80 jaar later bly D-dag steeds aangrypend, skryf Pieter Malan.

Op die vooraand van Operasie Overlord - die militêre operasie wat 'n belangrike rol in Hitler se einde sou speel - het die Britse premier Winston Churchill na sy vrou, Clementine, gedraai en gesê: "Do you realize that by the time you wake up in the morning 20 000 men may have been killed."
Die verwagte dodetal was inderdaad verskriklik. Sommige het geglo dat slegs vier uit elke tien Rangers wat die strategiese battery van ses kanonne by Pointe du Hoc buite aksie moes stel die operasie sou oorleef. Die aanslag vanuit die lug was waarskynlik die gevaarlikste van almal - die een waaroor die Amerikaanse opperbevelvoerder Dwight Eisenhower die meeste twyfel gehad het. Sommige van sy bevelvoerders het gemeen die ongevalle kon so hoog as 80% wees.
Cornelius Ryan skryf in The Longest Day dat, nadat Eisenhower vir genl.maj. Maxwell Taylor, bevelvoerder van die 101ste Valskermdivisie, sterkte toegewens het, het hy met trane in sy oë gestaan en kyk hoe die honderde Dakotas in formasie in die rigting van die Franse kus vlieg.
Brig.genl. "Jumpin" Jim Gavin se boodskap aan sy padvinders - 'n uitgelese groepie ervare valskermsoldate wat die uiters gevaarlike taak gehad het om 'n halfuur voor die hoofmag die landingstroke vir die divisies wat kom uit te merk - het geen doekies omgedraai nie: "Once on the ground, God will be your only friend."
Die Suid-Afrikaanse premier Jan Smuts - vriend en vertroueling van Churchill - het gemeen Overlord was die één operasie wat die Geallieerdes die oorlog kon kos.
Die dood van talle was inderdaad roemloos en verskriklik. Die 505ste Valskermregiment het 'n nare skok gekry nog voordat hulle eers kon opstyg toe 'n geweergranaat in 'n Dakota ontplof het terwyl hulle nog gelaai het. 'n Paar soldate is dood en die oorlewendes is bloot toegedeel na 'n ander seksie.

Op die landingsvaartuie het talle verdrink nog voordat hulle die strand bereik het, te swaar gelaai met proviand en ammunisie om te kon swem.
Dieselfde lot het talle valskermsoldate getref. Nadat onverwagse winde sommige van koers gewaai het, het hulle in die vleilande rondom Cherbourg beland. Verstrengel in hul valskermtoue en toerusting, het talle verdrink nog voordat 'n enkele skoot afgevuur is, sommige in water skaars 30 cm diep.
Uiteindelik was die ongevalle op die dag sowat 10 000 gesneuwel, gewond en vermis - genadiglik baie laer as wat Churchill gevrees het.
Dade van uitsonderlike dapperheid was daar noodwendig.
Een Britse Victoria-kruis en vier Amerikaanse Medals of Honor vir dapperheid is op die eerste dag van die inval toegeken (met talle meer in die paar dae wat daarop gevolg het). Een van hulle het gegaan aan brig.genl. Theodore Roosevelt, die oudste soldaat om aan die landing deel te neem.
Hoewel mens graag dink aan D-dag as 'n klinkende sukses, is dit beswaarlik waar.
Die 56-jarige Roosevelt, 'n veteraan van die Eerste Wêreldoorlog, seun van Teddy en neef van Franklin Delano Roosevelt, se versoek om lid van die eerste fase te wees is twee keer afgekeur voordat sy seniors ná 'n derde skriftelike versoek bes gegee het. Nadat sy regiment op Utah-strand geland het, het hy absoluut vreesloos met sy kierie (hy was effe mank weens artritus) op en af op die strand beweeg om die aanval te rig en sy troepe aan te moedig.
Die sitasie vir sy medalje lui verder: "Under his seasoned, precise, calm, and unfaltering leadership, assault troops reduced beach strongpoints and rapidly moved inland with minimum casualties. He thus contributed substantially to the successful establishment of the beachhead in France." Ironies genoeg is Roosevelt vyf weke later aan 'n hartaanval oorlede. Onder sy slippedraers was Amerika se bekendste en mees senior bevelvoerders - Omar Bradley en George Patton.
Hoewel mens graag dink aan D-dag as 'n klinkende sukses, is dit beswaarlik waar. So was die doelwit om die stad Caen - waar verskeie spoorroetes bymekaarkom - reeds op die eerste dag te beset. Dit sou 'n verdere maand neem voordat die Duitsers uit Caen gedryf is - met enorme lewensverlies, ook van burgerlikes.
Ten spyte van die feit dat die Geallieerdes se posisie in die eerste dae ná die inval nog taamlik tentatief was, het Churchill dit nietemin in sy kop gekry om ses dae later die Britse bevelvoerder Bernard Montgomery in sy hoofkwartier te besoek, ten spyte van die generaal se waarskuwing dat die gebied nog nie veilig is nie. Churchill het egter laat weet dat hy nie enige spesiale behandeling verwag nie: "We will bring our own sandwiches."
Vergesel deur onder andere Smuts is hy oor die Engelse Kanaal.
Churchill onthou die dag in sy seminale sesvolumewerk, The Second World War, soos volg: "We drove through our limited but fertile domain in Normandy . . . The inhabitants seemed quite buoyant and well nourished and waved enthusiastically."

Veldmaarskalk Alan Brooke onthou dit egter anders en sê die Franse het glad nie vreeslik ingenome gelyk met die feit dat die Geallieerdes oorlog en verwoesting na hulle rustige en stil deel van die wêreld gebring het nie.
Terug op die HMS Kelvin het hul gasheer, adm. Philip Vian, die eerste minister geneem om te kyk hoe die Britse vloot kartetse vuur op Duitse stellings wat die Geallieerdes se linkerflank bedreig. Churchill beskryf wat volg in The Second World War: "As we were about to turn I said to Vian, ‘since we are so near, why shouldn't we have a plug at them ourselves before we go home?'
"He said certainly and in a minute or two all our guns fired on the silent coast. We were of course well within the range of their artillery and the moment we had fired Vian made the destroyer turn about and depart at the highest speed. This is the only time I have ever been on board a naval vessel when she fired ‘in anger' - if it can be so called. Smuts too was delighted."
Oorlewendes van wat bekend geword het as "the longest day" (so genoem ná 'n opmerking deur die Duitse bevelvoerder Erwin Rommel dat die eerste 24 uur van die inval bepalend sal wees en vir die Geallieerdes sowel as vir Duitsland die "langste dag" sal wees) is daar vandag, 80 jaar later, maar min.
Persoonlike herinneringe word egter steeds opgediep.
Soos dié van die jong meisie wat met die uitbreek van die oorlog by die Women's Royal Naval Service (die Wrens) aangesluit het waar sy in bevel gestaan het van 'n groep jong vroue wat daagliks die posisie van konvooie in die Atlantiese Oseaan op kaarte moes aanstip.
Gedurende hierdie tyd ontmoet sy die vlootoffisier lt. John Lamb en ná 'n woerts-wartse romanse is hulle 10 dae later getroud. Christian Lamb vertel hoe senutergend dit was om sy skip, die HMS Oribi, se bewegings oor die Atlantiese Oseaan te volg terwyl Duitse duikbote jag maak op die Geallieerde konvooie.

"You couldn't look far into the future; he might only have had a fortnight's leave and then be killed at the end of it," skryf sy in haar memoires.
In die aanloop tot D-dag het sy opdrag gekry om met die hulp van foto's presisiekaarte te teken om die eerste vlaag landingsvaartuie te lei. Sy was dus een van die min mense wat vroeg al geweet het presies waar die inval sou plaasvind - in haar woorde "the most amazing, extraordinary, enormous invasion that had ever been in history".
Die afgelope week het die Franse president, Emmanuel Macron, die Franse Legioen van Eer aan haar toegeken tydens 'n seremonie in Ver-sur-Mer, Normandië - 'n eer wat sy aan die BBC beskryf het as "a very unusual, unexpected treat".
Hoe ongelooflik is dit nie dat die onblusbare veteraan Lamb volgende maand haar 104de verjaardag vier nie?

















