Aktueel

Bloedige stryd om ’n klooster

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Vandag is die 80ste herdenking van die Slag van Monte Cassino, waarin dié geskiedkundige klooster tydens die Tweede Wêreldoorlog in puin gelê is. Gustav Hendrich skryf oor Suid-Afrikaanse soldate se rol daarin.

Dit was die "bloedigste slag van die Italiaanse veldtog". So het Amerika se genl. Mark W. Clark gevegte rondom die Benediktynerklooster van Monte Cassino in Italië tydens die Tweede Wêreldoorlog beskryf. Geallieerde magte het vermoed die klooster, op die hoogste bergpiek suid van Rome, is deur Duitse soldate as 'n militêre vesting gebruik.

Clark het agterna die Geallieerdes se omstrede besluit om die klooster in 'n lugbombardement in puin te lê as 'n "tragiese fout" beskryf. Die gevegte teen die hange van Monte Cassino is later as een van die groot tragedies van die oorlog bestempel.

Die gebeure het tussen Januarie en Mei 1944 afgespeel en Suid-Afrikaanse soldate wat aan die kant van die Geallieerdes geveg het, het 'n belangrik rol hierin vertolk. Volgens John Pimlott, 'n Britse historikus, het dié genadelose veldslag wat vyf maande geduur het soldate van verskeie nasionaliteite betrek wat "oor die ergste terrein wat jy jou kan indink en vir die grootste deel in miserabele winterweer" geveg het. Pimlott meen "die veldslag was 'n nagmerrie, die soort wat jy eintlik verbind met die loopgrawe van die Eerste Wêreldoorlog".

Vir die Geallieerdes het Churchill se "sagte buik" vinnig die "taai ou derm" van Italië geword.

‘Sagte buik'

Die Slag van Monte Cassino is voorafgegaan deur gevegte in die woestyn in Noord-Afrika en die oorgawe van die Duitse Afrika-korps onder die legendariese veldmaarskalk Erwin Rommel in 1943 in Tunisië. Daarna was Winston Churchill, Britse eerste minister, oortuig dat 'n opmars van Geallieerde magte deur "die sagte buik van die krokodil" - synde Italië - die oorlog kon verkort.

Met die amfibiese landings van Amerikaanse en Britse soldate in Sisilië en op Italiaanse grondgebied by Salerno, het dit gelyk asof Churchill se teorie drakrag gehad het.

In hierdie omstandighede het die Italiaanse diktator, Benito Mussolini, ter elfder ure deur 'n Duitse reddingsvlug na Adolf Hitler ontsnap. Onder gewone Italianers het die voortsetting van die oorlog so sinneloos gelyk dat die regering besluit het hul militêre magte moet onvoorwaardelik oorgee.

Bykans onmiddellik daarna is Duitse versterkings na Italië gestuur en onder die ervare bevelvoering van veldmaarskalk Albert Kesselring is 'n verdedigingslyn georganiseer. Hitler se opdrag was om die Geallieerdes se opmars na Rome in die bergreekse van Cassino te stuit.

Die Geallieerdes se aanvalstaktiek was tweeledig, met 'n Amerikaanse amfibiese landing aan die strand van Anzio en die res van die magte onder die aanvoering van die Britse genl. Bernard Montgomery en genl. George S. Patton van Amerika. Die plan was om die Duitsers te omsingel en hulle teen die berge vas te keer.

Ná die landing te Anzio op 22 Januarie 1944 is die Amerikaners deur 'n Duitse verrassingsaanval van elite-valskermtroepe 'n swaar nekslag toegedien, hoewel die Amerikaners steeds verbete aan hul stellings vasgeklou het.

Intussen het die stryd om Cassino in alle erns begin in wat uiteindelik vier afsonderlike veldslae sou wees.

Die groot gros van Geallieerde magte, onder wie Franse Marokkane, Algeryne, Indiërs, Nieu-Seelanders, Kanadese, Pole en Suid-Afrikaners, het onder die vaandel van die Britse bevelvoering direk teen die Duitse verdedigings by Cassino opgeruk. Die eerste Geallieerde aanslag op Cassino was ongekoördineerd en het misluk, maar Amerikaanse soldate kon wel slaag om 'n vastrapplek teen die hange van die berggebied te verkry. Vir die Geallieerdes het Churchill se "sagte buik" vinnig die "taai ou derm" van Italië geword.

So het die Monte Cassino-klooster gelyk nadat dit in Tweede Wêreldoorlog deur die Geallieerdes in puin gelê is.  Foto: Wikimedia Commons
So het die Monte Cassino-klooster gelyk nadat dit in Tweede Wêreldoorlog deur die Geallieerdes in puin gelê is. Foto: Wikimedia Commons

Klooster in puin

Monte Cassino, 'n majestueuse klooster wat in 529 opgerig en deur die eeue as Katolieke plek van aanbidding en pelgrimstogte gedien het, is oor die jare beskadig in ander veldslae en deels deur 'n aardbewing vernietig. Maar dit sou uiteindelik een van die mees intense veldslae van die Tweede Wêreldoorlog wees wat sy einde sou beteken.

Weens 'n gerug dat die Duitse soldate die klooster as hoofkwartier gebruik, het die Geallieerdes besluit om die klooster in 'n lugbombardement aan te val. Dis nou ondanks gerusstellings van albei kante aan die Vatikaan dat die klooster onaangeraak sou bly.

'n Dag voor die aanval is pamflette bo die klooster gestrooi om mense te versoek om die gebou te verlaat, maar talle het nie aan die waarskuwing gehoor gegee nie.

Op 15 Februarie 1944 het die Geallieerde bomwerpers 1 400 ton bomme op die klooster laat val. Sowat 250 mense is dood en die terrein is in 'n puinhoop omskep. Die smeulende ruïnes het die ideale skuilplek vir die Duitsers gebied, wat hulle met MG 42-masjiengewere en artillerie in die gebied ingegrawe het.

Clark het erken dat die aanval op die klooster 'n fout was wat die Geallieerdes se taak net verder bemoeilik het en hulle uiteindelik duur te staan sou kom.

Tydens die tweede veldslag is 'n aanval deur die Nieu-Seelandse en Indiese magte afgeweer, waarna die Geallieerdes besluit het om ook die dorp Cassino te bombardeer. Op 15 Maart is die dorp feitlik platgevee in 'n lugaanval.

Pimlott het beskryf hoe tenks en voetsoldate daarna teen die hange van Monte Cassino opbeweeg het. Met die aanskou van die vallei onder hulle, was daar minder as niks. " . . . dit was 'n landskap vol kraters soos die oppervlak van die maan, met stof wat dik in die lug gehang het en in die manne se neuse en kele gaan sit het". 'n Selfs groter verrassing was dat Duitse soldate steeds baie veggees in hulle gehad het en hardkoppig geveg het oor elke hopie rommel wat eens 'n huis was."

Met die derde veldslag is 'n dooiepunt bereik toe die Duitse soldate daarin kon slaag om die Geallieerdes terug te dryf, hoewel laasgenoemde 'n paar sleutelposisies kon verower.

Suid-Afrikaanse soldate bou aan hoofweg 6 - 'n belangrike toegangsroete tot Rome wat ernstig beskadig is in die Slag van Monte Cassino.  Foto: Reader's Digest
Suid-Afrikaanse soldate bou aan hoofweg 6 - 'n belangrike toegangsroete tot Rome wat ernstig beskadig is in die Slag van Monte Cassino. Foto: Reader's Digest

Suid-Afrikaanse vasberadenheid

Teen April 1944 is die 6de Suid-Afrikaanse pantser-divisie saam met brig. Bobby Palmer se 12de Suid-Afrikaanse brigade aangewys om stelling in te neem saam met 'n groep soldate van Nieu-Seeland. Hulle is verder ondersteun deur berede soldate van Kimberley.

Die Suid-Afrikaanse ingenieurskorps, onder leiding van lt.kol. Jack Scott het 'n kerntaak verrig met allerlei herstelwerk en die skoonmaak van mynvelde. Saam met hulle was nóg Suid-Afrikaanse soldate, onder meer van die destydse Royal Natal Carbineers, die Cape Highlanders, die Witwatersrand/De la Rey-rifles regliment, en die Royal Durban Light Infantry.

"Ná lang maande in die oop woestyn was dit 'n onheilspellende ervaring om reg onder die vyand se neus te patrolleer, in so 'n ruwe terrein, waar die kleinste beweging in daglig 'n stortvloed van mortierbomme of masjiengeweerkoeëls ontlok het," het die Suid-Afrikaanse soldaat Neil Orpen later vertel.

Op 11 Mei het Suid-Afrikaanse artillerie-soldate met 'n massiewe bombardement teen die klooster se heuwel losgebrand - een van die skouspelagtigste van die oorlog.

Omdat paaie en hoofweë besaai was met diep kraters het die Suid-Afrikaners ingespring om hoofweg 6 - 'n belangrike roete in die veldslag - oop te stel. Scott het die soldate onder sy bevel in taakmagte opgebreek om herstelwerk te doen en die pad te herbou. Die taak was lewensgevaarlik, want onder die puin het landmyne en foptoestelle geskuil.

Onder aanhoudende geweervuur en grofgeskut het die Suid-Afrikaners hul taak voltooi en onder meer Bailey-brûe gebou waaroor die Geallieerde tenks kon beweeg.

Met 'n oorwig van drie Geallieerdes vir elke Duitse soldaat is die bordjies verhang.

'n Poolse oorwinning

In die vierde en finale veldslag het die Geallieerdes 'n fnuiktaktiek gebruik om die Duitsers onder die indruk te bring dat 'n verdere amfibiese landing beplan word. Die Duitsers het hierop hul magte by Cassino uitgedun om die kuslyn te bewaak.

Met 'n oorwig van drie Geallieerdes vir elke Duitse soldaat is die bordjies verhang. Die Poolse magte, onder aanvoering van lt.genl. Wladyslaw Anders, het die aanval teen die hange geloods. Dit was 'n ontsettende geveg waarin soldate selfs handgemeen geraak het. Meer as 3 000 Poolse soldate het gesterf, maar op 18 Mei om 10:30 is die Poolse vlag triomfantlik op die kruin van Monte Cassino tussen ruïnes gehys.

Vir die Poolse soldate was dit 'n simboliese oorwinning. Nadat die Russiese leier Joseph Stalin vroeër sy bande met die Poolse regering verbreek het, het hy Pole daarvan beskuldig dat hulle nie teen die Duitsers wou veg nie. Poolse soldate het die oorwinning by Monte Cassino agterna 'n "geskenk aan Pole" genoem.

Ná die Duitsers se nederlaag het Kesselring sy soldate beveel om terug te val. Hy het Rome vry verklaar en sy magte noord van die stad gekonsolideer. Die Suid-Afrikaanse soldate kon daarin slaag om hoofweg 6 suksesvol te herstel en op 4 Junie 1944 het die Amerikaanse soldate onder Clark se aanvoering Rome binnegegaan. Hulle is deur jubelende Italiaanse skares ontvang - uiteindelik bevry ná jare van Fascisme en Nazi-heerskappy.

Twee dae daarna, op 6 Junie 1944, sou die aandag van die Geallieerdes na die strande van Normandië in Frankryk verskuif. D-Dag het aangebreek en die Italiaanse veldtog is binne dae tot 'n bysaak gereduseer.

Die Monte Cassino-klooster in die suide van Italië. Dit is ná die oorlog in volle glorie herstel en is steeds 'n gewilde besienswaardigheid.  Foto: iStock
Die Monte Cassino-klooster in die suide van Italië. Dit is ná die oorlog in volle glorie herstel en is steeds 'n gewilde besienswaardigheid. Foto: iStock

Nabetragting

Die Slag van Monte Cassino word in militêre kringe as 'n Pyrrhus-oorwinning beskryf - genoem na Pyrrhus, koning van Epirus. Dit beskryf 'n sege waarvan die lewensverlies vir die oorwinnaar so erg is, dat dit meer soos 'n nederlaag voel.

Die Geallieerdes het die veldslag gewen, maar nagenoeg 55 000 van hulle het in die Slag van Monte Cassino omgekom. Aan Duitse kant was daar sowat 20 000 sterftes en 2 100 burgerlikes van die dorp Cassino het hul lewe verloor.

Met die herdenking van die veldslag van agt dekades gelede, bly die omstrede kwessie vandag nog die besluit om die klooster te bombardeer.

Nando Tasciotti, Italiaanse skrywer van Monte Cassino 1944 - Who was to blame, het dokumente ontdek waaruit blyk dat die klooster dalk gered kon word, was dit nie vir die stilswye van die Vatikaan nie. Daar is ook bespiegelinge dat Hitler die klooster opsetlik wou laat vernietig om sy verdedigingslinie te versterk.

In die naoorlogse jare is die klooster tot sy voormalige glorie herbou en vandag nog is dit 'n gewilde trekpleister vir toeriste.

• Hendrich is 'n argivaris van Kaapstad.

Gustav Hendrich

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM