Aktueel

‘Die weermag moet ophou om vertroue te veins’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Zigi Ekron gesels met die militêre kenner Darren Olivier oor die stand en gevegsgereedheid van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag.

Die dood van 14 Suid-Afrikaanse soldate tydens 'n vredesmagsending in die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK) vroeër vanjaar het opnuut 'n openbare debat laat ontstaan oor die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) se gevegsgereedheid en die agteruitgang van sy verouderde wapentuig.

Die oorskot van 14 soldate van die Suid-Afrikaanse Weermag wat in die DRK gesterf het, is in Februarie op die Swartkop-lugmagbasis in Centurion aan hul families oorhandig. Foto: Deaan Vivier
Die oorskot van 14 soldate van die Suid-Afrikaanse Weermag wat in die DRK gesterf het, is in Februarie op die Swartkop-lugmagbasis in Centurion aan hul families oorhandig. Foto: Deaan Vivier

Die Suid-Afrikaanse boorling en militêre kenner Darren Olivier is een van Suid-Afrika se voorste weermagkenners en 'n direkteur van African Defence Review. Hy het bykans twee dekades ervaring in konflik-ontleding en is vanuit Nederland 'n gereelde bydraer tot publikasies oor militêre sake op die Afrika-vasteland.

Netwerk24 het hom in Amsterdam gaan opsoek en uitgevra oor Suid-Afrika se verdedigingstameletjie.

• Hoe erg is die huidige stand van sake met die SANW?

Dinge is baie sleg. Op sommige gebiede is die skade moontlik onomkeerbaar. Om ten minste na die vermoë van sê maar 10 of 20 jaar gelede terug te keer, gaan lank neem en etlike miljarde rand kos. As 'n mens nou begin en die begroting verhoog met 'n goeie plan in plek, sou jy nie binne minstens 10 jaar op 'n goeie standaard wees nie. Dit is hoe ver die agteruitgang strek.

Daar is egter steeds 'n basis waarop jy kan bou. Die alternatief, as ons van voor af sou moes begin sonder die vegvliegtuie, die Rooivalk, die duikbote en die fregatte, sal dit eerder 20 of 30 jaar en baie meer geld verg.

• Hoe het dit so erg geword?

Die oorspronklike plan met die weermag wat ná 1994 in die vooruitsig gestel is, was van 'n kernmag met minimale vermoëns wat absoluut noodsaaklik was. Die plan was om 'n fondament te skep waaruit jy kon groei indien nuwe bedreigings ontstaan. Dit was natuurlik met die verwagting dat verdedigingsbesteding op die lange duur tussen 1,5% en 2% van die bruto binnelandse produk (BBP) sou bly. Dit sou gewerk het.

Tussen 1989 en 1993 is die verdedigingsbegroting gehalveer. Van 1994 tot ongeveer 1997 is die begroting weer besnoei. Dit het ons vermoëns drasties ingeperk.

En natuurlik, namate die begroting krimp, besnoei jy sowel operasionele as verkrygingsbefondsing.

Terwyl die begroting oral elders krimp, word dit al hoe meer oorheers deur besteding aan nét personeel. Maar jy kan nie jou personeelbefondsing besnoei nie, want jou personeelbesteding is 'n faktor van jou magstruktuur en maggrootte. Dus is daar geen geld vir die aankoop van nuwe toerusting nie en ook geen geld vir die behoorlike uitvoer van operasies nie.

Daar is net twee maniere om hierdie probleem die hoof te bied. Die een is om die weermag te verklein om aan die huidige begroting te voldoen. Die ander is om finansiering te verhoog tot wat nodig is vir hierdie magstruktuur en wat van die weermag verwag word.

Ons praat van nóg min of meer R50 miljard per jaar. Dis nie nou haalbaar nie.

Jy kan in elk geval nie die begroting oornag verdubbel nie. Korrupsie sou floreer omdat die stelsel daaronder sou ineenstort. Om dit te doen, moet jy die begroting dus geleidelik verhoog. Dan kan jy beplan en die impak 'n bietjie versag.

Dis nou as jy die huidige struktuur van die weermag wil behou, as jy vegvliegtuie en duikbote wil hê en as jy die vermoë wil hê om mag te projekteer soos Suid-Afrikaners geëis het dat die land dit in die DRK moet doen.

• Waarom was Suid-Afrika in die eerste plek in die DRK?

Suid-Afrika se betrokkenheid in die DRK strek meer as 20 jaar terug tot die laat 1990's en twee buitengewoon skadelike streekoorloë wat Uganda, Angola en Rwanda ingesuig het.

'n Amptelike foto wat die SANW uitgereik het, wys van sy lede wat in die DRK ontplooi is as deel van die VN se vredesmag om die land se weermag te help in sy stryd teen die M23-rebelle. Foto: SANDF/X
'n Amptelike foto wat die SANW uitgereik het, wys van sy lede wat in die DRK ontplooi is as deel van die VN se vredesmag om die land se weermag te help in sy stryd teen die M23-rebelle. Foto: SANDF/X

Miljoene het gesterf en Suid-Afrika was bekommerd dat dit oor die vasteland sou versprei en buite beheer sou raak soos die Eerste Wêreldoorlog, hierdie keer binne Afrika.

Suid-Afrika het dus 'n groot deel van sy buitelandse beleid op die vredesproses toegespits. Suid-Afrika was een van die eerste deelnemers aan die Verenigde Nasies (VN) se vredesending. Ons het dus nog altyd 'n buitelandse beleidsbegrip gehad van hoe broos die vrede daar is en hoe vinnig dit in 'n streekoorlog kan ontaard en verder kan uitkring.

• Waarom was die jongste ontplooiing so rampspoedig?

Rwanda word meer selfversekerd en meng nou baie meer openlik by die DRK in.

In 2013, toe Suid-Afrika deel was van die VN se ingrypingsbrigade wat die M23-rebelle gestuit het, was dit deels te danke aan druk op Rwanda van die VSA, Europa en ander lande om nie magte oor die grens te stoot nie en om dié wat daar was, te onttrek. Hierdie keer het dit nie gebeur nie.

Tussen 4 000 en 10 000 Rwandese soldate was in die DRK ontplooi. Suid-Afrika en die hele Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) het nie die vermoë om sulke mag op daardie afstand te projekteer nie.

Daar is steeds 'n wydverspreide aanname dat Suid-Afrikaanse troepe in die DRK oorgegee het. Hulle het nie oorgegee nie. 'n Wit vlag beteken nie oorgawe nie. Dit beteken: Kom ons staak, of kom ons praat. Die troepe het hul bes gedoen, in ag genome dat hulle nooit as 'n onafhanklike gevegsmag ontplooi is nie.

Die mag was te klein. Die sending was nooit op die volle sterkte nie. Die plan was vir 5 000 troepe, maar ek weet nie of daar selfs 3 000 was nie. Hulle het nie lugsteun gehad nie.

Hulle was net daar om steun aan die DRK-weermag te bied. Toe die DRK-weermag dus onder die aanval ineengestort het, kon hulle niks doen nie. Hulle was blootgestel. En daarom was dit onsinnig om aan te hou veg.

• Waarom kon ons hulle nie red nie?

Om hulle te red sou die vermoë van 10 of 20 jaar gelede vereis het. Suid-Afrika het egter toegelaat dat die weermag se vermoë te veel afneem. Nie noodwendig in terme van die gehalte van personeel nie, maar in terme van die beskikbaarheid van vliegtuie, voertuie en skepe. En natuurlik word hierdie vliegtuie ouer en ouer. Hulle kan nie weer gevegsgereed wees sonder 'n opgradering nie. Dit kos alles geld. En hoe meer jy dit uitstel, hoe duurder word dit.

• Kan ons nie intussen regmaak wat ons reeds het nie?

Die SANW, spesifiek die vloot en die lugmag, maar ook die leër in 'n mate, het al die onderdele wat hulle in voorraad gehad het, opgebruik.

Elke vliegtuig het 'n lys van items wat moet werk om operasioneel gekwalifiseerd te wees en te vlieg. Dit word die minimum-toerusting-lys genoem. So, as jy 'n onderdeel moet vervang wat op daardie lys is, kan daardie vliegtuig nie vlieg nie. Dit kan heeltemal lugwaardig wees op elke ander manier, maar omdat daardie spesifieke onderdeel nie werk nie, kan dit nie vlieg nie.

Vanweë onderbefondsing kon die SANW nie voldoende voorraad onderdele aanhou nie. Nou ja, wanneer jy 'n onderdeel uithaal, begin daar onmiddellik 'n proses om 'n tender oop te maak om daardie onderdeel na die vervaardiger te stuur of 'n nuwe een te koop, wat dan via die Wet op Openbare Finansiële Bestuur geskied. Dit neem maande net om die Suid-Afrikaanse proses af te handel. Dan begin jy wag vir die oorspronklike vervaardiger. Selfs al is jy gelukkig dat die vervaardiger dit byderhand het en onmiddellik kan verskeep, neem dit steeds maande.

Daarom kan baie vliegtuie nie vlieg nie. Hulle wag net vir onderdele.

• Waarom moet gewone Suid-Afrikaners bekommerd wees oor die katastrofiese sending na die DRK?

As die SANW nie die kapasiteit het om suksesvol na die DRK te gaan op hierdie soort sending nie, het dit nie regtig die vermoë om die land behoorlik te verdedig nie.

'n Video van die beleërde Suid-Afrikaanse soldate wat deel was van die SAMIDRC-ontplooiing in die DRK is Februarie vanjaar wyd op sosiale media gedeel. Dit wys hoe 'n Suid-Afrikaanse valskermsoldaat 'n wit vlag omhoog hou nadat hy en sy makkers dae lank in bloedige gevegte moes verdedig teen 'n oormag M23-rebelle in die rebelle se opmars na Goma. Foto: Skermgreep
'n Video van die beleërde Suid-Afrikaanse soldate wat deel was van die SAMIDRC-ontplooiing in die DRK is Februarie vanjaar wyd op sosiale media gedeel. Dit wys hoe 'n Suid-Afrikaanse valskermsoldaat 'n wit vlag omhoog hou nadat hy en sy makkers dae lank in bloedige gevegte moes verdedig teen 'n oormag M23-rebelle in die rebelle se opmars na Goma. Foto: Skermgreep

Die weermag moet in staat wees om magte nie net 2 000 km weg na die DRK te projekteer nie, wat baie moeilik is, maar ook om magte oor Suid-Afrika heen te projekteer. Hoe skuif jy eenhede oor die land heen? Hoe kry jy magte vinnig waar hulle moet wees in die geval van 'n ernstige opstand soos ons in 2021 gesien het?

Dit vereis vragvliegtuie en helikopters, wat weer meestal buite werking is. Na my mening word dieselfde vermoëns vereis (om na die DRK te ontplooi as om stabiliteit tuis te verseker).

'n Mens kan argumenteer jy het nie die vegvliegtuie binnelands nodig nie, maar dan vertrou jy ook die streek sal die volgende 20 tot 30 jaar stabiel bly.

• Is dit waar dat die SANW 'n lomp instelling geword het waar soldate vet en lui word?

Mense meen dikwels die weermag het te veel generaals wat al die geld opslurp. Daar is beslis te veel generaals, maar die rede daarvoor is nogmaals gebaseer op die SANW se siening van 'n kernmag wat kan groei wanneer nodig.

Daar is byvoorbeeld 'n brigadier-generaal in beheer van elke groot basis, selfs al is daardie basis slegs half beset. Al word die volle kapasiteit nie gebruik nie, het jy steeds 'n brigadier-generaal nodig vir daardie basis weens die vlak van aanspreeklikheid wat vereis word.

Die teorie is: As jy skielik personeel aansienlik moet verhoog, kan jy dit vanuit reserwes of nuwe rekrute doen en dan hoef jy nie jou boonste en middellaag van offisiere te herbou nie.

Dit maak sin. Daarom het enige kleiner mag met 'n volledige reeks vermoëns, baie generaals.

Eintlik is die weermag nogal klein. Mense sê altyd: "Die SANW is 70 000 sterk. Dis regtig groot."

Dis nie so 'n groot mag nie. As jy burgerlikes wegneem, is dit omtrent 62 000 uniform-personeel. Van hulle is 33 000 tot 35 000 in die leër. Slegs omtrent die helfte daarvan is infanterie. Jy kan reserwes byvoeg, maar die reserwes kos baie meer geld. En daar is nie soveel van hulle nie, want ons het lanklaas in reserwemagte belê.

So jy het 'n onvermoë om oral op een slag te wees. Jy moet steeds troepe op die ander grense hê, maar jy moet veral die Mosambiekgrens baie versterk met troepe wat jy nie regtig het nie. Ons het dit reeds gesien met die onluste in 2021 waar die leër alles tot sy beskikking uitgestuur het. As daar 'n behoefte was om meer troepe te ontplooi, was daar nie genoeg nie.

• Wat is die eerste stappe wat die departement van verdediging of die tesourie moet doen om die SANW te vernuwe?

Eerstens, raak ontslae van die ontkenning oor hoe sleg dinge werklik is. Neem die publiek in vertroue en wys hulle die dinge wat steeds werk.

Hou mense aanspreeklik. Een van die grootste probleme wat ons het, is dat niemand aanspreeklik gehou word nie. Nie 'n enkele senior generaal is van bevel onthef nie. Nie 'n enkele minister van verdediging is van sy of haar pligte onthef omdat hy of sy nie behoorlik opgetree het nie.

Dit is waarom die publiek vertroue in die weermag verloor en waarom die gewone lede in die weermag vertroue in hul leiers verloor. Jy moet 'n baie sterker standpunt inneem oor korrupsie, oor die besteding van geld en seker maak dat mense wat dinge soos die Kubaanse Heberon-entstof-aankoop tydens die grendelstaat gedoen het, swaar daarvoor gestraf word.

Jy moet die publiek wys hul bekommernisse en hul woede word ernstig opgeneem. Die mense weet reeds dis sleg, maar hulle hoor die minister of die hoof van die SANW sê: "Ja, ons kan steeds ons pligte uitvoer, ons kan steeds doen wat ons moet doen. As ons aangesê word om maan toe te gaan, sal ons gaan." Die publiek sien die skyn en hoe belaglik dit is.

• Is daar nog bereidwilligheid binne die weermag om dit te doen?

Absoluut. Ek het baie uitsonderlike majoors en kolonels en brigadier-generaals ontmoet wat, gegewe die kans, die ruimte en die hulpbronne, wondere sou verrig. Veral diegene wat van die gevegseenhede kom. Ongelukkig dink baie nou daaraan om te uit te tree. Ons is op 'n uiterste krisispunt waar die gretigste en gewilligste mense om dinge te verander sélf so uitgebrand is dat hulle oorweeg om te vertrek.

• Is daar iets wat die weermag moet ophou doen?

Baie. Hou op om vertroue te veins wanneer daar geen is nie. Hou op om in te stem tot ontplooiings sonder om voorbehoude aan te meld. My begrip van die huidige benadering van die top-amptenare is: "Wat die president ook al sê, sal ons doen."

Dit is reg vanuit 'n orde-oogpunt, maar hulle vergeet hul rol is ook om advies te gee oor 'n plan van aksie wat skadelik kan wees. Daarom het jy Bantu Holomisa wat sê: "Ek kan nie onthou dat ek meegedeel is daar is 'n probleem met die DRK nie." Senior generaals moes vir die minister van verdediging of die adjunkminister van verdediging en die president gesê het: "Ons sal dit doen as julle ons beveel om dit te doen, maar julle moet verstaan dit en dat gaan gebeur, dat ons in 'n swak posisie is, dis 'n hoë risiko." Hou dus op om "ja" te sê vir alles en sê "ja, maar…".

Darren Olivier is een van Suid-Afrika se voorste weermagkenners en 'n direkteur van African Defence Review. Hy het bykans twee dekades ervaring in konflik-ontleding. Foto: Facebook
Darren Olivier is een van Suid-Afrika se voorste weermagkenners en 'n direkteur van African Defence Review. Hy het bykans twee dekades ervaring in konflik-ontleding. Foto: Facebook

Tweedens, hou op om alles agter geheimhouding te probeer wegsteek. Die SANW, sedert die Zuma-era, het al hoe meer teruggekeer na die paranoïese styl van die gewese SAW en het minder deursigtig geword. Vertroue beteken deursigtigheid.

Ja, in teorie voeg dit 'n bietjie risiko by deurdat ander lande meer kan weet oor wat gebeur, maar eerlikwaar weet hulle reeds. Hulle is nie dom nie.

Derdens, raak ontslae van die arrogante benadering en die siening van die media as 'n antagonis met die publiek as iets wat op 'n afstand gehou moet word.

En hou dan op om te droom van 'n toekoms waar die geld beskikbaar word. Vind óf 'n manier om daardie geld te verskaf óf verskaf alternatiewe planne om af te skaal.

Dan kan jy begin om 'n nuwe verdedigingstelsel te bou.

• Ekron is Netwerk24 se nuusredakteur in Kaapstad en is tans die inwonende joernalis by Zuid-Afrikahuis in Amsterdam.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM