Aktueel

AGHS: As skermtyd kermtyd word

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Grafika: Jaco Grobbelaar
Grafika: Jaco Grobbelaar

Hoekom is skermtyd vir party kinders met aandaggebrek-hiperaktiwiteitsindroom (AGHS) soos dobbel of drank? Willemien Brümmer het met kenners gesels oor riglyne en oorlewing in die altyd-aan digitale era.

Die hoogtepunt van my negejarige se week is 'n apokaliptiese rit deur 'n woesteny waar hy moet aas vir kos, wapens en petrol en moet veg teen wrede mutante.

Hy verkies dié rekenaarspeletjie bo sy geliefde Rick Riordan-boeke en selfs die Tom Tom - 'n toksiese pannekoek-toring by sy geliefkoosde restaurant van Kit Kat, roomys én Nutella . . . vir baie van sy tydgenote die kroonjuweel van kos.

Al het ons hom op 'n digitale honger-dieet geplaas van net 'n uur per dag vanaf Vrydae tot Sondae is 90% van gesprekke monoloë oor speletjies op Roblox of veldslae op Pocket Ants en hou 99% van vloermoere verband met die af-knoppie.

'n Studie wat in 2018 in die mediese joernaal JAMA gepubliseer is, het reeds lank voor die pandemie bevind daar is 'n assosiasie tussen slimfoon-gebruik en simptome van aandagafleibaarheid. Foto: iStock
'n Studie wat in 2018 in die mediese joernaal JAMA gepubliseer is, het reeds lank voor die pandemie bevind daar is 'n assosiasie tussen slimfoon-gebruik en simptome van aandagafleibaarheid. Foto: iStock

Vrydae om 17:00 kan daar 'n Hirosjima in ons buurt wees, maar Meneer is gefikseer op sy pa se iPhone, terwyl hy met sy beste maatjie praat op sy ma se krok. As DarkLord en Reeeeper7 kerjakker hulle dan virtueel terwyl hulle byklanke maak in Amerikaanse aksente. Al vier ouers se sosiale- en beroepslewe moet daarby inpas, en behoed my as my Polo nie 16:50 al by die inrit indreun nie. As 'n battery pap is of die Wi-Fi werk nie, is dit 'n tsoenami vir sy gemoed - en as die ete klaar is voordat die volle 60 minute verby is, is dit koue kos, skat.

Skermtyd of kermtyd?

Toe ek 'n tiener was, het ons net ons swart-en-wit TV aangeskakel vir die agtuur-nuus, en vir flieks het jy óf na die bioskoop in Proteastraat gestap óf 'n afspraak gemaak by 'n maatjie wie se ouers 'n videomasjien het. Jy en die pêl het dan elke pouse beraadslaag oor wat julle by die videowinkel gaan uitneem en wie genooi gaan word - en jy het geleer hierdie dopamien-hupstoot is 'n vorm van voldoening waarvoor jy moet wag.

'n Virtuele heelal soos Roblox is 'n turbo-aanjaer vir sy boomskraap dopamien-vlakke, want alles is nuut en 'n avontuur skuil agter elke klik.

Vandag - 53 jaar nadat die apartheidsregering uiteindelik ingestem het dat Suid-Afrika 'n televisiediens kry - is enige liedjie of fliek met die klik van 'n duim binne jou bereik en binne die afsienbare toekoms gaan algoritmes my seun se spreekwoordelike ingang en uitgang bewaar.

My seuntjie sal enige tyd eerder A Dusty Trip speel eerder as om sy gunstelingboeke te lees, of selfs pannekoek te eet. Grafika: Jaco Grobbelaar
My seuntjie sal enige tyd eerder A Dusty Trip speel eerder as om sy gunstelingboeke te lees, of selfs pannekoek te eet. Grafika: Jaco Grobbelaar

Vir 'n kind met aandaggebrek-hiperaktiwiteitsindroom (AGHS) soos myne, is dié digitale era terselfdertyd 'n seëning én 'n ramp. Skermtyd word binne 'n oogwink kermtyd, maar hy is ook 'n uiters bedrewe speler na wie baie ouer kinders opkyk.

Die rede? 'n Virtuele heelal soos Roblox is 'n turbo-aanjaer vir sy boomskraap dopamien-vlakke, want alles is nuut en 'n avontuur skuil agter elke klik.

'n Tribe en 'n fix alles ineen

Dr. Hugo Theron, 'n kliniese sielkundige van Welgemoed, sê so lank as wat die mensdom bestaan, het sommiges opwinding en nuutjies nagejaag en diegene met AGHS het nog altyd na daardie ekstra dopamien gesmag. "Hulle het egter ook probleme met impuls-beheer en hul uitvoerende funksies (die brein se sogenaamde beheersentrum) werk nie so lekker nie," sê dié sielkundige wat sy doktorsgraad gedoen het oor die uitwerking van inligtings- en kommunikasie-tegnologie op kinders en tieners.

Die kliniese sielkundige dr. Hugo Theron het sy doktorsgraad gedoen oor die impak van tegnologie op kinders en tieners.
Die kliniese sielkundige dr. Hugo Theron het sy doktorsgraad gedoen oor die impak van tegnologie op kinders en tieners.

"Party kinders met AGHS sukkel ook om hul plek te vind tussen hul maats. Hul beloningsroete in die brein funksioneer egter nie optimaal nie, so jy sukkel om te voel jy bereik dinge. En omdat jy baie keer impulsief optree of dinge sê wat jy nie behoorlik deurdink het nie, reageer mense negatief.

"Dié terugvoer affekteer die kinders se selfbeeld en hulle word soms randfigure. Of jy voel jy's slim, maar jou punte weerspieël dit nie. Of jy's gaaf met jou maatjies, maar hulle nooi jou nie na hul partytjies nie. . .

"Dis dus 'n verligting om te ontsnap in 'n rekenaarspeletjie in. Jy voel jy het jou tribe gevind en dan kry jy sommer jou dopamien-fix terwyl jy speel."

'n Globale studie het onlangs bevind Suid-Afrikaners het die hoogste gemiddelde digitale verbruik ter wêreld.

Vir kinders met AGHS is 'n rekenaarspeletjie dus soos 'n moderne kinderpartytjie waar hulle kan sosialiseer terwyl hulle iets doen waarmee hulle dikwels uitblink, sê Theron. Terselfdertyd word die brein se plesier- en motivering-sentrum geaktiveer.

"Sosiale media kan hierdie kinders ook veral intrek, want hulle wag voortdurend vir die likes of die geluid van 'n WhatsApp. Sodra dit ping, is dit 'n versterking vir die volgende keer en vir jou onsekere gemoed en jou behoefte om te wil deel wees," sê hy.

Studies het selfs al gewys skermtyd kan tot fisieke veranderinge aan die brein lei soortgelyk aan dié wat deur kokaïen veroorsaak word. Foto: iStock
Studies het selfs al gewys skermtyd kan tot fisieke veranderinge aan die brein lei soortgelyk aan dié wat deur kokaïen veroorsaak word. Foto: iStock

"Baie van die toepassings is werklik geprogrammeer om kinders te haak, en iets soos YouTube werk baie vinnig uit waarvan jy hou en gee dan vir jou meer daarvan. Instagram is verstommend, veral met tieners, omdat dit hulle in 'n sosiale strikknoop intrek. Daar is soveel groepe en boodskappe en hulle word so maklik heeltemal verorber daardeur."

Nege ure en 24 minute . . .

'n Globale studie het onlangs bevind Suid-Afrikaners het die hoogste gemiddelde digitale verbruik ter wêreld. Dié navorsing, deur die tegnologie-webwerf Electronics Hub, het beraam die gemiddelde wêreldburger is tussen 16,5 en 17,5 ure per dag wakker, waarvan hy of sy sowat ses ure en 43 minute voor 'n skerm deurbring.

Suid-Afrikaners was 58,21% van die tyd (nege ure en 24 minute) voor 'n slimfoon, TV of rekenaar. Van die 45 lande wat bestudeer is, was die tegnofiliese Japanners die suinigste met digitale tyd, met slegs 22,76% van hul wakkertyd in die geselskap van 'n blikbrein.

Prof. Renata Schoeman is 'n psigiater met 'n spesiale belangstelling in onder meer aandaggebrek-hiperaktiwiteitsindroom (AGHS). Foto: Verskaf
Prof. Renata Schoeman is 'n psigiater met 'n spesiale belangstelling in onder meer aandaggebrek-hiperaktiwiteitsindroom (AGHS). Foto: Verskaf

"Die probleem is, as jy niks het nie, wat dóén jy?" vra prof. Renata Schoeman, 'n psigiater met 'n spesiale belangstelling in kognisie en AGHS.

"Daar is nie noodwendig sportfasiliteite vir kinders nie en hulle kan nie sommer op 'n uitstappie gaan na die akwarium of die museum nie. Baie ouers verlaat die huis vieruur soggens om 'n taxi te vang en hulle kom saans laat eers tuis. Wat anders is daar vir 'n kind? Dis óf 'n selfoon óf 'n televisie."

As jy smag na meer en meer

Die probleem is, tegnologie is so 'n bietjie soos rooiwyn. Sannie kan twee glase wyn per week drink; sy staan nie met 'n babelaas op nie en word nie uitgesmyt by partytjies nie. Kosie droom van sonop tot sononder oor sy Allesverloren Cabernet Sauvignon - en as die bottel eers op sy droesem is, slaan hy oor na Klipdrift.

"Jy kry kinders wat oukei is daarmee dat hulle 30 minute per dag kry, en dan kry jy kinders wat sukkel om hul emosies te reguleer en gereeld 'n meltdown kry as hulle moet ophou kyk," sê Schoeman.

Slimfone en skootrekenaars het noodgedwonge tydens die pandemie vir baie ouers 'n soort kinderoppasser geword. Foto: iStock
Slimfone en skootrekenaars het noodgedwonge tydens die pandemie vir baie ouers 'n soort kinderoppasser geword. Foto: iStock

"Die probleem is 'n brein met AGHS is kláár meer weerloos, want jy het reeds 'n tekort aan dopamien. Jy is rééds meer afhanklik van beloning - so skermtyd gaan jou dopamienvlakke tien teen een nog verder affekteer. Jy is ook meer geneig om daaraan verslaaf te raak."

Hoe meer jy scroll, hoe meer sukkel jy om te konsentreer en hoe meer sukkel jy om jou brieke te gebruik en hoe minder kan jy jou emosies reguleer.

Skerms kan naamlik 'n kettingreaksie in die brein sneller. Net soos tik of alkohol kan dit vir 'n toeloop van dopamien sorg, wat op sy beurt 'n gevoel van welbehae ontketen. Die lollery is dat sommige mense smag na meer en meer . . . Studies het selfs al gewys skermtyd kan tot fisieke veranderinge aan die brein lei soortgelyk aan dié wat deur kokaïen veroorsaak word.

"Dis dieselfde beginsels waarvolgens mense begin dobbel," sê Schoeman. "Hoe meer skermtyd jy kry, hoe laer word jou basislyn, en een van die primêre probleme met AGHS is lae dopamien in die frontale lob. Hoe meer jy scroll, hoe meer sukkel jy om te konsentreer en hoe meer sukkel jy om jou brieke te gebruik en hoe minder kan jy jou emosies reguleer. Jy sukkel meer met motivering en jy het minder dryfkrag. Dis hoekom jy hierdie tieners kry wat net heeldag wil lê."

Sy sug. "Ons vergeet 'n brein kan nog ontwikkel totdat iemand 23 jaar oud is. Hierdie oorstimulasie kan permanente gevolge hê en ek dink nie ons besef al ten volle die impak wat dit kan hê op kinders en tieners se ontwikkeling nie."

Risiko vir AGHS-simptome

Dis egter 'n mite dat skerms AGHS kan veroorsaak - maar dit lei dikwels daartoe dat pasiënte met AGHS gediagnoseer word as hulle dit nie werklik hét nie, meen Schoeman. "AGHS is 'n neuro-ontwikkelingskondisie waarmee jy gebore word, maar skerms kan lei tot iets wat soos AGHS lyk," sê sy.

Dié stigter-direkteur van die Goldilocks and The Bear Foundation, wat ook die hoof is van die MBA in gesondheidsorg-leierskap by die Universiteit Stellenbosch Bestuurskool, vra nou as 'n roetine vir pasiënte: "Kom ons kyk eers op jou foon hoe lyk jou skermtyd."

As jy AGHS het, sukkel jou sintuie om dinge wat nie nodig is vir 'n taak nie, uit te filter. "Met AGHS is alles op dieselfde radiostasie en alles is ewe hard," sê Schoeman.  Foto: iStock
As jy AGHS het, sukkel jou sintuie om dinge wat nie nodig is vir 'n taak nie, uit te filter. "Met AGHS is alles op dieselfde radiostasie en alles is ewe hard," sê Schoeman. Foto: iStock

Sy knik ferm. "As 'n grootmens nege ure per dag op 'n foon is of 'n kind vier ure per dag, sê ek: ‘Ek kan jou nie met AGHS diagnoseer nie. Ek wil jou eers sien as jy skoon is.' Dis so goed ek diagnoseer depressie by iemand wat 'n bottel wyn per dag drink."

'n Studie wat in 2018 in die mediese joernaal JAMA gepubliseer is, het reeds lank voor die pandemie bevind daar is 'n assosiasie tussen slimfoon-gebruik en simptome van aandagafleibaarheid en 'n gebrek aan impulsbeheer.

Navorsers het 2 600 gr. 10-leeringe in Los Angeles gevolg wat aanvanklik geen simptome van AGHS gehad het nie. Ná twee jaar was die meer gereelde digitale verbruikers meer impulsief, hulle het swakker gefokus en hulle was meer hiperaktief.

Wat is die slaap 'n wondersoete ding

Die eerste studies wat gewys het op die negatiewe effek van skermtyd vir breinfunksie is al in 2017 gepubliseer, sê Schoeman. Dit het gewys hoe meer jy na 'n skerm staar, hoe meer geneig is jy om te dink en dagdroom oor dinge wat absoluut niks te make het met die taak op hande nie. "Dit het ook gewys jy is emosioneel meer ongebalanseerd, selfs al het jy nie AGHS nie, en dat skerms depressie en angs kan vererger."

As jy in gedagte hou mense met onbehandelde AGHS het 'n 70% tot 80% groter kans om angstig of depressief te raak - onder meer omdat hulle meer geboelie word en meer impulsief is - kan jy sien waar die probleem inkom.

Dis haas onmoontlik om enige iemand in die digitale era van tegnologie af te sny, maar ouers moet steeds seker maak hul kinders het balans. Foto: iStock
Dis haas onmoontlik om enige iemand in die digitale era van tegnologie af te sny, maar ouers moet steeds seker maak hul kinders het balans. Foto: iStock

Studies het ook reeds vroeg gewys dit kan die gyrus cingulatus in die frontale lob laat krimp - 'n deel van die limbiese stelsel wat ons emosies help prosesseer en ook geheue affekteer.

Later het navorsing al hoe meer begin fokus op die uitwerking op slaap - ten spyte van die sogenaamde blou lig-filters. "Dit gaan nie net oor die soort lig nie. Dit gaan ook oor die stimulasie en die dopamien wat vrygestel word," sê Schoeman. "Dit veroorsaak breingolwe wat maak dat jou brein nie kan afskakel nie. Indien jou slaap-kwaliteit sleg is, kan jy nie konsentreer die volgende dag nie en as jy moeg is, is jy meer emosioneel en moeilik."

'n Onbetroubare wiegwag

Die probleem is dat slimfone tydens die pandemie noodgedwonge vir baie werkende ouers 'n soort "kinderoppasser" geword het - al is dié elektroniese wiegwag nie noodwendig so veilig of betroubaar as 'n mens van vlees en bloed nie.

As ouers hul kinders se skermtyd wil minder maak, moet hulle seker maak hulle skep 'n alternatief, sê kenners. Foto: iStock
As ouers hul kinders se skermtyd wil minder maak, moet hulle seker maak hulle skep 'n alternatief, sê kenners. Foto: iStock

"Ek kan sien dis moeiliker en moeiliker vir ouers om ouers te wees, en dis die maklikste ding om net vir 'n kind jou selfoon te gee," sê Schoeman. "Maar ouers is veronderstel om sáám met veral jonger kinders te kyk sodat jy dit kan bespreek."

Ouers moet ook weet as hulle skermtyd beperk of afskaal, moet hulle gewillig wees om betrokke te wees by hul kinders se lewens, sê sy, en hulle moet die slimfoon vervang met iets wat hulle saam doen, soos stap of lego bou.

Balans eerder as onthouding

Die kruks van die saak is dat die digitale ontwrigting ons nuwe realiteit is - en al het ek al menig male hardop gehoop my kind kon vir 'n maand cold turkey, is dit heel moontlik 'n fantasie uit die oudedoos.

Dis amper soos die pa's wat destyds sigaret-in-die-hand vir hul kinders gesê het: ‘Moenie dat ek jou vang rook nie.

Theron beaam dis haas onmoontlik om kinders heeltemal van tegnologie af te sny. "Die probleem is, ons is die eerste generasie van wie daar verwag word om vir 'n volgende generasie iets te mentor waaraan ons self pas eers blootgestel is. En dikwels is ons self nie goed met die bestuur daarvan nie."

Hy lag. "Dis amper soos die pa's wat destyds sigaret-in-die-hand vir hul kinders gesê het: ‘Moenie dat ek jou vang rook nie.' Baie keer sê ouers vir hul kinders hulle is te veel op hul fone, maar die pa is self die heeltyd op sy foon, want hy bestuur sy besigheid op sy foon."

Die oplossing is dat ouers vir kinders moet leer hoe om van jongs af balans te hê, sê hy. "Leer van jongs af vir jou kind mindfulness: Om in die hede teenwoordig te wees. Jy kan dit die beste doen deur gereeld in die natuur te kom en die son op jou lyf te voel. Dis 'n manier om te unplug en om weer na jou eie bestaan en lewe terug te keer."

Blindes in die era van KI

Met my kind het ons geleer om die reëls op 'n witbord in die kombuis te skryf en hom kort-kort te waarsku wanneer sy tyd opraak. Ons beperk rekenaarspeletjies, YouTube en TV tot naweke en laat hom op weeksdae slegs toe om in die bad na 'n Amerikaanse stem te luister wat op Audible vir hom Rick Riordan-boeke voorlees.

Baie kinders en veral seuns met AGHS voel hulle het hul tribegevind as hulle saam met ander kan rekenaarspeletjies speel. Foto: iStock
Baie kinders en veral seuns met AGHS voel hulle het hul tribegevind as hulle saam met ander kan rekenaarspeletjies speel. Foto: iStock

Maar selfs dít is 'n konstante Kodesa waar dit voel asof ons gesin telkens in 'n virtuele draaikolk verdwaal omdat ons as ouers nie kan meeding teen alwetende algoritmes nie.

Ons voel soos blindes in 'n era van kunsmatige intelligensie, waar jy van voor af die roetekaart moet uitwerk.

Soos C.P. Snow reeds in 1971 in The New York Times geskryf het - lank voordat Suid-Afrikaners ooit sou besef tot hoe 'n mate die splinternuwe kassie in hul sitkamers elke aspek van hul bestaan sou deursyfer: "Technology . . . is a queer thing. It brings you great gifts with one hand, and it stabs you in the back with the other."

Anime versus TikTok

Nie alle tegnologie is gelyk nie - en as jy moet kies tussen strokiesverhale vir jou kind, kies Anime of Asiatiese prente bo Disney of Hollywood, sê die psigiater prof. Renata Schoeman.

"Dis minder geweld en minder verandering van skerms. Dis stadiger en met 'n duideliker storielyn. Daar is minder karakters, minder kleur en minder oorstimulasie.

"Op TikTok of YouTube of Facebook is dit dikwels kort video's van 60 sekondes. Hoe meer jy scroll, hoe meer sit jy jou dopamien-produksie onder druk, en hoe skadeliker vir jou brein," sê sy.

As dit by speletjies kom, verkies sy strategie-speletjies soos skaak bo "breindood-speletjies waar dit net daaroor gaan om iets dood te skiet".

Skerms kan egter ook 'n groot hulp wees vir kinders met AGHS omdat baie ook disleksie het - en dan kan gratis KI soos Grammarly of selfs 'n speltoetser baie help. Vir ouer kinders beveel Schoeman taakbestuurders aan en vir ouer volwassenes iets soos Focus.com, waar hulle 'n sogenaamde "accountability partner" kan kry wat hulle help motiveer.

Sy beveel egter aan dat elke huishouding baie duidelike reëls het oor skerms - byvoorbeeld geen fone aan tafel nie en geen digitale vermaak 'n uur voor bedtyd nie.

Sy lag. "Met my vierjarige het ek geleer die maklikste is om bloot die foon se battery te laat pap word. Hy het een van my ou foontjies met net 'n paar speletjies en Netflix-programme wat ek daarop afgelaai het. Die foon word egter net een keer 'n week op Sondae gelaai, en die arme foon het seker net vier ure battery-leeftyd. So as sy foon Donderdag dooi, dan is hy dood. . ."

'n Spons vir geweld?

Die probleem is nie noodwendig skerms opsig self nie - dis die wanbalans wat dit kan veroorsaak en die gebrek aan genuanseerde ontwikkeling, sê dr. Hugo Theron.

"Ons sien dié kinders wat te veel op skerms is, slaap nie goed nie, hulle oefen nie en hulle sosialiseer nie voldoende nie. Ons het ook gesien empatie het afgeneem sedert die eerste iPhone uitgekom het, terwyl die mensdom se empatie-vlakke voor dit min of meer konstant gebly het," sê hy.

"Ons is gebore met sagteware wat van nature ongelooflike fyn nuanses in gesigsuitdrukking en gedrag kan lees, maar dié sagteware bly slegs opgedateer as jy gereeld gesig tot gesig kontak het. Een van die newe-effekte van te veel skermtyd is dat die kuns van gesprekvoering en die rykheid van taal daaronder ly en albei hierdie dinge is uiters belangrik vir interpersoonlike verhoudings. Dit word vir jou moeiliker om werklik jouself in iemand anders se skoene te kan plaas of om moeilike gesprekke te hê."

As jou kind se kamer klink soos 'n bomskuiling omdat Hollywood en Roblox weet geweld is klikaas, moet jy weet dit het die potensiaal om jou kind se empatie te affekteer.

"Seuns het in die verlede cowboys and crooks gespeel, maar dit was verbeeldingspel," sê Theron. "Van hierdie rekenaarspeletjies is erger as gewelddadige flieks, want anders as 'n passiewe kyk na 'n film, is die kind of tiener wat eerste-persoon skiet-speletjies speel 'n aktiewe deelnemer. Ek probeer nie konserwatief wees nie, maar veral as jy 'n kind is, is jou brein 'n spons. As jy 'n spons in skoon water sit, gaan hy skoon dinge opsuig - so jy moet jouself afvra wat is die soort water wat jou kind se spons moet opsuig?"

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM