Jy is dalk reeds onwetend deel van 'n nuwe gonswoord - die sirkel-ekonomie. Maar hoe het dit ontstaan, wat wag vorentoe en hoe raak dit jou? Marguerite van Wyk belig die saak.

Is jy lief daarvoor om tweedehandse klere of boeke te koop? Thrifting (tweedehands-transaksies) is tans juis een van dié grootste neigings.
Dit is nou ook deel van die sirkel-ekonomie, 'n stelsel waar materiaal en produkte nie as afval eindig nie. Goedere bly dan in sirkulasie deur herbenutting, byvoorbeeld met die aankoop van tweedehandse klere, of hervervaardiging, herwinning en kompos - als met die vernuwing van die omgewing as doel. So verduidelik dr. Lize Barclay, senior lektor in stelseldenke en toekomsstudies by die Universiteit Stellenbosch se sakeskool, dié konsepte.
Saam met dié beginsels berus die sirkel-ekonomie ook op die idee dat produkte ontwerp word met die idee om afval te beperk.
Die bekende lineêre ekonomie - jy koop 'n produk, gebruik dit en gooi dit weg - is presies die teenoorgestelde van die sirkel-ekonomie. Daar's 'n begin, middel en einde.
Omdat die mensdom egter al hoe meer bekommerd raak oor die voorbestaan van die planeet, het die sirkel-ekonomie 'n belangrike neiging geword. Ons hoor gereeld om die etenstafel hoe bekommerd ouers is dat hul kroos of kleinkinders eendag nie meer die wonder van die aarde soos ons dit nou ken, gaan beleef nie.
Wetenskaplikes reken byvoorbeeld voor 2050 kan die wêreld al vir ewig vaarwel sê aan die Afrika-woudolifant, die Amoer-luiperd wat voorkom in die grensgebied tussen Rusland, China en Noord-Korea, die noordelike langoor-vlermuis in Amerika en die Yangtze- vinlose tornyne in China.
"Ons raak al hoe meer bewus daarvan dat die aarde en sy hulpbronne beperk is. Ons kan nie aanhou om minerale te onttrek, produkte te vervaardig en dit dan op die ashoop te gooi nie. Daar's nie genoeg ruimte vir stortingsterreine nie, en soos produkte afbreek, besoedel dit die omgewing," sê Barclay.
Statistieke laat 'n mens sidder: Na raming sal 26 miljard metrieke ton plastiek teen 2050 vervaardig word, waarvan die helfte in stortingsterreine en die omgewing sal beland.
Miljarde jare nadat die mensdom uitgesterf het, sal die enigste "oorblyfsel" van die mens waarskynlik dié goedkoop plastiek (-verpakkings) wees.
Toekomskenners voorspel dat dit teen 2100 weens aardverwarming in sekere groot Suid- en Oos-Asiatiese stede dodelik kan wees om slegs 'n paar uur buite te vertoef. Stygende watervlakke het reeds agt eilande in die westelike gedeelte van die Suidelike Stille Oseaan laat verdwyn. Na raming sal 50 eilande teen 2100 onder seevlak verdwyn. Dit verklaar hoekom eilandbewoners van die Republiek van Kiribati al by Nieu-Seeland aansoek doen om "klimaat-vlugtelingstatus".
‘Nul-afval'
Die modebedryf is 'n groot skuldige as dit kom by die uitputting van die aarde se hulpbronne. Meer as 70 000 ton tekstielafval het slegs in 2022 in munisipale stortingsterreine in die Kaap beland.
Nicola Cooper, mode-tendenskenner van die Kaap, sê millen-niërs (gebore tussen 1980 en 1994), Generasie Z (1995 tot 2009) en die Alfa-generasie (vanaf 2010) koop meer bewustelik. "Die gewildheid van die sirkel-ekonomie, wat gedryf word deur besoedeling, aardverwarming, etiese behandeling van werkers en innoverende vervaardiging, gaan vir seker 'n reuse-invloed uitoefen op ontwerp, verbruikerskeuse, gebruik en herwinning.
"Elke besluit van verbruikers kan wêreldleiers en sakelui beïnvloed om die aarde meer volhoubaar te ‘bestuur'. Die krag lê, meer as ooit, by bewustelike, ingeligte verbruikers," sê Cooper.
Barclay verwys ook na die "nul-afval-leefstyl", waarbinne die thrifting-neiging pas.
Ander voorbeelde van die "nul-afval"-leefstyl is om oorskiet-plastiek, -papier, -metaal en -glas in verskillende vullisblikke vir herwinning te plaas.
Teen 2030 gaan die mark vir tweedehandse klere twee keer so groot wees as vinnige modes, aldus die internasionale marknavorsers GlobalData.
Selfs glanspersoonlikhede ondersteun die sirkel-ekonomie. Die aktrise Katie Holmes en die Amerikaanse model Bella Hadid erken ruiterlik dat hulle tweedehandse klere huur. Die Amerikaanse model Kendall Jenner en Britse aktrise Naomi Watts gebruik fiets-deel-dienste wanneer hulle reis.
Ander voorbeelde van die "nul-afval"-leefstyl is om oorskiet-plastiek, -papier, -metaal en -glas in verskillende vullisblikke vir herwinning te plaas. "Maak jou eie kompos deur organiese afval - groente- en vrugteskille, eierdoppe en ander kombuisafval - in 'n komposhoop te verwerk," sê Barclay.
"Sekere ‘nul-afval-winkels' soos Shop Zero, Nude Foods en toenemend Food Lovers Market, waar min tot geen verpakking (en beslis nie plastiek nie) gebruik word, raak al hoe gewilder," sê Barclay.
Waar het dit begin?
Die sirkel-ekonomie is niks nuuts nie.
"Ons oupas en oumas het tot met die 1950's die meeste dinge wat oud was, reggemaak en hergebruik. Dis eers daarna dat massaverbruik en die weggooi-samelewing kop uitgesteek het," sê Barclay.
Boeke soos Silent Spring deur Rachel Carson en "The Limits to Growth"-verslag wat in onderskeidelik 1962 en 1972 verskyn het, het die kollig op massavervaardiging en -verbruik geplaas.
"In die 1990's het die sirkel-ekonomie omgewingsbewustheid in China aangehelp en 'n herwinningskultuur begin. Deesdae sien al hoe meer maatskappye, produsente en ontwerpers die voordele in van sirkelontwerp en die sirkel-ekonomie. Dit maak sin vir die omgewing, vir verbruikers, maar dit lei ook tot besparing," aldus Barclay.
Dis moeilik om te sê presies waar die term sirkel-ekonomie ontstaan het.
In die boek Cradle to Cradle: Remaking the Way We Make Things, wat in 2002 uitgegee is, het die Duitse chemikus Michael Braungart en dioe Amerikaanse argitek William McDonough die akademiese konsep "sirkel-ekonomie" meer toeganklik (hoofstroom) verwoord. McDonough is in 2017 by die Wêreld Ekonomiese Forum as "die vader van die sirkel-ekonomie" bekend gestel.
Maar Ellen MacArthur, wat in 2005 een van die vinnigste solo-seiljagvaarte om die aarde voltooi het, het glo óók met die term vorendag gekom. Nadat sy 71 dae met beperkte brandstof, kos en ander voorraad op die water oor die weg moes kom, het sy besef die wêreld werk nie veel anders nie. Daar is beperkte hulpbronne, en dís waarmee ons moet klaarkom. Só begin sy die Ellen MacArthur-stigting, 'n organisasie sonder winsbejag wat wêreldwyd 'n bydrae tot die voortbestaan van die aarde en die vermindering van afvalprodukte maak deur te fokus op die sirkel-ekonomie.
Geldsake
Die ekonomiese uitwerking van die sirkel-ekonomie kan nie onderskat word nie.
Volgens Ruben Botha, welvaartsbestuurder by PSG Wealth Hermanus, moedig dit innovasie aan en skep die potensiaal om nuwe sakegeleenthede te bied in bedrywe wat voorheen klein was, of nie eens bestaan het nie. "Dít bied die geleentheid tot werkskepping, wat die ekonomie positief kan beïnvloed," sê Botha.
"Maar die oorskakeling na die sirkel-ekonomie gaan nie oornag gebeur nie," meen Barclay. "Dis immers ontwerpgedrewe, waar prosesse stelselmatig verander. Elke verandering in die tegnologie of produksie, beteken dat mense werk verloor, maar dit kán wel werk skep."
Sy verwys na die "nul-afval"-beweging wat tot baie nuwe kleinsake-ondernemings gelei het. "Winkels en produsente pas stelselmatig aan by die sirkel-ekonomie. Die eerste stap is om verbruikers bewus te maak om dit as 'n geleentheid te sien en om hulle verantwoordelik en eties te bedien."
Soos met die meeste verandering, is die sleutel tot 'n volhoubare voordeel die gewilligheid van maatskappye om bestaande prosesse te verander en in werking te stel, meen Botha. Hy voeg by dat dit koste vir die maatskappy kan beteken om bestaande sakemodelle aan te pas.
"Uit 'n beleggingsoogpunt kan veranderinge (tot 'n sirkel-ekonomie) in die maatskappy verskillende sektore beïnvloed," meen Botha. "Die impak van maatskappye se omgewingsfokus het die laaste paar jaar al hoe belangriker geword wanneer beleggers sekere besluite neem. Beleggers plaas dus effe meer klem op maatskappye met volhoubare, omgewingsvriendelike bedrywighede."
Lizelle Pienaar, Rand Merchant Bank se hoof van tesourie en handelsoplossings, reken 'n bank wat oor die toekenning van kapitaal besluit, kan vele rolle vervul om die oorgang na die sirkel-ekonomie te bevorder. "Dit is belangrik om dié konsep te integreer in sakestrategieë en prosesse en dan toe te sien dat dit toegepas word."
Die grootste voordele van dié neiging is die vermindering van besoedeling, die verbetering van die omgewing en lewensgehalte.
"Mense ervaar ook 'n mate van vervulling dat hulle, al is dit hoe klein, kan help om die aarde te probeer red vir die nageslag," meem Barclay.
- Aanvullende bronne: discovermagazine.com, science.org, LinkedIn, rts.com, www.ellenmacarthurfoundation.org.
- Van Wyk is 'n vryskutjoernalis van Kaapstad.














