Riaan Cruywagen skryf oor 'n besonderse stukkie geskiedenis in die uitsaaiwese en hoe Afrikaans ook só traksie gekry het.

Prof. Fransjohan Pretorius se insiggewende Terugblik-rubriek op N.P. van Wyk Louw en die vroeë jare van Radio Nederland Wereldomroep" (6.11) het my geïnspireer om in die gees van die Afrikaans 100-vieringe met groot waardering die diep spore in herinnering te roep wat die eerste, beskeie radio-uitsendings in Afrikaans vanuit die buiteland in twee van ons stamlande agtergelaat het.
Die Britte, nogal, was aan die voorpunt daarvan, want die BBC World Service wat in 1932 tot stand gekom het, het in Mei 1939 met die uitsaai van daaglikse Afrikaanse programme op kortgolf begin.
Dit was uit die staanspoor waarskynlik 'n kwalik bedekte poging om die guns van die Afrikaanssprekendes vir die Britte en Geallieerdes in die Tweede Wêreldoorlog te probeer wen. Die uitsendings is egter 18 jaar lank volgehou, totdat dit op 8 September 1957 beëindig is.
Ongelukkig is bitter min bekend oor wie die Afrikaanse programme in Londen saamgestel en aangebied het.
Van groter kulturele beteke-nis was egter die stigting van Radio Nederland Wereldomroep (RNWO) in April 1947 in Hilversum, Nederland.
Soos Pretorius tereg opmerk, was die primêre doel van RNWO om op kort- en mediumgolf in verskillende tale 'n akkurate beeld van Nederland aan die buitewêreld te skets en om veral ook vars inligting oor gebeure in die land aan sy burgers in die buiteland oor te dra.
Die tale waarin aanvanklik in 1947 uitgesaai is, was Nederlands, Indonesies, Engels en Spaans. In 1949 is ook met uitsendings in Arabies en Afrikaans begin, en twee dekades later het Frans en Portugees gevolg. Die klankryke taalspektrum sou 'n mens in die gange van die fraai ateljeekompleks in die bosryke buitewyke van Hilversum aan Babel kon herinner. En deel van hierdie ryke taalverskeidenheid was Afrikaans, wat in die verre Nederland sy man volwaardig in die rei van nasies gestaan het.
Krakerige kortgolf
Afrikaans is in November 1949 - vanjaar presies 75 jaar gelede - die eerste keer oor die senders van Radio Nederland gehoor. Die Afrikaanse afdeling het daagliks, van Maandag tot Saterdag, 'n halfuurprogram regstreeks in die 13- en 19-meterband op kortgolf uitgesaai.
Om luisteraars te help om die stasie betyds op die krakerige kortgolf te identifiseer is 'n unieke kenwysie van vyf minute voor die begin van die program gespeel. Dit was die eerste paar frases van 'n lied uit die Tagtigjarige Oorlog, "Merck toch hoe sterck", deur 'n beiaardier uitgevoer op die kariljon van die Sint Jans-katedraal in Den Bosch.
Daar was meestal twee Afrikaanse omroepers in Hilversum - een is ingevolge 'n kultuurooreenkoms net vir 'n jaar deur die SAUK na RNWO gesekondeer met behoud van alle personeelvoordele. Die ander omroeper het minstens twee of hoogstens drie jaar voltyds by RNWO in diens getree en alle gepaardgaande personeelvoordele van die Nederlanders geniet.
Ek was bevoorreg om in die kontrakpos van drie jaar by RNWO aangestel te word en het op 1 Augustus 1971 in Hilversum begin werk. In daardie tyd was Karel Maartense die hoof van die Afrikaanse afdeling - 'n besonder intellektuele, saggeaarde, vriendelike en innemende Nederlander wat Suid-Afrika buitengewoon goedgesind was.
Hy het hom selde ingemeng in ons werk, maar gesorg dat die peil van ons programme hoog bly. Solank ons programinhoud die Nederlandse kultuur positief weerspieël het en die stamverband tussen moeder- en dogterland daaruit geblyk het, was Maartense tevrede en het ons vrye teuels gehad om inisiatief met ons programme aan die dag te lê.
Die indrukwekkende lys van bekendes wat sedert 1949 in Hilversum as Afrikaanse omroepers diens gedoen het, is veel te lank om hier volledig aan te haal, maar sluit mense in soos Morné Coetzer, Andries Cornelius, Abraham H. de Vries, Marius du Plooy, Roelf Jacobs, Frikkie Kraamwinkel, Heinrich Marnitz, Roy Pheiffer, Hennie Pietersen, Lorenz Schultz, Pieter Spaarwater, Kolie van Coller, Fritz van Lingen, Verna Vels, Kosie Venter, Johann Verreynne en nog vele meer. Talle van hulle is helaas reeds ter siele.
Verrassend gewild
My eerste Afrikaanse kollega by RNWO was Hennie Maas, wie se kontraktermyn 18 maande ná my aankoms ten einde geloop het. Hy is opgevolg deur Verreynne, wat vir 'n jaar deur die SAUK na Hilversum gestuur is. In sy plek het die SAUK Daniël Kirstein vir 'n jaar daarheen gesekondeer, saam met wie ek die laaste ses maande van my dienstermyn gewerk het.
Uit hoofde van ons werk het ons Nederland deurkruis en oor elke denkbare onderwerp programme saamgestel. Benewens ons daaglikse regstreekse uitsending op kortgolf, Maandae tot Saterdae vroegaand, was ons ander baie belangrike werkopdrag die vervaardiging van transkripsieprogramme vir uitsending deur die SAUK. Dié programme is in die ateljees in Hilversum op band opgeneem en per lugpos aan die SAUK in Johannesburg gestuur vir uitsending.
Die bekendste van die transkripsieprogramme was ongetwyfeld die weeklikse Uitspan op die Hollandse werf, wat Saterdae om 14:00 deur die destydse Afrikaanse Diens van die SAUK uitgesaai is. Die kenwysie was "De klokkenwinkel", gespeel deur die orkes van Jan Corduwener. Ons het egter op 'n ad hoc-grondslag ander programme ook gemaak, en dokumentêre programme of programinsetsels vir die SAUK gelewer.
Die Afrikaanse afdeling van RNWO se programme was verrassend gewild. Dit het altyd met 'n nuusbulletin van vyf minute begin, gevolg deur verskillende rubrieke op elk van die ses uitsaaidae wat gewissel het van taal en kultuur tot toerisme, wetenskap, musiek en vele meer. Intussen is onderhoude met interessante Nederlanders gevoer en opgewekte Hollandse musiek gespeel. Verbasend baie luisteraars in Australië, Indonesië en Oos-Europa het laat weet dat hulle deur ons programme geprikkel is om meer van ons mooi taal te wete te kom.
Op twee Saterdae per maand is boodskappe vir lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Antarktiese Ekspedisie (Sanae) uitgesaai. Die "Suidpoolgangers" was van ons getroue luisteraars en kon op dié wyse betreklik vars nuus van die huis af via RNWO se Afrikaanse afdeling ontvang, want daar was uiteraard geen posdiens tussen Suid-Afrika en Antarktika nie.
Hoewel die gesindheid van die Nederlanders jeens Suid-Afrika in die vroeë 1970's nog redelik positief was en daar nie van noemenswaardige betogings teen die Suid-Afrikaanse rassebeleid sprake was nie, was daar politieke ondertone in die media wat die gevaarligte laat flits het. Ons het besef dat die skrif vir die Afrikaanse afdeling dalk kort voor lank aan die muur kon wees.
Interessante persoonlikhede het bydraes tot die programme gelewer. Een van die belangrikstes (en na wie Pretorius in besonderhede verwys het) was sekerlik die veelgeroemde Afrikaanse digter N.P. van Wyk Louw, wat tussen 1950 en 1958 weekliks 'n insetsel gelewer en dit ook self aangebied het terwyl hy hoogleraar aan die Gemeentelijke Universiteit van Amsterdam was. Die tekste van sy praatjies is almal diep in die argief van RNWO tussen ander programmateriaal bewaar.
Wat die uiteindelike lot van dié letterkundige juwele was, is moeilik bepaalbaar, want die Afrikaanse afdeling is teen die einde van 1977 weens politieke druk wat veral weens die Soweto-opstand van Junie 1976 in felheid toegeneem het, ná 28 jaar permanent gesluit. En op 31 Desember 2012 het die Nederlandse regering RNWO finaal ontbind.
Louw het by etlike geleenthede sterk klem gelê op die waarde van Nederlands vir die Afrikaanssprekende. Hy was egter nie die enigste gevierde outeur wat die noue verwantskap tussen die twee tale en kulture gekoester het nie. Teen die een muur van ons kantoor was 'n vergeelde stukkie papier met plakband vasgeplak. Dit was 'n gediggie wat die digter Totius (prof. J.D. du Toit) spesiaal ter viering van die eerste Afrikaanse radio-uitsending uit Nederland in November 1949 geskryf en in sy eie handskrif aan die Afrikaanse Afdeling gestuur het:
Verborge-Eén
Die sprokie is aan my vertel:
Wanneer die druiwetros weer swel
onder die donker wingerdblad,
dat dan die fyne wyn ook roer
in ver verborge keldervat.
'n Fyn mistieke eenheidsband
verbind Oranje, Nederland
en Afrika, deur alles heen.
Hoe ver die golwe ons al omspoel,
die diepe hart sal altyd voel -
ons is verborge-een.
Toe my driejaar-termyn as omroeper by RNWO in 1974 einde se kant toe begin staan en die politieke onweerswolke die voortbestaan van die Afrikaanse afdeling al hoe meer bedreig het, het Maartense my versoek om dié unieke stukkie Africana saam te neem na Suid-Afrika en 'n geskikte tuiste daarvoor te vind.
Gedagtig aan die versreëls wat verwys na wingerd en wyn, asook die vestiging van Nederlands aan die Kaap die Goeie Hoop, het ek dit goed geag om die gediggie professioneel te laat monteer en met 'n verduidelikende nota vir veilige bewaring aan 'n vooraanstaande wynkelder in Stellenbosch toe te vertrou. Dié kosbare literêre kleinood hang tans in die kelder van die landgoed Rust en Vrede, waar die eienaar en kultuurliefhebber Jean Engelbrecht dit uitstal sodat alle belangstellendes dit kan sien.
Die era van Afrikaanse radio-uitsendings op kortgolf vanuit die buiteland is dalk iets van die verlede, maar die voetspoor van ons mooi taal lê stewig vasgemessel in die annale van die internasionale uitsaaigeskiedenis.

- Cruywagen was van 1971-1974 as omroeper aan die Afrikaanse Afdeling van Radio Nederland Wereldomroep in Hilversum, Nederland, verbonde.



















