Wb Sokker

Socceroos-‘stiefkind’ se groot Messi-troosprys

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Cameron Devlin (links) en Lionel Messi skud blad en ruil truie ná Argentinië die Aussies uit die Wêreldbeker-toernooi geskakel het. Foto: Getty Images
Cameron Devlin (links) en Lionel Messi skud blad en ruil truie ná Argentinië die Aussies uit die Wêreldbeker-toernooi geskakel het. Foto: Getty Images

Die Australiese middelveldspeler Cameron Devlin is nie 'n enkele minuut se speelkans in die Wêreldbeker-toernooi gegee nie, maar het die skouspel in Katar met 'n uiters gesogte aandenking as troosprys verlaat.

Devlin, wat vir Heart of Midlothian (alombekend as Hearts) in die Skotse Premierliga speel, het ná Australië se nederlaag teen Argentinië in die ronde van 16 truie met die Suid-Amerikaanse superster Lionel Messi geruil.

Enige Messi-trui is waardevol, maar wat dié trui baie gesog maak, is dat die Argentyn in sy 1 000ste beroepswedstryd gespeel en boonop een van die doele in die oorwinning met 2-1 aangeteken het.

"Ek het ná die wedstryd op die veld gegaan om ons ouens te troos en het toe Messi se hand geskud.

"Dit het nie gelyk of enigiemand anders hom om sy trui wou vra nie en ek het toe maar 'n kans gevat," het Devlin op die lughawe in Sydney met die Socceroos se terugkeer na Australië gesê.

Messi het ingestem en vir Devlin gesê hulle kan in die kleedkamer truie ruil.

"Ek weet nou nie juis of hy my trui teen sy muur tuis sal ophang nie. Dalk lê myne nog op die (Argentynse) kleedkamervloer.

"Hy sal beslis nie weet wie ek is nie, maar is steeds nederig genoeg om daardie tipe respek te betoon (deur truie te ruil).

Devlin sê Messi se trui sal 'n ereplek in sy huis kry en dat sy pa dit vir hom gaan oppas.

"Ek dink nie hy (sy pa) gaan my weer toelaat om daaraan te raak nie," het Devlin geskerts. - Reuters

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM