Aktueel

Baanbreker en bemagtiger

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Teresa Conradie met haar twee kollegas, Crystal Maphalla (links) en Khumo Mokate (regs) vir wie sy ’n mentor was en wat nou die prokureursfirma Maphalla Mokate Conradie Inc. oorgeneem het.
Teresa Conradie met haar twee kollegas, Crystal Maphalla (links) en Khumo Mokate (regs) vir wie sy ’n mentor was en wat nou die prokureursfirma Maphalla Mokate Conradie Inc. oorgeneem het.

Woensdag kan Suid-Afrikaners vir die eerste keer vir onaf­hank­like kandidate stem. Agter die skerms het Teresa Conradie, 'n prokureur van Pretoria, 'n belangrike rol gespeel. Dennis Cruywagen het met haar gesels.

Teresa Conradie met haar twee kollegas, Crystal Maphalla (links) en Khumo Mokate (regs) vir wie sy 'n mentor was en wat nou die prokureursfirma Maphalla Mokate Conradie Inc. oorgeneem het.
Teresa Conradie met haar twee kollegas, Crystal Maphalla (links) en Khumo Mokate (regs) vir wie sy 'n mentor was en wat nou die prokureursfirma Maphalla Mokate Conradie Inc. oorgeneem het.

Met die eerste poging om hom te hang het die strop gebreek, maar die "tou" gemaak van gras het by die tweede poging gehou. Hiermee het die Britte op 26 Maart 1861 die lewe van kommandant Hans "Dons" de Lange, die legendariese Voortrekker-verkenner, in Ladysmith beëindig.

Dit het 'n einde gebring aan die lewe van 'n baanbreker-verkenner wat Natal vir die Voortrekkers oopgemaak het. Hy het 'n goeie vriend van koning Mpande geword wat Dingaan opgevolg het.

Op daardie noodlottige dag toe hy tereggestel is, het Mpande hom na die toneel gehaas met 1 000 Zoeloe-krygers om De Lange se lewe te probeer red. Dit was te laat, maar met sy dood is die bydrae van sy bloedlyn tot die geskiedenis nie beëindig nie.

Volgende week kan onafhank­like kandidate vir die eerste keer sedert 1994 in 'n nasionale ver­kie­sing staan.

Dit was 'n regstreekse afstammeling van Hans "Dons" de Lange­, die Pretoriase prokureur Teresa Conradie, wat as opdraggewende prokureur die stryd in die konstitusionele hof gelei het om dié mylpaal in Junie 2020 te verseker.

Die onafhanklikes wat op die stembrief sal verskyn, sal ook geskiedenismakers wees, danksy hierdie valkoog-prokureur, wat met die geduld, deursettingsvermoë en vaardigheid van 'n baanbreker-verkenner saam met haar kliënte leemtes in die Kieswet opgemerk en getakel het.

Namens die hoofaansoeker, die New Nation Movement (NNM) en Chantal Dawn Revell (daar was ook twee ander aansoekers, GRO en Indigenous First Nation Advocacy SA PBO) het die regspan aangevoer dat die Kieswet ongrondwetlik is omdat dit slegs lede van politieke partye toelaat om tot die Nasionale Vergadering of provinsiale wetgewers verkies te word.

Die glasplafon

Sy is lank, blond en imposant, 'n ma van twee wat ná matriek 'n skietinstrukteur was by die Suid-Afrikaanse Leërvrouekollege (Salvkol) in George.

In 'n onderhoud vertel sy van die kolskoot in die konstitusio­nele hof.

Conradie onthou dat die Wes-Kaapse hooggeregshof aanvanklik die NNM se aansoek - om die Kieswet ongeldig te verklaar omdat dit slegs die lede van politieke partye toelaat om tot die parlement en provinsiale wetgewers verkies te word - verwerp het.

Net voor die 2019-verkiesing het die NNM regstreekse toegang tot die konstitusionele hof aangevra.

"In 1994 was daar nie 'n kieserslys nie. Ons het almal met ons ID-boekies gaan stem. Die Kieswet was bedoel om daardie chaos in orde te omskep. Ons Kieswet was nooit bedoel om 30 jaar lank die Kieswet te wees nie. Dis hoofsaaklik gegrond op 'n proporsionele stelsel en dit het die regerende party soos 'n handskoen gepas," vertel sy.

Die ANC se onwilligheid om die demokratiese landskap oop te maak het dit onvermydelik gemaak dat die konstitusionele hof die rigting oor dié kardinale saak sou aandui.

Die uitslag was 'n oorwinning vir die mense van Suid-Afrika: Op 11 Junie 2020 het die hoogste hof die Kieswet ongrondwetlik verklaar in 'n belangrike pro-demokratiese bevinding.

Vier jaar later is Conradie steeds in verwondering oor daardie oordeel wat die toedeurbeleid beëindig het om die politieke landskap vir onafhanklike kan­didate te ontsluit.

"Ons sien vir die eerste keer onafhanklike kandidate wat na vore kom om te staan vir die Nasionale Vergadering en provin­siale wetgewers. Dis 'n geweldige groot skuif."

As 'n voormalige lid van die Universiteit van Pretoria se studenteraad in die 1980's het hierdie baanbreker 'n indrukwekkende prestasielys van swart bemagtiging om die onreg van die verlede reg te stel, nog lank voor dit wet geword het.

Conradie het een van Suid-Afrika se eerste multikulturele regsfirmas in Pretoria in 1997 gestig, 'n skuif wat haar voor die kurwe in die jong demokrasie geplaas het.

Op haar pad om die koers van die geskiedenis te verander, moes sy sommige harde lesse leer. Haar aktivisme as student het haar ingehaal toe sy ná haar regstudies aansoek doen om 'n pos in die lugmag se regsafdeling.

'n Skynbaar geheime keuringsproses was in werking en het duidelik gevind dat sy nie in diens geneem kon word nie as gevolg van haar aktivisme op kampus.

Sy het in die private sektor gaan werk, waar sy voortdurend oor die hoof gesien is vir bevordering ten gunste van wit mans wat dikwels nie so akademies gekwalifiseerd soos sy was nie.

"Ek het die glasplafon getref. In 1997 kon ek nie verder vir myself 'n toekoms in 'n wit regsfirma sien nie. Dit het my emosioneel en geestelik begin beïnvloed.

"Ek het met twee swart vriende gepraat wat gefrustreerd was omdat hulle bloot as token-aanstellings behandel is. Ons het by ons onderskeie firmas bedank en in 1997 het ons een van Suid-Afrika se heel eerste multi-kulturele regsfirmas, Motla Conradie Inc., begin."

Ware bemagtiging

Sy glo passievol aan en beoefen ware en transformerende swart bemagtiging.

"In Pretoria het ek en my man, Deon, Queen Mphahlelea, 'n Pedi-vrou, as huishulp en kinderoppasser geërf. Sy kon nie Afrikaans of Engels praat nie. Sy het gevra om saam met ons biblioteek toe te gaan, sy't aangesluit, en begin deur kinderboekies uit te neem en vir ons twee kinders te lees."

Dit was die begin van Mphahlelea se bemagtiging.

"In 2000 het ons liasseerklerk by die firma met kraamverlof gegaan­. Ek kry toe die wilde idee om Queen vir haar te laat instaan. Sy was so goed dat ons haar permanent aangestel het.

"Queen het verlede jaar afgetree as 'n senior sekretaresse.

"Ek glo wanneer jy 'n man bemagtig, bemagtig jy net die man, maar wanneer jy 'n vrou bemagtig, dan bemagtig jy haar gesin en haar gemeenskap."

Baie Suid-Afrikaners, het sy gesê­, kritiseer verkeerdelik die Grondwet oor regstellende aksie.

"Ons het regtig 'n goeie Grondwet. Ek dink die filosofie van die Grondwet is om die beste vir alle Suid-Afrikaners te wil hê.

"Dis nie die Grondwet wat ons in die steek laat nie. Dis so jammer dat die regering deur die jare hof toe geneem moes word om te baklei oor die goed wat die Grondwet bepaal.

"Die manier waarop swart bemag­tiging geïmplementeer is, is byvoorbeeld geweldig skeef­getrek om 'n uitgesoekte paar mense finan­sieel te bevorder.

"Die meganisme van black empowerment het totaal misluk. Swart bemagtiging lê na my mening nie in vergoeding in die eerste plek nie maar in opleiding."

Haar loopbaankeuse kom uit die dae toe sy as 'n ordonnans in militêre verhore gedien het. Sy het verlief geraak op die reg en het afgesien van planne om ap­tekerswese te gaan studeer.

Toe sy in die vroeë 1980's by Tukkies aankom, is die studentepolitiek geskud deur die onrus in Afrikaner-politiek.

Die Transvaalse leier van die Nasionale Party (NP), die verkrampte dr. Andries Treurnicht, en sy bondgenote soos dr. Ferdi Hartzenberg het die NP verlaat om die Konserwatiewe Party (KP) te vorm. Die skeuring in die NP het gesinne uitmekaar geskeur, vriendskappe verbreek en studente op Afrikaanse universiteitskampusse oor Suid-Afrika heen verdeel.

"In die koshuis was iemand wat KP toe gegaan het, vandag nog jou vriend maar môre nie meer nie. Hoewel apartheid die Suid-Afrikaanse samelewing in verskillende rassegroepe verdeel het, kon die onrus op die kampus van Tukkies nie in isolasie gesien word nie. Inteendeel, dit was deel van 'n wind van ontevredenheid wat oor die land gewaai het."

In die arena buite die parlement het die anti-apartheids­beweging al hoe meer momentum gekry en die United Democratic Front (UDF) is gestig om die regering se planne vir 'n driekamerparlement op rassegrondslag teen te staan.

Dit was toe. Vandag is daardie regime weg. In sy plek is 'n de­mokratiese bestel wat worstel met sy identiteit en begrip van demo­krasie.

Beginselvas

Conradie is 'n regsgeleerde wat meewerk om die Suid-Afrikaanse demokrasie te definieer. Oor die jare heen het die eerste regsfirma waarvan sy 'n stigtingslid was, gegroei tot die regsfirma Maphalla Mokate Conradie Inc., wat volledig deur vroue gelei word.

Intussen het sy teruggetree van die regsfirma, om president en uitvoerende hoof van Advo­cates International te word, waarvan die basis in Washington is.

Sy bly aan as konsultant by Ma­phalla Mokate Conradie Inc., maar het die firma oorhandig aan twee swart vroue, prokureurs vir wie sy 'n mentor en moederfiguur was.

Tussen 2003 en 2020 het sy tussen­tyds as waarnemende regter gedien, maar dié loopbaanskuif het die moontlikheid uitgesluit om 'n regter te word met 'n lewenslange salaris en ander voordele.

"Ek sal dit nooit as vanself­sprekend aanvaar dat ek wel uiteindelik as regter aangestel sou gewees het nie. Ek het 'n diep gesprek met my vennote, met Deon en met myself gehad.

"Advocates International is 'n netwerk van Christen-regsgeleerdes in 142 lande. Ek's al 'n kwarteeu by die organisasie betrokke. Toe ek die uitvoerende hoof word, is ek gekonfronteer met die werklikheid dat ek geld moes insamel om my eie salaris te dek.

"So finansieel het ek seker nie die beste besluit geneem nie.

"Dit is egter nie die belangrikste faktor nie: Advocates International is intens betrokke by baie belangrike kwessies waaroor ek passievol is, soos godsdiensvryheid vir almal, geregtigheid vir die armes, vrede en rekonsiliasie, en die oppergesag van die reg."

Met haar De Lange-gene om haar te lei, is dié beginsels waarvoor sy sal aanhou veg.

Foto:
Foto:
  • Cruywagen is die skrywer van Brothers in War and Peace en The Spiritual Mandela, en tweemalige beurshouer aan die Harvard-Universiteit.
Dennis Cruywagen

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM