Aktueel

Jou werkplek: Goed vir jou?

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die WGO sê depressie en angs alleen lei tot die verlies van ongeveer 12 miljard werkdae per jaar. Met ander woorde: Dis nie goed vir ons óf ons werkplekke dat ons in stilte ly nie. Foto: iStock
Die WGO sê depressie en angs alleen lei tot die verlies van ongeveer 12 miljard werkdae per jaar. Met ander woorde: Dis nie goed vir ons óf ons werkplekke dat ons in stilte ly nie. Foto: iStock (Liubomyr Vorona)

Donderdag is Wêrelddag vir Psigiese Gesondheid. Vanjaar se tema is "Psigiese gesondheid by die werk", skryf Lizette Rabe.

Oktober het aangebreek, wat beteken HOOPtober is hier. Met vandeesmaand se fokus op psigiese gesondheid beteken dit daar ís hoop vir almal wat aan psigiese siektes ly.

Vanjaar is die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se tema vir Wêrelddag vir Psigiese Gesondheid "Psigiese gesondheid by die werk". En dis natuurlik hoog tyd. Hoewel die stigma en stilte rondom psigiese gesondheid al effens verminder het, is dit steeds 'n onderwerp wat nie werklik in die werkplek geopper word nie.

Die WGO sê depressie en angs alleen lei tot die verlies van ongeveer 12 miljard werkdae per jaar.

Jy sal nie twee keer dink om siekteverlof te neem vir 'n fisieke siekte nie. Hoekom nie vir 'n psigiese gesondheidstoestand nie? Psigiese gesondheid is net so belangrik soos fisieke gesondheid; om verlof te neem vir jou psigiese gesondheid net so geldig soos vir jou fisieke gesondheid.

Tog: Ons ly eerder steeds in stilte as om daaroor te praat. Die WGO sê depressie en angs alleen lei tot die verlies van ongeveer 12 miljard werkdae per jaar. Met ander woorde: Dis nie goed vir ons óf ons werkplekke dat ons in stilte ly nie.

Daarom dat ons die stigma en die stilte moet verbreek, en hierdie jaar is die geleentheid om dit te doen - ook in die werkplek.

Ultra-toksiese omgewings

Die WGO het reeds in 2022 riglyne oor psigiese gesondheid in die werkplek gepubliseer, getiteld "WHO Guidelines on Mental Health at Work". 'n Mens sou kon hoop dat dit teen hierdie tyd reeds 'n verskil kon maak in deesdae se heel ander werkomgewing in ons post-Covid-tyd, as pre-Covid. Veral omdat vandag se werkomgewings volgens sommige ultra-toksiese omgewings geword het. En omdat dit 'n plek geword het waar die eufemistiese "herstrukturering", of, in gewone taal, afleggings, 'n gedurige werklikheid is.

Maak Oktober jou HOOPtober. Foto: Unsplash
Maak Oktober jou HOOPtober. Foto: Unsplash

Dit impliseer ook dat werknemers eenvoudig nie die moed het om na 'n lynbestuurder te gaan om vir psigiese gesondheidsverlof te vra nie. Dit kan jou dalk net 'n teiken van diskriminasie maak - indien nie om deel van daardie volgende siklus van "herstrukturering" te word nie.

Maar: Ons het almal 'n plig om vir mekaar te sorg, en vanjaar se oorkoepelende doelwit van Wêrelddag vir Psigiese Gesondheid is spesifiek gemik op die werkplek - behalwe om bewusmaking van psigiese gesondheidskwessies oor die aardbol heen te verhoog.

Dit word ook gesien as " 'n geleentheid vir alle belanghebbendes wat met psigiese-gesondheidskwessies werk om oor hul werk te praat, ook oor wat méér gedoen moet word om psigiese-gesondheidsorg 'n werklikheid vir mense wêreldwyd te maak".

Meer as een uit elke drie

Psigiese gesondheid word gedefinieer as meer as net die afwesigheid van 'n psigiese siekte. Dis veel eerder 'n "staat van psigiese welsyn wat mense in staat stel om hul daaglikse stres te hanteer, om hul vermoëns te verwesenlik, om goed te kan leer en goed te kan werk, en om by te dra tot hul gemeenskappe".

Volgens die WGO word meer as een uit elke drie mense geraak en is psigiese toestande die grootste oorsaak van siekte en gestremdheid wêreldwyd.

Die 2024-tema van "psigiese gesondheid by die werk" wil juis die "noodsaaklike verband tussen psigiese gesondheid en werk" beklemtoon. Volgens die WGO kan 'n veilige en gesonde werkomgewing inderdaad ook " 'n beskermende faktor vir psigiese gesondheid" wees, maar faktore wat stigma, diskriminasie en blootstelling aan byvoorbeeld teistering verhoog, kan ongelukkig tegelykertyd ook "beduidend" wees.

Prof. Lizette Rabe  Foto: Jaco Marais
Prof. Lizette Rabe Foto: Jaco Marais

Dit alles het 'n groot impak op 'n mens se algehele lewenskwaliteit en gevolglik jou deelname of produktiwiteit by die werk.

En eintlik: Moet ons dan nie verseker dat elkeen van ons die geleentheid het om by die werk te floreer nie? Dis tog tot voordeel van die werkomgewing.

Depressie en angs kos die globale ekonomie $1 triljoen per jaar weens 'n verlies aan produktiwiteit.

'n Omvattende nuwe studie in die hoogaangeskrewe mediese joernaal The Lancet het getoon dat in 2021 wêreldwyd meer as 3 miljard mense met 'n neurologiese toestand geleef het. Dit sluit in alle soorte breinsiektes benewens dié wat onder "gewone" psigiese siektes geklassifiseer word. Volgens die WGO word meer as een uit elke drie mense geraak en is psigiese toestande die grootste oorsaak van siekte en gestremdheid wêreldwyd.

'n Openbare gesondheidskrisis

Hierdie siektes omsluit wat genoem word CMD's, die afkorting vir "common mental disorders", of algemene psigiese stoornisse, soos depressie en die hele spektrum van angs. In hul geheel het die aantal siektes en voortydige dood weens "gestremdheid-aangepaste lewensjare" weens neurologiese toestande sedert 1990 met 18% toegeneem (in Engels: "disability-adjusted life years" of DALYs).

Daar word geskat dat 15% van alle werkende mense die een of ander tyd 'n psigiese siekte gedurende hul loopbaan sal ontwikkel. Depressie en angs kos die globale ekonomie $1 triljoen per jaar weens 'n verlies aan produktiwiteit. Ook: Mense wat aan ernstige psigiese siektes ly, word gewoonlik nie die geleentheid gegee om te werk nie, hoewel die feit dat jy 'n werk hét, belangrik is vir jou herstel.

Die omvang van psigiese gesondheid as 'n openbare gesondheidskrisis is ongelukkig baie groter as die "belegging" om die probleem op te los, selfs ondanks vele internasionale konvensies en nasionale beleide wat werknemers se psigiese en fisieke gesondheid moet beskerm.

Die sekondêre lyers

Die WGO sê vanjaar se kernboodskap moet wees dat werknemers werklike risiko's vir psigiese gesondheid by die werk ervaar. Dit sluit faktore wat wissel van swak werksomstandighede tot lae salarisse in. En natuurlik, daardie gedurige gevoel van onsekerheid dat jy dalk in die volgende groep kan wees om afgedank te word wanneer daar weer sprake van "herstrukturering" is.

'n Gebrek aan ondersteuning kan verder 'n negatiewe uitwerking hê op "selfvertroue, genot by die werk, kapasiteit om te werk, afwesigheid, en jou vermoë om werk te kry". Daar is natuurlik ook sekondêre lyers: die versorgers, soos familie en vriende, wat geraak word.

Dit het 'n groot impak op afwesigheid van werk en verhoogde personeelomset. Nog 'n faktor is stigma. Die WGO wil hê dat "werkplek-diskriminasie deur bewusmaking, opleiding en betrokkenheid by mense wat met psigiese gesondheidstoestande leef", verminder word sodat 'n "gesonder, meer inklusiewe werkomgewing" geskep kan word.

Wat kan werkgewers doen?

Ook moet werkgewers hul werknemers wat aan psigiese gesondheidstoestande ly, ondersteun. Dit kan insluit die organisering van "gereelde steungroep-vergaderings, die skedulering van gereelde af-tye en die geleidelike vermeerdering van take" - selfs die verskaffing van bêreplek vir medikasie.

Bestuurders moet opleiding kry om psigiese gesondheid op maatskappyvlak te ondersteun.  Foto: iStock
Bestuurders moet opleiding kry om psigiese gesondheid op maatskappyvlak te ondersteun. Foto: iStock

Bestuurders moet opleiding kry om psigiese gesondheid op maatskappyvlak te ondersteun. Dis ook belangrik dat werknemers én werkgewers opleiding oor psigiese-gesondheidsgeletterdheid en bewusmaking moet kry.

Maar om psigiese gesondheid te prioritiseer, moet die impetus kom van regerings, werkgewers en verteenwoordigende organisasies wat moet "saamwerk om beleide te skep wat psigiese-gesondheidsrisiko's voorkom, welstand bevorder, en ondersteunende werkplekke bou".

'n Kliniese, biologiese toestand

En natuurlik, laastens, dis jy wat verantwoordelikheid moet neem en vir jou eie psigiese gesondheid moet sorg. Soos die WGO sê: "Alhoewel regerings en werkgewers die primêre verantwoordelikheid het om psigiese gesondheid by die werk te beskerm en te bevorder, kan jy stappe doen om jou eie welstand te ondersteun."

Benewens om tegnieke te leer om jou stres te bestuur, moet jy "bewus bly van veranderinge in jou psigiese gesondheid". Die belangrikste is sekerlik om te besef jy het hulp nodig en om dit te deel met 'n familielid, vriend, kollega, toesighouer of - veral - 'n gesondheidswerker.

Psigiese gesondheid is net so 'n kliniese, biologiese toestand soos enige ander siekte en kan behandel word.

As jy aan 'n psigiese gesondheidstoestand ly en of jy dit aan toestande by jou werkplek kan toeskryf of nie, maak hierdie Oktober en vanjaar se Wêrelddag vir Psigiese Gesondheid op 10 Oktober jou HOOPtober.

Kry hulp. Psigiese gesondheid is net so 'n kliniese, biologiese toestand soos enige ander siekte en kan behandel word. Dink 'n bietjie hoeveel ure jy aan werk spandeer en hoe daardie werk betekenis aan jou lewe gee. En gee jouself die geleentheid om dit vervullend, bevredigend en vrugbaar te maak.

En hou vas aan HOOP - dit sal jou nie teleurstel nie.

• Rabe is emeritus professor aan die Universiteit Stellenbosch en stigter van die Ithemba-stigting - ithemba beteken hoop - om bewusmaking van psigiese gesondheid te kweek. Op 27 Oktober eindig die Hoop Hike "HOOPtober" as Bewusmakingsmaand vir Psigiese Gesondheid.

Vir hulp

Lifeline: 0861 322 322

Kry 'n sielkundige of psigiater naby jou: https://mentalhealthsa.org.za/mental-health-service-providers/

Sadag se 24-uur-hulplyn: 0800 456 789, 0800 567 567, of SMS 31393

Childline: 116

Lizette Rabe

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM