalings

WB-puntelys

WB-uitslae

powered by Typeform

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM