
Die saadjie vir sy aanvanklike idee om 'n tuiste vir jong musici in Suid-Afrika te skep het nie net gegroei nie, maar in 'n kwarteeu geblom tot 'n professionele orkes wat Europese gehore op hul voete het. Arlene Prinsloo vertel.
Robert Brooks het dekades lank sy brood en botter as 'n operasanger in Europa verdien en saam met legendariese name in die musiekwêreld gewerk, onder wie sir Yehudi Menuhin, Herbert von Karajan, Rafael Frühbeck de Burgos en András Schiff.
Hy het daarvan gedroom om 'n ruimte in Suid-Afrika te skep waar jong musici oor rasgrense heen musiek kan maak en in hul menswees groei.
En in April vanjaar is die Miagi-musiekprojek, sy geesteskind, 25 jaar oud. Seker die bekendste uitvloeisel van die projek is die Miagi-orkes, wat deesdae nie net plaaslik nie, maar ook in die bekendste konsertsale ter wêreld staande toejuigings ontvang, soos die Concertgebouw (Amsterdam), die Elbphilharmonie-konsertsaal (Hamburg) en die Berliner Philharmonie (Berlyn).
Hulle doen reeds voorbereidings vir hul 2026-konserttoer, waar hulle aan onder meer die Yehudi Menuhin-fees in Gstaad (Switserland) en die Schleswig Holstein-musiekfees (Duitsland) sal deelneem.
Miagi is egter veel meer as net 'n orkes. Hulle woeker op grondvlak met musiektalent in gemeenskappe, daar is 'n musiekskool in Soweto, slypskole vir jong musici en selfs uitruilgeleenthede met die Universiteit van Musiek en Uitvoerende Kunste in Wene, Oostenryk, en die Nasionale Jeugorkes in Duitsland.

Miagi het ook Pretty Yende, gevierde Suid-Afrikaanse sopraan, in 2009 gehelp om aan die Belvedere-sangkompetisie in Wene deel te neem, waar sy skoonskip gemaak het. Dit het vir haar die pad oopgemaak na 'n uitsonderlike loopbaan en sy word nou as een van die grotes in die wêreld beskou.
"Dinge begin maar by 'n mens en ek was in dié geval daardie mens," sê Brooks, wat in die laat 1970's met 'n musiekbeurs in Wene sang kon gaan studeer.
In 1986 het hy die internasionale sangkompetisie van die Genootskap van Vriende van Musiek daar gewen en so 'n onuitwisbare merk op die musiektoneel in Oostenryk gemaak dat hy in 1990 met ereburgerskap vereer is.
Brooks, veral bekend as 'n liedersanger en vertolker van eietydse musiek, het op die grootste musiekfeeste en in die beste operahuise in Europa opgetree en saam met die groot name in klassieke musiek opgetree.
"Ná sowat 23 jaar oorsee het ek in Suid-Afrika gekuier toe ek gevra is om 'n kamermusiekfees te begin en saam met ander Europese musici daar op te tree. Die kamermusiekfees het ongelukkig nooit gebeur nie, maar 'n interkulturele musiekfees is begin. Só het die musiekonderrig begin en tot orkeskampe gelei."
Aanvanklik het meestal kinders uit townships die orkeskampe meegemaak, maar toe begin dit uitkring en leerlinge en onderwysers in die Pretoria-omgewing wou deel daarvan word.
"My idee was om 'n groep jong mense van oraloor bymekaar te kry en hulle op musiekfeeste te laat optree. Dit was op die groep se eerste oefenkamp in 2003 dat ons die eerste tree na 'n volwaardige orkes gegee het.


"Ek het gedink ons moet die krag van musiek gebruik om te help bou aan (oudpres. Nelson) Mandela se reënboognasie.
"Daar was 'n duidelike behoefte aan musiekonderrig in die land. Dis waar ek met die bestaande infrastruktuur begin het. Ek het mense gehelp om hulp van nieregeringsorganisasies (NRO's) te kry. In daardie tyd was ek 'n sanger in Europa. Jy weet nie wat jy nie weet as jy so iets begin nie. En dan vind jy uit." Hy lag.
Met die hulp van dr. Ben Ngubane, destydse minister van kuns en kultuur, het Miagi die staatshulp gekry wat hulle so broodnodig gehad het.
"Ek het nooit 'n visie gehad nie. Dit was vir my te belangrik om te sien wat voor my op die skinkbord is en daarmee te werk, anders verpas jy die bus."
Dinge het nie net vanself gebeur nie, sê Brooks. "As ek nou terugkyk, is dit basies 25 jaar van krisisbestuur."
Deursettingsvermoë is iets waaraan Brooks geen tekort het nie. Hy het as 20-jarige sy musikale heil in Oostenryk gaan soek en eers aan die Mozarteum in Salzburg en later die Weense akademie gestudeer.
Brooks het sy merk gemaak, soseer dat pres. Alexander van der Bellen van Oostenryk hom verlede jaar met 'n goue medalje vereer het vir sy diens aan dié land en die Miagi-projek, waardeur jong musici nie net in klassieke musiek opgelei word nie, maar ook in inheemse musiek en jazz.
'n Belegging in musiekonderrig ontwikkel 'n jong mens nie net musikaal nie, maar dra ook by tot lewensvaardighede.


"Ons het die kinders gekies uit townships soos Hammanskraal en Botshabelo. Ons het ook briefies gekry van wit skoolkinders en selfs onderwysers. Hulle het gehoor die kampe is lekker en wou ook deelneem."
Die Miagi-orkes was die uitvloeisel van die eerste orkeskampe in 2003.
Toe begin Miagi die kampe gereeld aanbied. "Alles was interkultureel. Reg van die begin af. Ons het die orkes begin ontwikkel en in 2007 en 2008 het ons selfs kursusse in Kaapstad aangebied.
"In 2009 is ons genooi om op die Young Euro Classic-musiekfees in Berlyn te gaan optree. Ons moes alle koste self betaal. Toe gaan ek na Pallo Jordan (destydse minister van kuns en kultuur). Hy het gehelp. Dit was 'n enorme sukses. Ons word telkens weer na die fees genooi."
Die orkes se standaard is van so 'n hoë gehalte dat kaartjies blitsig uitverkoop.
Brooks is skugter om oor sy aandeel in Miagi se sukses te praat. "Dit was 'n idee wat in chaos geskep is. Nou is dit bestuurde chaos."
Vir hom gaan Miagi oor veel meer as 'n musikale belegging. Wat hom telkens tref, is veral die musikale en maatskaplike samehorigheid wat ontstaan wanneer mense van verskillende kulture deur middel van musiek aan mekaar kan skaaf.
"Musiek is dus ook 'n brug, nie net tussen rasse nie, maar ook mense uit verskillende agtergronde."
Vir die jong violis wat danksy Miagi se finansiering aan musiek blootgestel word, kan 'n loopbaan as 'n solis op 'n wêreldverhoog wink of bloot 'n beter toekoms danksy die ontwikkelende krag wat musiekonderrig aan 'n jong mens bied.
Die orkes kan as die openbare gesig van Miagi gesien word, maar daar is verskeie ander projekte soos slypskole, konserte, opvoedkundige geleenthede en uiteindelik die beurse vir belowende musici. Miagi bied ook leierskapsontwikkeling aan byvoorbeeld jong vroue-konsertmeesters en -dirigente.
Miagi belê reeds op voetsoolvlak binne gemeenskappe, soos die Miagi-musieksentrum by die Morris Isaacson High School in Soweto en 'n nuwe sentrum wat in die Lwandle-township buite Somerset-Wes gebou word.
Leerlinge word ook nie net in klassieke musiek onderrig nie, maar leer ook om die kwêlafluitjie, mbira en umrhubhe te bespeel.
'n Mens wonder of Miagi se naam iets met die magiese te doen het.
Brooks skud sy kop.
"Die naam is geskep deur die violis en Unicef-ambassadeur Maxim Vengerov, wat gesê het: ‘Music is a great investment' - vandaar (die akroniem) Miagi."
Volgens Brooks se berekeninge het Miagi in sy kwarteeu sowat 15 000 kinders, jeugdiges en jong volwassenes se lewe op 'n manier geraak.
Is finansiering ná 'n kwarteeu al makliker?
"Beslis nie. Ons is aangewese op borge en van ons koste word deels gedelg deur die geld wat ons in die buiteland met konserte verdien. Ek is voortdurend op soek na borge, plaaslik en oorsee."
Van die staat af is daar tans geen hulp nie.
"As 'n mens so iets begin, is dit nie 'n geldmaakstorie nie. Dis 'n liefdestaak."
En hoe voel dit as 'n Europese gehoor met 'n ontwikkelde klankpalet die orkes staande toejuig?
"Dit maak my ongelooflik bewoë. Ek weet waar hulle vandaan kom. Om die verwondering op hul gesigte te kan sien, is genoeg: ‘Hierdie applous is vir my.' Hulle is nooit blasé nie. Dit maak alles die moeite werd."















