Die Weisse Rose was 'n groep heldhaftige studente wat 'n weerstandsbeweging binne Duitsland teen die Nazi-party begin het, skryf Marzahn Botha. In München is hulle kultusfigure waarvoor monumente opgerig is.

Die hoofstad van Beiere, München, is waar Hitler se Nasionaal-Sosialistiese (NS)-beweging arendsvlerke gekry het. Dit is beskou as die hoofkwartier van die NS-regering waar alles begin het met die "Bierkeller Putsch" - 'n mislukte staatsgreep op 9 November 1923 waarin Hitler en 2 000 man na die Feldherrnhalle op Odeonsplatz opgeruk het en 16 van Hitler se volgelinge deur die polisie doodgeskiet is.
Hitler is in hegtenis geneem en van hoogverraad aangekla. Hy is tot vyf jaar tronkstraf gevonnis en het in dié tyd Mein Kampf geskryf. Nege maande ná sy vonnis is hy vrygelaat.
Wat daarop gevolg het, was een van die donkerste tye in menseheugenis, met die stelselmatige uitmoor van nagenoeg ses miljoen Jode gedurende die Tweede Wêreldoorlog (1939-1945). Nog sowat vier miljoen "vyande van die Derde Ryk" moes ook met hul lewe boet.
Vandag is München 'n plek waar tekens van die Nazi-regering se wreedaardigheid amper op 'n openbare altaar uitgestal word sodat die boodskap diep en duidelik tref. "Dit het gebeur, daarom kan dit weer gebeur," in die woorde van Primo Levi, 'n Auschwitz-oorlewende.
Sedert die 1980's probeer dié voorspoedige Beierse hoofstad doelbewus om die land se verlede te erken en dit openlik te koester in 'n poging om van die toekoms 'n beter plek te maak. Dis asof München bewus geword het van sy spesiale historiese verantwoordelikheid en daarom 'n "kultuur van onthou" geskep het deur ruimtes in gedenkmuseums ter ere van slagoffers te omskep.
Teen die mure van die Dokumentasiesentrum naby Königsplatz, vroeër 'n paradegrond van die Nazi-ryk se weermag, staan geskryf: "Deur die verlede te koester moet mense leer dat demokrasie slegs kan werk as dit geanker staan in die vryheid wat deur die burgerlike samelewing ondersteun en in die alledaagse lewe uitgeleef word."
In Duitsland en elders in die wêreld word die sewe kernlede van die Weisse Rose-beweging as kultusfigure en selfs as martelaars beskou. Maar wie was hulle eintlik?

Sagte gras
Uit eer aan slagoffers van sy donker verlede is baie van die eertydse Nazi-monumente omskep in museums van kuns, musiek en geboue van dokumentêre geskiedenis wat gratis deur die publiek besoek kan word.
Ander Nazi-monumente is gesloop en tot op die grond afgebreek. Die Ehrentempel, waar Hitler se 16 ondersteuners gesterf het, is byvoorbeeld gesloop en vandag is daar slegs 'n sagte grasbedekking op die plek.
Vandag is Königsplatz 'n herinnering aan 'n afstootlike verlede, maar dit is ook die plek waar deesdae jolige musiekfeeste gehou word én betoog word om die demokrasie te versterk.
Maar dis die Weisse Rose-stigting by die Ludwig Maximillian-Universiteit (LMU) wat my tot nuwe insigte gebring het oor 'n weerstandsbeweging wat Nazi-Duitsland van bínne probeer beveg het. Die stigting is opgerig om hulde te bring aan 'n groep studente van wie die meeste uiteindelik met hul lewe geboet het omdat hulle openlik teen Hitler se tirannie in opstand gekom het.

Vandag word die studente se heldedade lewend gehou deur gedenktekens oor dié mooi stad heen en in boeke soos onder meer Sophie Scholl and The White Rose of flieks soos Sophie Scholl: The Final Days en Die Weisse Rose.
By die atrium van die LMU in die bekende Ludwigstrasse in München is 'n roerende gedenkteken van bladsye in die vorm van 'n roos in gietyster in die grond gemonteer. Die blaaie is natuurlik simbolies van die pamflette wat die lede van die Weisse Rose-beweging uitgedeel het waarin hulle hulle téén Hitler uitgedruk het.
In die binnehof kyk jy op en sien in jou geestesoog hoe die student Hans Scholl en sy suster, Sophie, destyds skelm pamflette met hul anti-Nazi-sentimente in die gange versprei het.
Op 'n somber lentedag tydens my besoek pronk wit rose in die atrium by die beelde ter nagedagtenis aan die groep van ses studente en 'n professor wat uiteindelik die hoogste prys betaal het.
Saam met Hans en Sophie was Christoph Probst die eerste wat uiteindelik gevang en tereggestel is. Daarna het Alexander Schmorell, prof. Kurt Huber, Willi Graf en Hans Leipelt gevolg. Almal was Duitsers.
Nagenoeg 60 ander lede van die groep en hul familielede is ook vervolg en vir lank tronk toe gestuur.
In Duitsland en elders in die wêreld word die sewe kernlede van die Weisse Rose-beweging as kultusfigure en selfs as martelaars beskou. Maar wie was hulle eintlik?

Onskuld en boosheid
Die Weisse Rose-beweging was 'n groep intelligente vriende en studente wat in die somer van 1942 begin het om pamflette te versprei waarin hulle teen die Nazi-leier se diktatuur geprotesteer het. Hulle het hulle beywer vir die beëindiging van die Tweede Wêreldoorlog en hulle uitgespreek teen wat gelyk het na mense se onvermoë om tussen reg en verkeerd te onderskei.
Die eerste vier pamflette het gesinspeel op die verwoestende oorlog en waarom die Nazi's verslaan moet word om 'n nuwe begin te bewerkstellig. Hulle het die pamflette Die Weisse Rose genoem, wat onder meer gesinspeel het op die verteenwoordiging van reinheid en onskuld in die aansien van boosheid.
As Duitse mediese studente het Hans, Schmorell en Graf in die oorlog aan die oosfront teen Rusland gesien watter afgryslike dade die Duitsers teenoor die Jode gepleeg het. Terug in München het hulle 'n weerstandsgroep gestig waarby Huber, Sophie, Probst en Traute Lafrenz aangesluit het.
Snags het hulle vryheidslagspreuke teen mure in die stad geskryf en in 1943 het hulle nóg twee pamflette saamgestel waarin hulle hulle onder meer op 'n "wekroep vir alle Duitsers" beroep het. Om die pamflette - sowat 6 000 is van die laaste twee gemaak - te skep was op sigself gewaagd, want papier was gerantsoeneer. Boonop sou mense jou vinnig verkla as hulle dink jy tree verdag op.
Die Scholl-sibbe het in die geheim die sesde memorandum met die opskrif "Aan alle medestudente!" by die universiteit versprei. Hulle het wapperende blaaie vanaf die tweede verdieping gestoot met die hoop dat medestudente dit sal optel, lees en gesprekke daaroor sal hê.
'n Skoonmaker, Jakob Schmid, het hulle egter gesien en by die Gestapo, die geheime polisie, gaan verkla.
Op 18 Februarie 1943 is Sophie en Hans gearresteer. Ná hewige ondervraging deur Oswald Schäfer, hoof van die Gestapo in München, het eers Hans en daarna Sophie hul aandeel in alles erken, maar hulle het nooit ander name bekend gemaak nie.
Die Gestapo het by nadere ondersoek 'n opgeskeurde sewende pamflet waarmee die beweging besig was, in Hans se sak gekry. Probst het dit geskryf en hoewel Hans en Sophie nooit sy naam aan die polisie gegee het nie, kon ondersoekers Probst se handskrif koppel aan een van sy ander geskrifte.
Sophie en Probst was doodstil. Hans het voor sy dood gegil "es lebe die Freiheit!" - lank lewe vryheid.
Jeugdige hoop
Toe Hans gevra is wat die betekenis is van die naam Weisse Rose, het hy gesê dit resoneer met die idee van vryheid, maar ook met intensie.
In die tronk en voor haar verhoor het Sophie op 'n papier die woord "Freiheit" geskryf wat toe gedurende die verhoor teen haar gebruik is.
In die hof is Sophie gevra of sy spyt is oor haar aandeel in die beweging.
"Van waar ek staan, moet ek ‘nee' sê. My mening is nou dieselfde as toe, dat ek die beste vir my mense probeer doen het. Dit is waarom ek nie spyt is oor my optrede nie en bereid is om die nagevolge te dra," was haar antwoord.
Sophie, Hans en Probst is op 22 Februarie 1943 deur die hof ter dood veroordeel. Vier uur later is die vonnis in die München Stadelheim-tronk met 'n valbyl voltrek.
Sophie en Probst was doodstil. Hans het voor sy dood gegil "es lebe die Freiheit!" - lank lewe vryheid.
Dis 81 jaar later dat ek LMU besoek. Op die kampus betoog studente vandag weer. Dié keer teen die oorlog in Gasa - maar dis ondersteuners van albei kante van die oorlog wat hier vreedsaam hul saak stel.
Dit laat my dink studentebetogings in Suid-Afrika - van die leerlinge wat op 16 Junie 1976 in opstand gekom het teen Afrikaans as onderrigtaal, tot die meer onlangse #FeesMustFall, waaroor baie mense aanvanklik simpatiek was, tot dit gewelddadig geraak het.
Dis die jeug se geesdrif oor die moontlikheid van 'n beter toekoms wat in sulke omstandighede onkeerbaar uitborrel.
Soos die Duitse skrywer Thomas Mann op 27 Junie 1943 in 'n BBC-onderhoud oor die Weisse Rose gesê het: "Julle dapper jong mense! Julle het nie verniet gesterf nie. Jul name sal vir altyd onthou word. In Duitsland het die Nazi's afgryslike monumente vir afstootlike misdadigers en moordenaars opgerig. In die Duitse revolusie, die ware een, sal ons dit afbreek en jul name vir altyd herdenk. Want toe die donker oor Duitsland en Europa gehang het, het julle geglo . . . geloof in 'n nuwe vryheid en eer wag op ons."
- Botha is 'n vryskut-fotojoernalis van die Kaap.




















