Parys is bekoorlik, maar ook verraderlik vir tenniskampioene, skryf Fanie Heyns.

Parys as wêreldstad bly 'n bekoring met sy geplaveide strate, ateljees, die kleurvolle boulevards, die majestueuse parke, die Louvre-museum, Arc de Triomphe en Eiffel-toring.
Die skrywer Victor Hugo het sy lesers aangemoedig om Parys in te asem, want dit voed die siel.
Die Amerikaanse president Thomas Jefferson het in die 18de eeu opgemerk: "A walk about Paris will provide lessons in history, beauty and in the point of life."
Dis of die Franse hoofstad amper onbewustelik 'n romantiese verhouding aanknoop met besoekers. Dis waarskynlik wat die akteur Woody Allen laat sê het: "Dat Parys bestaan en enigiemand besluit om (desnieteenstaande) elders te gaan woon, bly vir my 'n raaisel."
Maar Parys het vir talle nommereen-tennisspelers ter wêreld 'n plek geword waar hul drome onder die klei van Roland Garros begrawe lê.
Dis die een stukkie in die legkaart wat ontbreek het vir Pete Sampras, Stefan Edberg en Boris Becker. Ook vir John McEnroe, Jimmy Connors, Bill Tilden en Martina Hingis.
Sampras het 14 Grand Slam-titels ingeoes, en sy teenstanders oorrompel met sy afslaanwerk en vlughouspel.
Bud Collins, doyen van tennisskrywers, het eenmaal aan CNN gesê Sampras was in 1996 teen Yevgeny Kafelnikov goed geplaas om geskiedenis te maak in Parys, "maar toe besluit hy om terug te val op sy ou aanvalsmetode van afslaan-en-vlughoue".
"Hy was hardkoppig. Hy wou buig of bars Pete Sampras bly (pleks daarvan om 'n minder aanvallende plan B te gebruik) en dinge het nie uitgewerk nie."

Becker wou getrou bly aan sy "persoonlikheid" en gevolglik kon hy nooit 'n romanse aanknoop met die Paryse klei nie.
"Op klei wen jy deur minder foute te maak; op ander oppervlakke wen jy deur wenners te slaan," het hy gesê.
"Ek is nie iemand wat vir die teenstanders wag om foute te maak nie. So, sielkundig was dit altyd vir my moeilik om op klei te speel."
Hy was drie keer 'n semifinalis by die Franse Ope - in 1987, 1989 en 1991 - en al drie het in teleurstelling geëindig.
Dis een ding van hierdie jong ouens, hulle slaan net, hulle het nie nodig om te veel te dink nie.
Edberg was in 1989 een stel weg van 'n oorwinning oor die Amerikaner Michael Chang in die eindstryd.
Die Sweed, wat die trofeë omhoog gehou het by Wimbledon, in die Amerikaanse en die Australiese Ope, was duidelik ontsenu deur die 17-jarige Chang se verstommende stamina.
Edberg het 26 breekpunte geskep, maar kon net ses daarvan benut.
"Hy het male sonder tal terugbaklei.
"Dis een ding van hierdie jong ouens, hulle slaan net, hulle het nie nodig om te veel te dink nie," het Edberg erken.
Een Amerikaanse joernalis was so oorstelp oor Chang se sege dat hy gesê het: "Dit is die eerste Franse titel vir 'n Amerikaner sedert Mona Lisa 'n baba was.
"Raam dit asseblief en hang dit in die Louvre."
(Dit was erg oordrewe, want die vorige suksesvolle titel-stormloop deur 'n Amerikaanse manspeler was in 1955.)
Heelparty Amerikaanse supersterre het hulle deur die jare vasgeloop in die ville de l'amour ("stad van liefde").
Tilden is deur talle kenners beskou as moontlik die beste tennisspeler ter wêreld voor die Tweede Wêreldoorlog.
Tilden wou graag 'n akteur word en het selfs in enkele flieks gespeel, maar het minder talent op die verhoog gehad as op die baan.
Die lang Amerikaner het in 1922 'n stukkie van sy vinger verloor in 'n ongeluk. Hy het net die greep op sy raket aangepas en kon steeds 'n afslaan lanseer teen 243 km/h per uur.
Tilden het vyande gemaak met die Amerikaanse tennisvereniging omdat hy gay was - in daardie tydvak taboe vir die establishment.
Die onverstoorbare Tilden het nietemin nie veel teenstand op die baan ondervind nie. Hy het trouens van 1920 tot 1925 in geen wedstryd verloor nie.

'n Erge kniebesering het die Yank verhinder om die Franse Ope-titel te verower. Drie van die Franse se "vier musketiers" - Henri Cochet, Jean Borotra en René Lacoste - het hom van die podium weggehou.
Tilden het twee wedstrydpunte gehad teen Lacoste in die eindstryd van 1927, maar Lacoste, oftewel "die Krokodil", het vasgebyt en bo uitgekom.
In 1974 het die meeste Amerikaners verwag dat die Yank Connors met die louere in Parys sal wegstap.
Dit was 'n jaar waarin hy net in vier van 103 wedstryde verloor het.
Maar die vurige 22-jarige het besluit om hom by World Team Tennis aan te sluit. Dit het die vereniging vir beroepstennisspelers ATP die harnas ingejaag.
Hulle het hom gevolglik verbied om in Parys te speel.
Connors het 'n enorme eis van $40 miljoen dollar teen die ATP se twee hoofde, Jack Kramer en Donald Dell, ingestel, maar sy kans om al vier Grand Slam-titels in een kalenderjaar in te oes was daarmee heen.
Kampioene wat hulle nie kon versoen met Parys en sy inwoners se vurige temperament en aandrang op goeie baan-etiket nie, het hulle meer as een keer lelik vasgeloop.

Die humeurige McEnroe, wat dikwels net een sin weg was van 'n vulkaniese uitbarsting, het in 1984 aanvanklik die eindstryd teen Ivan Lendl oorheers. Hy was met 6-3 en 6-2 voor.
In die derde stel, op 1-1 en met Lendl 0-30 agter, het McEnroe sy humeur verloor omdat daar te veel klank uit 'n TV-kameraman se gehoorstuk gekom het. Hy het die kameraman bestorm en "shut up" in sy gehoorstuk geskreeu.
Daarmee het hy die skare se steun verloor. Die antagonistiese Parysenaars het hulle al hoe meer aan Lendl se kant geskaar.
Lendl het uiteindelik in vyf stelle gewen.
Vir Mac was dit verpletterend. Die jaar 1984 was sy annus mirabilis. Hy het in 82 wedstryde gewen en net in drie verloor.
Die Roland Garros-eindstryd was een.
Hy was ontroosbaar. Richard Evans, sy biograaf, het geskryf: "As iemand 'n vuurwapen vir McEnroe gegee het, sou hy homself daarmee geskiet het."
"Dit was die ergste nederlaag van my loopbaan," het McEnroe erken. "Dis selfs moeilik vir my om deesdae kommentaar by die Franse Ope te lewer. Ek het twee dae waarin ek letterlik 'n maagaandoening het by Roland Garros wanneer ek oor daardie wedstryd nadink."
As jy dink jy kan met swak sportmanskap wegkom op die Philippe Chatrier-hoofbaan, begaan jy 'n yslike fout. Daarvan kan Hingis getuig.

In die eindstryd in 1999 was die 18-jarige Switserse speler met 6-4 en 2-0 voor teen Steffi Graf, wat bevestig het dat daardie jaar haar laaste in die beroepsreeks was.
Hingis het haar eie nes bevuil deur om die net te storm en die stoelskeidsregter te probeer oortuig dat sy nie die regte merkie uitgewys het vir 'n fout nie.
Dit het die skare rasend van woede gemaak. Daarna moes Hingis teen twee teenstanders veg - Graf en die skare.
Graf het eindelik in drie stelle gewen.
"Ek voel vandag na 'n Franse mademoiselle," het Graf agterna gesê.
"Ek het al oor die hele wêreld heen gespeel en nog nooit voor 'n skare soos hierdie nie."
Vir Graf was Parys so bekoorlik soos vir Allen. Haar romanse met Andre Agassi, 'n agtmalige Grand Slam-wenner, het in 1999 juis in die Franse hoofstad begin en hulle het in 2001 in die huwelik getree.
Wanneer vanjaar se Franse Ope vandag begin, sal lede van generasie Z soos Jannik Sinner (tweede ter wêreld gekeur) en Carlos Alcaraz (derde) - daarop bedag wees om nie so meegesleur te raak deur Parys se skoonheid dat hulle dieselfde voetfoute as McEnroe en Hingis op die rooi klei begaan nie.

















