Wb Sokker

Oorgerustheid klink Duitsers se doppie

Grafieke, diagramme en statistiese ontledings sal nie Duitsland se Wêreldbeker-skok verduidelik nie. Die rede vir dié sokkerspan se vroeë vertrek uit die toernooi in Rusland lê nie in syfers nie, maar in Duitse sokker se oorgerustheid in onlangse jare.

Duitsland se donkerste uur op die sokkerveld breek aan nadat Suid-Korea hom Woensdag met 'n oorwinning in Kazan uit die Wêreldbeker-toernooi geboender het. Foto: AP
Duitsland se donkerste uur op die sokkerveld breek aan nadat Suid-Korea hom Woensdag met 'n oorwinning in Kazan uit die Wêreldbeker-toernooi geboender het. Foto: AP

Elke aspek van dié land se nasionale tydverdryf, wat klubs, die Bundesliga, die nasionale sokkervereniging (DFB) en die spelers self insluit, was vir jare lank aandadig aan dié oorgerustheid.

Sedert Duitsland se glorieryke verowering van die Wêreldbeker in 2014, het die hoofrolspelers in Duitse sokker op hul louere gerus, gesien hoe die geld inrol en gedink dié voorspoed sal vir altyd hou.

Maar dit het nie.

Twee nederlae (teen Mexiko en Suid-Korea) en een doodsnik-sege (oor Swede) het meegebring dat Duitsland Woensdagaand die vroegste uit 'n WB-toernooi geboender is in 80 jaar.

Draai die horlosie terug tot net voor die vorige WB-toernooi in Brasilië, toe vier Duitse klubs die ronde van 16 in die Europese Kampioeneliga gehaal het. Vanjaar was daar net een Duitse klub in dié ronde.

Terug in 2013 het Bayern München en Borussia Dortmund die heerskappy van Duitse sokker onderstreep deur albei die Kampioeneliga-eindstryd te haal.

Sedertdien kon geen Duitse klub verder as die halfeindronde vorder nie.

In 2011 en 2012 het Dortmund die Duitse Bundesliga gewen. Sedertdien het Bayern München 'n monopolie op die nasionale titel.

Die rede vir dít alles is eenvoudig: geld.

Die Bundesliga wil graag die kollig skyn op sy finansiële sukses, maar sy geldelike opbloei het 'n eensydige, vervelige en voorspelbare liga tot stand gebring, waar Bayern elke keer wen.

Die gebrek aan kompetisie in dié geldryke liga, waarin die DFB nie 'n vinger verroer om die probleem aan te pak nie, het beteken dat Duitse spelers minder mededingend geraak het.

Duitse toeskouers kyk in ongeloof toe hoe hul immer betroubare sokkerspan skandes maak in Rusland. Foto: Reuters
Duitse toeskouers kyk in ongeloof toe hoe hul immer betroubare sokkerspan skandes maak in Rusland. Foto: Reuters

Klubs soos Bayern ontwikkel ook nie meer hul eie sterre nie, maar koop hulle danksy 'n tjekboek wat ál dikker word.

Voeg hierby die oorgerustheid van die Duitse afrigter, Joachim Löw, wat op hardkoppige wyse min of meer dieselfde kern spelers vir die afgelope dekade bly kies het.

"Waarom moet ek ná een wedstryd my vertroue in hulle verloor," het hy gesê ná Duitsland se nederlaag in sy openingswedstryd teen Mexiko.

Die Duitse media, soos dié land se breë publiek, is sprakeloos gelaat deur hul nasionale sokkerspan se mislukking in Rusland. Foto: AP
Die Duitse media, soos dié land se breë publiek, is sprakeloos gelaat deur hul nasionale sokkerspan se mislukking in Rusland. Foto: AP

Spelers soos Thomas Müller, Jerome Boateng, Mesut Ozil, Sami Khedira en Manuel Neuer het lankal hul begeerte verloor om internasionale sukses na te streef en is nou meer geïnteresseerd daarin om met hul nuwe motors, huise, tatoeëermerke en blink klere te spog.

Die DFB se eie selfvoldaanheid was duidelik te sien in die nasionale span se slagspreuk vir die Russiese toernooi: "The Best Never Rest", asook hul nimmereindigende bemarkingsprojekte om die "vyfde ster" - 'n vyfde WB-titel - huis toe te bring.

Joachim Löw en sy Duitse spelers verlaat Rusland Donderdag stert tussen die bene. Foto: Reuters
Joachim Löw en sy Duitse spelers verlaat Rusland Donderdag stert tussen die bene. Foto: Reuters

Toe twee werknemers van die DFB ná Duitsland se sukkelsege oor Swede dié land se plaasvervangers bestorm en luidkeels in hul gesigte feesgevier het, was dit 'n teken dat oorgerustheid skielik deur paniek vervang is.

Tot en met daardie tydstip het die DFB nog nie dié ramp sien kom nie.

Löw het nog nie 'n finale besluit oor sy toekoms geneem nie, maar dis te betwyfel of hy in dié pos sal aanbly. En wanneer hy vervang word, sal sy opvolger behoorlik moet huis skoonmaak en finaal ontslae raak van die 2014-span.

Duitsland se uitstekende ontwikkelingswerk en reuse-bron van talentvolle spelers het die grondslag vir die nasionale span se sukses die afgelope dekade gelê en die nuwe afrigter moet hierop fokus, eerder as op spelers wat meer belangstel in hul nuutste sportmotors.

- Reuters

WB-bepalings

WB-puntelys

WB-uitslae

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM