Salmaan Moerat se aanwysing as eerste Moslem-Bokkaptein is 'n waterskeiding, skryf Albert Heenop.

Die aanwysing van Salmaan Moerat verlede maand as die Springbokke se eerste Moslem-kaptein is uit vele oorde besing.
Tog is daar in sommige kringe ook kritiek uitgespreek oor die bohaai wat gemaak word spesifiek oor Moerat se geloof.
Die 26-jarige boorling van die Paarl se aanstelling as Bok-kaptein, teen sowel Portugal verlede maand as twee weke gelede teen Australië, is inderdaad geskiedkundig en laat opnuut die kollig val op geloof en sport, en hoe godsdiens, in 'n land so kultureel uiteenlopend soos Suid-Afrika, gehanteer en gerespekteer behoort te word binne die raamwerk van 'n nasionale sportspan soos die Springbokke.
Rugbyfamilie
Dit was 'n groot oomblik vir die Moerat-familie - en die Paarl se Moslem-gemeenskap - toe Salmaan op 20 Julie die Bokke in Bloemfontein teen Portugal op die veld gelei het.
Tien van Moerat se familielede het gedurende die apartheidsjare onder die vaandel van die destydse Suid-Afrikaanse Rugbyfederasie vir die Proteas rugby gespeel. Twee van sy ooms, Marwaan en Billy Moerat, was in 1971 deel van die eerste oorsese toer deur 'n Suid-Afrikaanse "kleurlingspan", onder leiding van wyle Dougie Dyers, in Engeland en Nederland.
"Salmaan se kapteinskap van die Bokke was voorwaar 'n grootse gebeurtenis vir ons as 'n familie," erken Zarier Moerat, sy oom en ook imam van die moskee in die Paarl. "Ons is 'n uitgebreide rugbyfamilie en van kleins af was rugby ál wat 'n mens om die etenstafel aangehoor het. My pa het rugby gespeel, sy pa het gespeel, en Salmaan se pa, Nazeem, het gespeel.
As 'n Moslem-gemeenskap in die Boland, waar almal vir almal ken, het ons bankvas agter hierdie ‘seun' van ons gestaan.
"As 'n laaitie het 'n mens opgekyk na die spelers, maar hulle was vanweë apartheid ontneem van die kans om moontlik vir die Bokke te speel. Derhalwe is Salmaan se prestasie vir ons as 'n gemeenskap iets besonders.
"Benewens dit is al die opoffering wat Salmaan moes maak, al die harde werk wat hy ingesit het om sy doelwit te bereik, merkwaardig. Dikwels wanneer ek douvoordag deur die stil strate van die Paarl gery het, het ek op Salmaan afgekom waar hy besig was om padwerk te doen. Dit is gewoonlik 'n uiters eensame reis om 'n mens se drome te verwesenlik.
"As 'n Moslem-gemeenskap in die Boland, waar almal vir almal ken, het ons bankvas agter hierdie ‘seun' van ons gestaan en hom ondersteun in die opgang wat hy van skool af regdeur die Westelike Provinsie se ouderdomsgroepe gemaak het tot by die Groen-en-goud."

Souties en Joodjies
Moerat as die eerste Moslem-kaptein van die Bokke is gewis nóg 'n aanduiding van die veranderende aangesig van 'n sport wat ná 1948 al hoe meer onder beheer van Afrikaners en meer spesifiek die Afrikaner-Broederbond gestaan het - soveel so dat 'n Engelse Bok-kaptein ná die Tweede Wêreldoorlog 'n taamlik rare verskynsel was.
Die voorbeeld van Tom Bedford, wat van 1963 tot 1971 in 25 toetse vir Suid-Afrika uitgedraf het en, in 1969, "noodgedwonge" ook drie keer moes instaan as Bok-kaptein (nadat Dawie de Villiers beseer is), is een van slegs 'n handvol uitsonderings.
"Ek is nie na die Springbok-proewe vir die 1970-reeks teen die All Blacks genooi nie," onthou Bedford. "Aan die media is bloot verkondig dat ek nie lank genoeg was om teen die agtsteman Brian Lochore in die lynstane mee te ding nie."
Natuurlik het die uitgesproke Bedford se teenstand teen apartheid nie gehelp nie.
"Die daaropvolgende jaar het ek uit die bloute 'n oproep van 'n hooggeplaaste amptenaar van die SA Rugbyraad ontvang. Hy het my gebel omdat sy gewete hom te veel gepla het. Hy het my hoogs vertroulik ingelig dat hy 'n lid van die Broederbond was en dat die naam Thomas Pleydell Bedford nie die profiel van 'n tipiese Afrikaner-Springbok, en verál kaptein, gepas het nie. Volgens dié amptenaar, wat gevra het dat ek nooit sy naam noem nie, was dit totaal onregverdig, en hy wou eenvoudig my waarsku dat my dae as Bok getel was . . ."
Die twee wedstryde wat hy in Junie 1971 teen Frankryk gespeel het, was inderdaad sy laaste in 'n Boktrui.
Daar was oor die afgelope bykans 100 jaar ook 10 Jode, die "Springbok Minyan (kworum)", wat Suid-Afrika met onderskeiding in toetsrugby verteenwoordig het - spelers soos Louis Babrow, Syd Nomis, Okey Geffin en Joel Stransky - maar steeds nog nooit 'n Joodse Bok-kaptein nie. (Die sêding dat die Springbokke altyd goed speel met 'n Jood in die span is nie net 'n ouvroustorie nie. Die Springbokke het die oorgrote meerderheid toere waarin daar 'n Joodse spanlid was, gewen.)
‘Every try for God'
Die Hoër Jongenskool Paarl, oftewel "Boishaai", het tot dusver 25 Springbokke, insluitende legendes soos Boy Louw, Mannetjies Roux en Carel du Plessis, opgelewer, maar Moerat is slegs dié gesogte rugbyskool se tweede Bok-kaptein ná Corné Krige.
"Salmaan se aanstelling as Bok-kaptein is 'n unieke prestasie, en baie spesiaal," meen Krige, wat in die vroeë 2000's in 18 toetse voor gedraf het vir Suid-Afrika. "Hy is een van daardie stil kapteins wat nie veel praat nie, maar deur sy voorbeeld lei, en hy is 'n baie goeie slot.
"Jy sien hom nie altyd raak nie, want hy's daar binne besig om al die harde werk te doen, en dit is wat 'n nr. 4-slot moet wees; hy moet dinge laat gebeur.
"Salmaan het sedert skooldae homself as 'n leier onderskei en verdien die geleentheid om homself op die hoogste vlak te bewys. Dit is merkwaardig dat hy die eerste Moslem is wat die eer te beurt val.
"Wêreldrugby bepaal dat rugby ‘a game for all shapes and sizes' is, en dit sluit alle gelowe in. Geloof het nog altyd 'n plek gehad in Suid-Afrikaanse rugby, van skolevlak af, maar dit is geweldig belangrik dat dit waarin elke speler glo gerespekteer word.
"Gedurende Boishaai se onoorwonne seisoen in 2015 was hul motto ‘ETFG': Every try for God. Salmaan het dit omarm. Hy het vir Allah gespeel, die Christene vir hul God en die ander gelowe vir hul gode. Dit is 'n uiters spesiale ding vir elke individu, solank dit net gerespekteer word."
'n Eerste trappie
Nóg 'n verstommende feit rakende Moerat se onlangse aanwysing as Bok-kaptein is dat hy en Corné Krige ook tot op hede die enigste SA Skole-kapteins is wat voortgegaan het om uiteindelik ook die Bokke aan te voer.
"Ek's nie seker of dit 'n kompliment vir my en Salmaan is of eerder 'n klad op die naam van SA Rugby dat hulle leiers ná skool nie effektief deur die stelsel kan bring nie.
"Dat so baie talent verlore raak is nié 'n goeie statistiek nie en dui beslis op 'n leemte ná skool."

Die voormalige Bok-breier Nick Mallett was 'n lid van die heel eerste SA Skolespan wat gekies is in 1974, en stem saam dat dit buitengewoon is dat SA Skole oor die afgelope 50 jaar slegs twee Bok-kapteins kon oplewer.
"Hoewel die SA Skolespan van 1974 heelwat hoogs talentvolle spelers bevat het, soos die kaptein, Bernard Pienaar, Agie Koch en Lee Barnard, was ek ironies genoeg die enigste lid van daardie betrokke span om 'n Bok te word," vertel Mallett.
"Dit was natuurlik midde-in die apartheidsera, met sportboikotte wat geleenthede om internasionaal mee te ding beperk het. Dit spreek nietemin boekdele oor die diepte van Suid-Afrikaanse rugby.
Hy het die respek van sy eweknieë verwerf en sy kapteinskap van die Bokke het glad nie as 'n skok gekom nie.
"Jong spelers moet eenvoudig besef dat SA Skole maar bloot die eerste trappie na die professionele verhoog is. Soveel ander spelers het nie eens hul onderskeie unies se Cravenweekspanne gehaal nie, maar is daarna, as gevolg van toewyding en harde werk, asook om op die regte tyd op die regte plek te wees, vir Suid-Afrika gekies.
"Sowel Salmaan as Corné is duidelik gebore met sterk leierseienskappe wat hulle in staat gestel het om 'n hoë spelpeil te handhaaf en voortdurend vir verteenwoordigende spanne gekies te word. Kapteinskap is nie iets wat aangeleer kan word nie. 'n Mens word daarmee gebore en in Salmaan se geval was dit 'n natuurlike progressie deur die verskillende ouderdomsgroepe.
"Hy het die respek van sy eweknieë verwerf en sy kapteinskap van die Bokke het glad nie as 'n skok gekom nie. Dat hy boonop die eerste Moslem is om Suid-Afrika op die rugbyveld aan te voer is nogmaals 'n wonderlike weerspieëling van die diversiteit in ons rugby, met soveel verskillende kulture en gelowe wat deelneem aan die spel en op die hoogste vlak presteer."
Bid in Arabies
Nizaam Carr, die Bulle se kaptein in vanjaar se Curriebeker-reeks, het 10 jaar gelede die eerste Moslem-speler geword om vir Suid-Afrika uit te draf toe hy sy toetsbuiging op 22 November 2014 teen Italië gemaak het.
Sy geloof was nog altyd van kardinale belang vir Carr (33) en hy glo dat iemand soos Moerat 'n ideale rolmodel is vir nie net Moslem-kinders nie, maar vir alle jong mense uit die voorheen agtergeblewe gemeenskappe in die land.
"Ouens soos Salmaan bied vir ons jeug hoop en iets om na te streef," meen Carr, wat van 2018 tot 2022 ook 75 wedstryde vir Wasps in Engeland gespeel het.
"Hoewel heelparty jong rugbyspelers steeds nie toegang het tot goeie afrigting of fasiliteite nie, kyk hulle op na iemand soos Salmaan en sê vir hulself: ‘As hy dit kan doen . . .'
"Daardie wilskrag en honger om sukses te behaal is massaal."
Wat geloof spesifiek betref, glo Carr dat wat dit ook is waarin die spelers glo altyd spesiaal is.
"In die meeste spanne is Christenskap die oorheersende geloof, maar wanneer die ouens vooraf bid, dan bid ek ook - in Arabies. Ek veronderstel dit is wat Salmaan ook doen.
"Persoonlik verkies ek 'n span wat vashou aan geloof. In spanverband moet elke individu se geloof gerespekteer word; dit moet nie 'n geval wees van die een is beter as die ander nie. Op die einde van die dag trek dit ons as 'n eenheid saam en gee dit ons die krag om na die beste van ons vermoëns te presteer. Ons glo in 'n hoër doel waarby elkeen inpas."

Die bekendste Moslem-speler in wêreldrugby is die voormalige All Black-senter Sonny Bill Williams, wat erken dat hy die reaksie van spanmaats moes hanteer nadat hy bekeer het tot Islam.
"Ek het 'n paar opregte gesprekke gehad met van die ouens wat Christene is," het Williams onthul in 'n onderhoud met New Zealand Herald 'n paar jaar gelede.
"My redenasie was altyd dat ek nie vir jou kan voorsê hoe om te voel nie - nes jy ook nie aan my kan voorskryf hoe om te voel nie. Uit 'n spanperspektief moet 'n mens eenstemmigheid bereik dat ons glo in 'n hoër doel waarby elkeen inpas.
"Dit is die belangrikste."
Williams se siening herinner aan die ikoniese lirieke van oorlede John Lennon se treffer "Imagine" (1971), wat, volgens die Beatle, handel oor die beeld van " 'n wêreld in vrede, met geen denominasie van geloof nie - nie sonder geloof nie, maar sonder die my God-is-groter-as-jou-God-tipe ding . . ."
Imagine there's no countries
It isn't hard to do
Nothing to kill or die for
And no religion, too
Imagine all the people
Livin' life in peace
You may say I'm a dreamer
But I'm not the only one
I hope someday you'll join us
And the world will be as one




















