Dit is Saterdag presies 50 jaar sedert die onoorwinlike Leeu-span van 1974 die Bokke in die eerste toets op Nuweland met 12-3 geklop het, skryf Albert Heenop.

Daar is talle redes waarom die Britse en Ierse Leeus van 1974 in die geskiedenisboeke aangeteken word as die suksesvolste rugbyspan tot nog toe - dalk selfs in enige sport.
Die statistieke vertel hul eie verhaal: 21 oorwinnings uit 21 wedstryd met die 22ste - die laaste toets teen die Bokke op Ellis Park - gelykop. Maar nie voordat hulle die Springbokke in die tweede toets op Loftus met 9-28 vermorsel het nie - die Bokke se grootste nederlaag teen die Leeus tot nog toe. In die 2009-reeks het die Leeus ook met 9-28 in die eerste toets geseëvier, maar in daardie wedstryd het die besoekers net drie drieë gedruk teenoor die vyf in die 1974-toer toe 'n drie net drie punte werd was.
'n Reus onder reuse
Rugby het net enkele régte groot name, reuse in sowel die letterlike as figuurlike sin van die woord. Vir die All Blacks was dit Colin "Pinetree" Meads. Die Bokke het vir Frik du Preez gehad. Vir die Leeus was dit Willie-John McBride, kaptein van die Onoorwinlikes.
In skrille kontras met die roem wat hy op die rugbyveld sou verwerf, het William James McBride 'n uiters beskeie opvoeding gehad. Hy het sy jeug deurgebring op 'n familieplaas, waar hy moes uithelp ná die afsterwe van sy pa toe hy maar vier jaar oud was.
Sy ma, Irene, is agtergelaat om vier kinders alleen groot te maak.
"Sy was 'n formidabele vrou," het McBride die afgelope week aan Rapport vertel.
"Sy was 'n uitstekende organiseerder en dus het ons kinders elkeen daaglikse take gehad om te verrig."
Sy verantwoordelikhede op die plaas het beteken dat hy eers op 17-jarige ouderdom begin rugby speel het.
"Ek kon nie smiddae ná skool agterbly om rugby te oefen nie; ons moes werk op die plaas. Namate dinge effens makliker geraak en ons uiteindelik 'n trekker aangeskaf het, het ons LO-onderwyser, Trevor Finney, voorgestel dat ek aan paalspring begin deelneem waarin ek redelike sukses behaal het."
Kort voor lank was die plaaslike rugbyspan 'n speler kort en het die lang, maer boerklong nadergetrek - 'n gelukkige toeval wat sy lewe sou verander.
"Frik was nog 'n groentjie en ietwat van 'n enigma.
Skaars vier jaar later, op 10 Februarie 1962, het hy sy internasionale buiging vir Ierland teen Engeland op Twickenham gemaak. Hoewel sy eerste drie toetse vir die Iere aan die verloorkant was, het hy daardie selfde jaar die Leeus se toerspan na Suid-Afrika gehaal.
" 'n Week voor die derde toets het ons teen Transvaal op Ellispark te staan gekom. My slotmaat, Bill Mulcahy, ook 'n Ier, het my eenkant toe geroep en gesê: ‘Jy speel vandag teen die Springbok-slot Avril Malan. As jy goed vaar teen hom, is die kanse goed dat jy die toetsspan vir Saterdag kan haal.' "
Die Leeus het die wedstryd teen Transvaal met 24-3 gewen en McBride het toe inderdaad die toetsspan gehaal vir 'n toets op Nuweland waar hy die Bok-slotpaar, Frik du Preez en die strydros en kaptein Johan Claassen, die stryd moes aansê.
"Frik was nog 'n groentjie en ietwat van 'n enigma. Hy kon flank en slot speel, het die hele veld vol gehardloop en het ook twee strafdoele en twee doelskoppe deur die pale gejaag."
Die Leeus het uiteindelik die reeks met 0-3 verloor en McBride sou eers in 1965 sy eerste smakie van sukses teen Suid-Afrika smaak toe Ierland Avril Malan se Bokke 9-6 in Dublin getroef het.
"Ek weet nie wie was meer geskok nie, die Bokke of ons!" lag McBride.
In 1968 het hy teruggekeer na Suid-Afrika, waar die Leeus wéér met die kous oor die kop huis toe gestuur is met 'n Bok-sege van drie oorwinnings in vier toetse. Die eerste in Port Elizabeth was gelykop.
Dit was op hierdie toer dat die Leeus van die veld af 'n reputasie begin verwerf het as kuiergatte van formaat wat dikwels 'n spoor van verwoesting agtergelaat het in die hotelle waar hulle oorgebly het. McBride was een van die voorbokke.
"Ons het hard gewerk, hard geoefen; ons beste gegee, maar terselfdertyd ook hope pret gehad," erken hy.
"Ons het inderdaad heelwat kattekwaad aangevang, en dis beslis iets wat deesdae, in die professionele era, nie geduld sal word nie."
In 1971 het die Leeus weer 'n toer na Nieu-Seeland onderneem. McBride, toe reeds 31, wou by die huis bly, maar die afrigter Carwyn James het hom omgepraat en die span het die reeks teen die All Blacks gewen, die eerste Leeu-span ooit om dit te vermag.

Sy Everest
In sommige kringe is McBride, wat in 1974 34 geword het, reeds as oor die muur beskou, maar hy is nietemin as kaptein vir daardie jaar se Leeu-toer na Suid-Afrika aangewys.
"Die '74-Leeus was my Everest, die toppunt van my loopbaan. Ons het nooit in ons wildste drome verwag om so oortuigend te seëvier nie; ons het bloot gemik daarvoor om die reeks wen.
"En ons het bitter hard gewerk daarvoor. Die ouens het kliphard geoefen, wat ook onnodige beserings voorkom het."
Ten spyte van 'n ontsaglike pak voorspelers was die eerste skrum in die eerste toets op Nuweland steeds 'n groot uitdaging.
"Ons het hulle teruggestoot. Dit het die skare verbysterd gelaat; hulle het nog nooit voorheen die Bokke in trurat gesien nie."
Die voorry, bestaande uit Fran Cotton, Bobby Windsor en Ian "Mighty Mouse" McLauchlan, was nie net ongelooflik sterk nie, maar tegnies ook uitmuntend.
Hy sê hulle oorwinning van 12-3 in daardie toets was belangrik omdat dit Suid-Afrika sou dwing om te probeer inhaal.
Die tweede toets op Loftus was 'n slagting. "Ons agterlyn, met Gareth Edwards (skrumskakel), Phil Bennett (losskakel) en J.P.R. Williams (heelagter) wat die ruggraat gevorm het, het tot hul reg gekom in Pretoria en hulself as supersterre onderskei," sê McBride.
Ná die rekordloesing het die Bok-keurders, wat toe reeds agt veranderinge aangebring het, heeltemal paniekbevange geraak.
"Hulle het altesaam 33 spelers in die vier toetse gebruik, wat beteken het dat die span nooit kon vestig nie."
Die 99
Die '74-Leeus het ook nie teruggestaan wanneer dit by appels swaai gekom het nie, met hul berugte 99-kreet - waartydens elkeen van die 15 spelers op die veld opgeroep is om te kom help - nou al deel van rugby-legende.
McBride onthou: "Die (Suid-Afrikaanse) beamptes het dikwels ongerymdhede van die bal af deur die vingers gesien. Dit het my genoop om by geleentheid aan die skeidsregter te sê as hy nie iets daaraan doen nie, gaan ons dinge self uitstryk.
"Die hele kwessie rondom die 99-kreet was egter ietwat van 'n mite. Ons het dit miskien een of twee keer geroep; daar was 'n paar insidente. Ons hoofdoel was egter om rugby te speel, maar daar is met ons gesukkel, ons is getrap en geskop, en ons kon dit bloot nie meer duld nie."

En rugby het hulle inderdaad gespeel.
Daarvan getuig die Leeus-rekords wat hulle opgestapel het en tot vandag toe staan. Die 79 punte wat hulle teen die Bokke aangeteken het, is die meeste in 'n toetsreeks. Die 10 drieë wat hulle in die toetsreeks gedruk het, is 'n gesamentlike rekord met die Leeus van 1904 en 1955.
Die vleuel JJ Williams is saam met Willie Llewellyn (1904) die enigste Leeu wat vier drieë in 'n toetsreeks kon behaal.
Jy moet vorentoe kyk
Van Morné du Plessis het wyle dr. Danie Craven gesê: "Sowaar, beter kan 'n mens nie kry nie. Sy voorbeeld, sy leierskap het hom verewig as een van die grotes."
Du Plessis se loopbaan was nie slegs maanskyn en rose nie. Sy vakleerlingskap moes hy doen in daardie einste 1974-reeks waar hy agtsteman en flank gespeel het in die eerste twee toetse voordat hy - soos bykans 20 ander Bokke in daardie reeks - die trekpas gekry het.
Du Plessis, die seun van die Bok-kaptein Felix du Plessis, was maar 12 jaar oud en 'n leerling aan Grey Kollege in Bloemfontein toe McBride in 1962 die eerste keer met Arthur Smith se Leeus in die Republiek kom toer het.
"Die agtsteman Mike Campbell-Lamerton en 'n paar van die ander Leeus het vir ons leerlinge tydens 'n saalbyeenkoms kom toespreek op die vooraand van die laaste toets in die Vrystaat-stadion," onthou Du Plessis (74).
"Daardie besoek het 'n geweldige indruk op ons as jong latte gemaak. En natuurlik ook Mannetjies Roux se twee skitterende drieë in die Bokke se wegholoorwinning van 34-14 daardie Saterdag."
Toe die 1974-span, gelaai met legendes soos Gareth Edwards, J.P.R. Williams en natuurlik McBride, hier kom toer, was daardie glorieryke dag lank reeds vergete.
"Weens toenemende sportisolasie het ons al hoe minder toetsrugby gespeel. Dus kon 'n mens seker verwag het dat ons sou sukkel," onthou Du Plessis.
Tog het die Westelike Provinsie, onder Du Plessis se kapteinskap, uiters goeie rekenskap van hulself gegee. Alhoewel die Leeus die wedstryd 17-8 beklink het, was die drieë-telling 'n skaflike 2-2, met WP se blondekop-vleuel wyle Alan Read wat 'n tweekuns behaal het.

Die Bokke, met sewe WP-spelers in hul midde, het die volgende Saterdag belowend afgeskop op 'n sopnat Nuweland. McBride en kie het egter stelselmatig beheer voorlangs oorgeneem en Du Plessis en sy medelosvoorspelers, die legendariese Jan Ellis en Jan "Boland" Coetzee, gedwing om meer vas te speel.
Die Bokke het uiteindelik met 12-3 verloor sonder dat enige span oor die doellyn is.
Toe raak die Bok-keurders heeltemal die kluts kwyt. Du Plessis, wat op Nuweland agtsteman gespeel het, skuif flank toe in die plek van Jan Boland.
"Ek kon nie kla nadat ek my plek verloor het ná die tweede toets nie, want ek weet dat ek nie goed gespeel het nie."
Hulle het rugby na 'n totaal nuwe vlak geneem en was hul tyd ver vooruit.
Die onophoudelike veranderinge (Ellis was byvoorbeeld die enigste losvoorspeler wat in al vier toetse gespeel het) het die span verhoed om hulself ooit as eenheid te vestig.
"Op die einde van die dag sou dit waarskynlik nie 'n verskil gemaak het watter span die keurders ook al gekies het nie, ons sou steeds klippe gekou het. Die '74-Leeus was 'n formidabele span.
"McBride se menslikheid, sy leierskap as kaptein, was op 'n myl sigbaar. Hy was, en is steeds, 'n uiters inspirerende man. Boonop het die Leeus oor spelers van wêreldklas in bykans elke posisie beskik.
"Hulle het rugby na 'n totaal nuwe vlak geneem en was hul tyd ver vooruit. Hul skouspelagtige vertoning in die tweede toets was verál ongelooflik, en die vyf drieë wat hulle teen ons gedruk het uit die boonste rakke.
"Ons as 'n trotse rugbynasie was verneder. Die harde werklikheid was dat ons nie meer so magtig soos in die verlede was nie. Dit was 'n aaklige ervaring, maar 'n mens kan nie die tyd terugdraai nie; jy moet eenvoudig vorentoe kyk."
Gelukkig kon die Bokke teen die einde van 1974 tydens 'n kort toer na Frankryk met 'n regrukpoging begin.
"Om saam te toer, en op 'n weeklikse basis gereeld saam te kon speel, het wondere verrig vir ons spangees en selfvertroue."
Soveel so dat toe 1980 aanbreek Suid-Afrika reeds gespog het met reeksoorwinnings oor Frankryk (1974-75), die All Blacks (1976) en 'n Wêreld-15-tal (1977) onder leiding van die einste McBride.
Volgens Du Plessis was wraak egter nie voorop in sy gedagtes toe Bill Beaumont en sy Leeu-trop in 1980 hier aangeland het nie.
"Uit die aard van die saak het die treurmare van 1974 in 'n mens se agterkop bly draal. Ons eerste doelwit was egter slegs om die eerste toets te probeer wen. Daarna die tweede, ensovoorts.
"Wanneer 'n mens fokus op negatiewe motivering, kan dit teen jou werk. Jy moet fokus op die positiewe. Ons wou die toetsreeks wen en ons wou drieë druk; ons wou aantreklike rugby speel."
Die Bokke het in 1980 inderdaad met sprankelende hardlooprugby geseëvier, en hoewel die tellings nie groot was in hul reekssege van 3-1 nie, het hulle die Leeus met 11 drieë teen sewe getroef.
"Daardie Bok-span was uitstekend, beslis een van die bestes wat ek ooit mee saamgespeel het," meen Du Plessis.
"Die reeksoorwinning van 1980 was beslis 'n hoogtepunt en die ideale wyse om my loopbaan mee te kon afsluit."















