As al die immigrante wêreldwyd in een land saamgevoeg sou word, sou dit die vyfde grootste land wees. Flip Smit gee 'n oorsig van die omvang van immigrasie.
Internasionale immigrasie is onstuitbaar. Dis omdat werksoekers, vlugtelinge, asielsoekers, handelaars in mense en dwelms asook misdaadsindikate onderdeur grensheinings tonnel, oor grensmure klouter en op oorvol bootjies in die see verdrink - almal op soek na werk en 'n beter lewe.
Immigrasie het verreikende implikasies vir misdaad en veiligheid. Dit het voor- én nadele. Immigrante bring soms vaardighede en stuur of neem geld en goedere na familie wat in hul land agtergebly het. In Suid-Afrika met sy agt miljoen werkloses skep dit groot probleme.
Daar is getallegewys min inligting oor immigrante omdat hulle meestal onder die radar beweeg uit vrees vir deportasie.
Wêreldoorsig
Meer mense as ooit tevore woon in lande wat nie hul geboorteland is nie. Tans is daar 281 miljoen immigrante, wat ongeveer 4% van die wêreldbevolking van 8 miljard uitmaak. As al die immigrante in een land saamgevoeg word, sal dit die vyfde grootste land ter wêreld wees. In net meer as 'n dekade het hierdie getal met 27% toegeneem.
Daar het egter 'n groot verskuiwing plaasgevind vanaf Afrika en die Midde-Ooste na Europa en Noord-Amerika. Immigrante vervul sleutelrolle in Europa en die VSA, waar werkgeleenthede ontstaan weens die veroudering van die plaaslike bevolking.

VSA
Die VSA is die land met die grootste immigrantebevolking - 46,2 miljoen uit 'n bevolking van 330 miljoen. Dis egter die 11,7 miljoen onwettiges of ongedokumenteerdes wat die kollig steel. Nes in Suid-Afrika is daar groot verskille in die getalle. Sommiges stel die getal so hoog as 30 miljoen. Oudpres. Donald Trump se veelbesproke grensmuur tussen die VSA en Mexiko geniet wêreldwyd aandag.
Mexiko is verreweg die land wat die meeste ongedokumenteerdes lewer en daar is veral onwettige handel in dwelms. Standpunte oor ongedokumenteerde immigrante sal 'n sleutelrol speel in die presidentsverkiesing op 5 November. Trump het onlangs na onwettige immigrante as "diere" verwys en gesê hulle "vergiftig ons bloed". Hy beloof strenger optrede teen immigrante en dat hy selfs die nasionale weermag, sonder die toestemming van die senaat, sal gebruik om hulle te verwyder. Trump beskuldig pres. Joe Biden daarvan dat hy "te sag" met immigrante is.

Brittanje
Brittanje se plan om asielsoekers na Rwanda te stuur, wek groot opspraak. Onlangs is daar in die parlement in Londen gedebatteer oor 'n beoogde wetsontwerp wat deur die hooggeregshof verwerp is. Groot bedrae geld is reeds aan die Rwandese regering betaal. Rishi Sunak, Britse premier, het bekend gemaak dat asielsoekers se huisvesting in hotelle die staat R140 miljoen per dag kos.
In 2022 was daar 10 miljoen immigrante, van wie drie miljoen in Londen gewoon het. Hulle maak 14,8% van die totale bevolking uit.

Nederland
Immigrasie het onlangs 'n belangrike rol in Nederland gespeel: Dit het die verregse Geert Wilders die geleentheid gegee om 'n koalisieregering saam te stel. Wilders is veral teen Moslem-immigrante gekant en het al verklaar hy sal die Koran en moskees verbied.
Die helfte van die drie miljoen immigrante uit die totale bevolking van 16 miljoen is van nie-Europese afkoms. Dit is veral die vinnige aanwas van dié immigrante teenoor die stagnerende - selfs dalende - geboortesyfer van die Nederlanders wat groot kommer wek. Die land se afhanklikheid van immigrante vir die arbeidsmag het onlangs na vore gekom toe sakeleiers sterk beswaar gemaak het teen Wilders se uitsprake omdat hulle vrees hulle sal werknemers verloor.
In 'n klein land soos Nederland met slegs 16 miljoen inwoners is drie miljoen immigrante baie ooglopend.

Suid-Afrika
Volgens Statistieke Suid-Afrika (SSA) was daar 2,4 miljoen immigrante in Suid-Afrika gedurende die nasionale sensus van 2022. Immigrante maak 3% van die bevolking van 62 miljoen uit.
Dié syfers sal deur min - indien enige - kundiges aanvaar word. Sewe miljoen tot tien miljoen sal waarskynlik nader aan die kol wees.
Onlangse gebeure staaf dit. Die landwye staking van die vragmotorbedryf weens die indiensneming van buitelandse vragmotorbestuurders sou op 20 Mei begin het. Dit is egter op die nippertjie deur bemiddeling en beloftes van die regering afgelas. Daar is ook ander gevalle: Polisielede het onlangs in Gauteng en die Wes-Kaap op die woonplekke van verskeie immigrante toegeslaan; onwettige mynboubedrywighede waarby meestal ongedokumenteerde persone (zama-zamas) betrokke is, kom landwyd voor; en gedurende die staking van gesondheidswerkers in Zimbabwe 'n paar jaar gelede is tot 60% van die beddens in staatshospitale in Gauteng beset deur Zimbabwiese vroue wat in kraam was.
Die deportasie van veral asielsoekers is duur en is meestal 'n draaideur omdat die gedeporteerdes binne 'n kort tydjie weer in Suid-Afrika in hegtenis geneem word. Suid-Afrika het 'n aantreklike bestemming geword vir werksoekers, misdadigers, dwelm- en mensehandelaars en onwettige sindikate. Dit bedreig die veiligheid en kan selfs die soewereiniteit in gevaar stel.
Ná die ontdekking van diamante en goud is werkers in die lande van Suider-Afrika, selfs so ver as Malawi, gewerf. In meer as 150 jaar is netwerke gebou wat ná 1994 handig te pas gekom het.
Tussen 2012 en 2017 het bykans 'n kwart van die superrykes die land verlaat.
Die sluise is oopgetrek
Ná 1994 is veral in die buurlande hoë verwagtinge van Suid-Afrika se potensiaal gekoester. Teen 1999 is die sluise behoorlik oopgetrek. Verskeie groen- en witskrifte in die parlement het daartoe gelei dat die klem van grensbeheer na inspeksies by die werkplek verskuif het. Die ekonomiese ineenstorting van Zimbabwe ná 2000 het duisende immigrante na Suid-Afrika laat stroom.
Suid-Afrika se poreuse land- en kusgrense van altesaam 4 470 km met 71 toegangspoorte maak dit onmoontlik om streng grensbeheer toe te pas - en die regering erken dit. Die grense met Zimbabwe en Botswana sny deur gemeenskappe en daar is daagliks verkeer oor die grense. Dit skep 'n situasie wat sindikate maklik kan uitbuit.

Tien lande van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap lewer meer as 80% van die immigrante. Die inkomste per capita van sommige lande is tot vyf keer kleiner as Suid-Afrika s'n.
Belangrike implikasies
Die implikasies van die uitstroming van hooggeskoolde beroepsmense en die instroming van mense wat meestal ongeskool en arm is, word nie altyd deeglik in ag geneem nie. Dit sal Suid-Afrika toenemend knou om mededingend te bly. Die land slaag net nie daarin om hooggeskooldes te trek en te behou nie.
Daar is groot meningsverskille oor hoeveel mense die land sedert die 1980's verlaat en hoeveel teruggekeer het. Die SSA het op 26 Maart 2024 'n verslag, "Immigration profile report for South Africa: A country profile 2023", uitgereik. Daarvolgens het 612 000 Suid-Afrikaners die land verlaat. Hierdie syfer is waarskynlik te laag, want 'n ontleding van die sensusse van die onderskeie bestemmingslande dui op 912 000.
Tussen 2012 en 2017 het bykans 'n kwart van die superrykes die land verlaat. Baie welvarende mense geniet nog die Suid-Afrikaanse son, terwyl hul bates lankal na die buiteland geskuif is.
Brittanje, Australië en die VSA is steeds die voorkeurlande.

Die aantal uitgewekenes wat teruggekeer het, toon 'n daling van 45 000 in 2011 tot 27 000 in 2022. Meer swart mense as wit mense keer terug na Suid-Afrika.
Slotbeskouing
Soos die gaping tussen ryk en arm lande groter word, sal immigrasie toeneem. Intussen daal die geboortesyfer van Europeërs, terwyl dié van immigrante relatief hoog is. Veroudering dra verder by tot 'n toenemende afhanklikheid van immigrante. Dié tendense geld ook in Suid-Afrika, waar swart ekonomiese bemagtiging die proses versnel.
Word Europees-geborenes en hul nasate 'n kwynende minderheid? Waarom onderneem oudpres. Trump om die "anti-wit-gevoel" teen te werk? Dis 'n feit dat Europees-gebore mense toenemend 'n minderheid word. Afrika se bevolking groei die vinnigste in die wêreld en sal in net meer as 20 jaar verdubbel.
Dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys en opleiding, het 'n venynige aanval op die Universiteit Stellenbosch gedoen omdat dié instelling se senaat nie volgens sy wens oor die oorlog tussen Israel en Hamas gestem het nie. Hy skryf: "But let us be clear about one thing: the collective ‘West' is not the voice of the majority of the international community."
Oswald Spengler se opspraakwekkende en omstrede boek Der Untergang des Abendlandes (in Engels vertaal as The decline of the West) kan met vrug weer gelees word. Die boek is in twee volumes uitgegee, onderskeidelik in 1918 en 1922.
• Prof. Smit is 'n voormalige rektor van die Universiteit van Pretoria.


















