Aktueel

‘Ich bin eine Swiftie’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Sy sou kaalvoet oor die Drakensberge loop net om 'n kaartjie te kry vir Taylor Swift se Eras-konsert in Duitsland, skryf Mia Giardini.

Taylor Swift tydens haar Eras-konserttoer. Die vertoning was in Munchen, Duitsland. Foto: Getty Images
Taylor Swift tydens haar Eras-konserttoer. Die vertoning was in Munchen, Duitsland. Foto: Getty Images

Drome is spesiaal en persoonlik, maar ek het geweet my droom om Taylor Swift in lewende lywe te sien, hoor en ervaar een is wat deur miljoene ander mense gedeel word. En daarmee het ek vrede gemaak.

Die werklikheid is tog beter as enige droom. Só het ek gevoel nadat ek met dieselfde vasberadenheid as waarmee Voortrekker-vroue kaalvoet oor die Drakensberge is 'n kaartjie bekom het vir 'n konsert van Swift in Gelsenkirchen, Duitsland.

Is dit die gevoel van 'n fanatikus? Miskien, en daarmee het ek ook vrede. Want soos selfs my ouskool-rocker-pa en opera-behepte oupa weet, is Swift die grootste vermaaklikheidsfenomeen wat die wêreld die laaste paar jaar beleef het.

En dit gaan oor meer as haar besielde, oorspronklike popliedjies, haar sjarme op die verhoog en die asembenemende modes wat sy soos 'n verkleurmannetjie in paartyd tydens haar vertonings verwissel. Taylor Swift is 'n denkstroom, 'n leier van 'n beweging waarin sy mense soos ek meesleur om deur haar teenwoordigheid begeester te wees oor die lewe en die omgedopte wêreld om ons.

Eens 'n Swifty, altyd 'n Swifty.

My reis na Swift het presies 'n jaar gelede begin. Ek was in 'n soort oorgangstydperk in my lewe waar ek besig was om my geboortestad, Kaapstad, te verruil vir 'n nuwe werk en lewe in Nederland. Toe lees ek op Instagram Taylor Swift se Eras-toer kom na Europa.

Ek het dadelik vir my vriendin Megan Pieterse wat in Amsterdam woon 'n boodskap gestuur om te sê ons gaan nie kyk of ons die konsert kan bywoon nie. Ons gaan nie probeer om kaartjies te kry nie. Nee, Megs, ons móét gaan. As 'n boer 'n plan kan maak, kan 'n boeremeisie wraggies ook.

Taylor Swift en 'n groep dansers kap dit uit tydens haar Eras-toer in Munchen. Foto: Getty Images
Taylor Swift en 'n groep dansers kap dit uit tydens haar Eras-toer in Munchen. Foto: Getty Images

‘Jy het kaartjies'

Probeerslae om kaartjies te bekom vir die Amsterdam-vertoning is dadelik in die kiem gesmoor - 60 000 kaartjies is binne minute uitverkoop. Ek het vinnig my gr. 7-aardrykskunde afgestof en na ander venues in Europa begin kyk waar Swift gaan optree en só vir die eerste keer te hore gekom van die stad Gelsenkirchen in Duitsland. Wraggies nie te ver van my nuwe woonplek in Leiden nie! En só is die toetsbord geslaan en is daar gewag en gehoop en ook reeds gesoek na ander plekke waarheen 'n Swifty kan sweef, toe kry ek die flikker op my rekenaar.

Jy het kaartjies. Jy gaan daar wees.

Toe die dag uiteindelik aanbreek, het ek, Megan en haar man, Schalk, in 'n huurmotor vanaf Amsterdam na Gelsenkirchen gery. Ons het ons cowboy-hoede met die tossels gedra. Die woorde van elkeen van Swift se liedjies is in my brein afgestof, want ek wil nie, mag nie, gevang word dat ek nie saamsing wanneer sy eers begin sing nie.

Maar die beste was om - ná die inleef in die Swift-beweging, die aanbidding van haar musiek - te wonder hoe dit gaan wees om vir drie ure lank net 20 m van haar te staan en haar teenwoordigheid te ervaar.

Die afwagting was enorm, onaantasbaar, onwerklik.

By die aankoms in die stadion in Gelsenkirchen was daar reeds vooruitsigte vir 'n spesiale aand, danksy die bekende noukeurige organisasievermoë van die Duitsers. Van die duidelike aanwysings wat aanhangers na hul onderskeie ingange lei tot die seepgladde en doeltreffende sekuriteit het alles soos klokslag verloop. Die organiseerders het werklik aan elke moontlike detail gedink om 'n naatlose ervaring te verseker.

Een van die uitstaande aspekte daarvan was die vriendelikheid en behulpsaamheid van die personeel. Van die kaartjieknippers by die hekke tot die werkers by die uitstalruimtes - almal het warmte en entoesiasme uitgestraal. Hulle was goed ingelig en gretig om te help, of dit nou was om die naaste badkamer te vind of aanbevelings vir produkte te gee. Hul vriendelikheid het 'n persoonlike aanraking aan die geleentheid gegee wat 'n indruk op 'n mens gelaat het. Al klink dit soetsappig en romanties, kan ek nie anders as om te dink dat ook hulle deur Swift se gees geraak is nie.

Maar wag, ek ís soetsappig, hoopvol en romanties, want ek is mos 'n Swifty.

Taylor Swift op haar kniee, maar met miljoene aanhangers aan haar voete. Foto: Getty Images
Taylor Swift op haar kniee, maar met miljoene aanhangers aan haar voete. Foto: Getty Images

Hardegat en sensueel

Die atmosfeer by die Veltins-arena was magies. Aanhangers het selfgemaakte vriendskapsarmbande uitgeruil, 'n tradisie geïnspireer deur Swift se liedjie "You're on Your Own, Kid". Hierdie eenvoudige maar diepgaande gebaar tussen wildvreemdelinge het 'n onmiddellike gevoel van gemeenskap geskep. Vreemdelinge het net daar vriende geword terwyl ons hierdie kleurryke tekens van eenheid en gedeelde passie uitgeruil het.

Die lug het gebroei van opwinding en vriendskap. Aanhangers van alle ouderdomme, van verskeie agtergronde en lande - heelwat het van Suid-Afrika gereis vir hierdie konsert - is verenig deur hul liefde vir Swift. Dit was 'n wonderland van vriendelikheid, waar almal gretig was om nuwe verbintenisse te maak, stories te deel en herinneringe te skep.

Toe Swift uiteindelik die verhoog betree, het die arena in 'n oorverdowende gejuig uitgebars. Ek is seker ek was nie die enigste met 'n knop in my keel en armhare wat regop gestaan het nie.

Kan een mens so mooi wees? Bloedrooi lippe, die gloed van haar gladde hare wat soos 'n laag rooibruin-goud oor haar skouers val. Die houding - 'n kombinasie van hardegat selfvertroue, sensualiteit en liefde. Liefde vir haar kuns en om haar volgelinge te vermaak en betower.

Die energie was elektries terwyl sy treffer ná treffer uitgevoer het, elke liedjie 'n nostalgiese reis deur verskillende eras van haar roemryke loopbaan. Haar verhoogteenwoordigheid was boeiend en haar verbinding met die gehoor tasbaar. Swift het die merkwaardige vermoë om 'n massiewe arena intiem en persoonlik te laat voel.

Sy het moeiteloos tussen liedjies van verskillende albums oorgeskakel, elke era tot lewe gebring met pragtige beelde en slim choreografie. Dit was 'n noukeurig vervaardigde reis deur tyd wat die evolusie van haar musiek en die standhoudende ondersteuning van haar aanhangers gevier het.

Ongerepte vreugde

Maar wat my die meeste opgeval het van die Eras-toer was die gevoel van globale gemeenskap wat dit bevorder het. Aanhangers van alle uithoeke van die wêreld het in Gelsenkirchen bymekaargekom, verenig deur één mens.

Die konsert was meer as net 'n musikale uitvoering. Dit was 'n viering van die verbindings en vriendskappe wat deur haar musiek gevorm is.

Toe die laaste note van die aand wegsterf en konfetti val, het ek rondgekyk na die see van glimlaggende gesigte, na vreugde en vervulling.

Die Eras-toer was g'n gewone konsert nie. Dit was 'n bewys van musiek se vermoë om mense bymekaar te bring en om vriendelikheid en verbintenisse te inspireer.

Toe ek daardie aand die Veltins-arena verlaat, was dit met dankbaarheid. Die ervaring was alles waarvoor ek gehoop het en meer. Vir 'n meisie van Suid-Afrika was dit werklik iets wat jy net een keer in jou leeftyd sal beleef.

En 'n herinnering dat, ongeag waar ons vandaan kom, musiek die krag het om ons te verenig, om ons gesien en gehoor te laat voel, en om oomblikke van suiwer, ongerepte vreugde te skep.

  • Giardini woon in Leiden, Nederland, en werk vir 'n modegroep in Amsterdam.

Fenomeen

  • Die inkomste uit 'n enkele Taylor Swift-konsert word op $13 miljoen geraam.
  • Elke konsert word deur sowat 72 000 aanhangers bygewoon.
  • Die Eras-toer bestaan uit 152 optredes op vyf vastelande.
  • Die toer het op 17 Maart 2023 in Glendale, Arizona, begin en word op 8 Desember vanjaar in Vancouver, Kanada, afgesluit.
  • Die Eras-toer is die eerste musiekkonsert met 'n totale inkomste van meer as $1 miljard - die meeste nog en genoeg om aan Swift 'n Guinness World Record te besorg.
  • Opnames van die Eras-toer word in 8 500 rolprentteaters in meer as 100 lande vertoon.- Statista, techreport, wiki­pedia
Mia Giardini

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM