Aktueel

KYK | ‘Nie wêreldoorlog, wel gróót omwenteling’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Ons stuur nie noodwendig op 'n Derde Wêreldoorlog af nie, maar daar is wel 'n baie komplekse magstryd om die wêreldorde te verander, sê kenners. Erika de Beer berig.

'n Magspel is op die wêreldskaakbord aan die gang oor wie die reëls van die spel kan bepaal, sê prof. Anthoni van Nieuwkerk.

Maar dreig nog 'n wêreldoorlog?

Dit was die tema van die Netwerk24-gesprek waaraan Van Nieuwkerk Donderdag op die Toyota Stellenbosch Woordfees saam met Jaco Kleynhans en prof. Francois Vrey deelgeneem het.

Dit kom kort nadat Iran missiele op Israel afgevuur het.

Rusland is op die voorvoet in die oorlog teen Oekraïne en pres. Wladimir Poetin het verlede week weer met kernwapens gedreig.

"Omtrent die helfte van Afrika is in konflikte gewikkel," sê Gert van der Westhuizen, politieke redakteur van Netwerk24 en gespreksleier.

In die Soedannese burgeroorlog is minstens 150 000 mense binne 'n jaar dood, wys Kleynhans uit. En internasionale militêre besteding neem die afgelope dekade vinniger toe as wat die wêreldekonomie groei.

Prof. Anthoni van Nieuwkerk (voor) aan die woord in 'n Netwerk24-gesprek op die Toyota Stellenbosch Woordfees terwyl die ander deelnemers, Jaco Kleynhans en prof. Francois Vrey, luister. Foto: Jaco Marais
Prof. Anthoni van Nieuwkerk (voor) aan die woord in 'n Netwerk24-gesprek op die Toyota Stellenbosch Woordfees terwyl die ander deelnemers, Jaco Kleynhans en prof. Francois Vrey, luister. Foto: Jaco Marais

‘Verband tussen konflikte'

As 'n wêreldoorlog uitbreek waarin al die groot moondhede en hul vennote betrokke raak, sal kernwapens heel waarskynlik gebruik word, sê Van Nieuwkerk, professor in internasionale en diplomasiestudie aan Unisa se Thabo Mbeki-Afrika-skool. "Juis om daardie rede dink ek nie gaan ons binnekort so 'n tipe verskriklike konflik beleef nie."

Die liberale Westerse wêreldorde, met Amerika aan die voorpunt, word nou uitgedaag deur 'n toenemend invloedryke groep lande in die ontwikkelende wêreld.

In dié proses "kom 'n klomp konflik en spanning los".

Kleynhans, hoof van internasionale betrekkinge by die Solidariteit Beweging, sê: " 'n Groot volgende konflik is nie noodwendig 'n Derde Wêreldoorlog soos ons dink aan wêreldoorloë binne die historiese konteks nie, maar ons moenie die wyse waarop verskillende konfliksituasies in die wêreld tans wel met mekaar verbind is, onderskat nie."

Dis veral die Brics-alliansie - waarvan Suid-Afrika deel is en waartoe Iran ook toegelaat is - wat die wêreldorde en Amerika se rol as "wêreldpolisieman" uitdaag.

Die proses kan volgens Kleynhans nie gereduseer word tot 'n oorgang "van 'n Westers-geleide wêreld wat veral deur Amerika gedomineer word, na een wat noodwendig deur China gedomineer sal word" nie.

Indië of Indonesië kan dalk oor 10, 15 jaar die grootste mag in Asië wees. "Die Golflande is besig om hul stemme te begin dik maak."

Prof. Anthoni van Nieuwkerk  Foto: Jaco Marais
Prof. Anthoni van Nieuwkerk Foto: Jaco Marais

Van Nieuwkerk sê die wêreldskaakbord waarna hy verwys, is die kapitalistiese stelsel, en al die rolspelers is op dié bord. "Die uitdagers van die Amerikaanse hegemonie is nie uitdagers van die kapitalistiese stelsel nie.

"Die Chinese is nie kommuniste of sosialiste nie; hulle het 'n vorm van outoritêre kapitalisme. Dieselfde geld die Golflande. Die meeste Afrikalande wil ook deelneem en wil ingetrek word by die kapitalistiese wêreldorde."

Vrey, emeritus professor aan die Militêre Akademie in Saldanha, wys uit die rolspelers is deesdae nie meer net state nie, maar ook niestaatlike akteurs wat dikwels baie meer mag, geld, kundigheid en invloed as regerings het.

"Owerhede en regerings is aandadig aan die skep van die kompleksiteite. Hulle veroorsaak konflik, en dan het hulle nie goeie antwoorde op die konflik en selfs gewapende konflik wat hulle geskep het nie."

Van een polisieman na vele

Kleynhans sê ná die Tweede Wêreldoorlog is vyf lande as permanente lede van die Verenigde Nasies (VN) se Veiligheidsraad met vetoreg aangestel en die idee was: "Dan gaan hulle nou die behoeders wees van vrede en daar gaan nooit weer 'n wêreldoorlog kom nie. Maar die probleem is as een van hulle self direk betrokke raak - Rusland en Oekraïne, of selfs Amerika met sy katastrofiese oorloë in Irak en Afganistan. Wat gebeur as China Taiwan môre probeer aanval en beset?"

Die VN het al in Rwanda en Darfoer misluk. "Daar is nie wesenlike pogings om die Soedannese burgeroorlog tot 'n einde te bring nie, en dit is 'n konflik wat tot 'n einde gebring kán word."

Prof. Francois Vrey sê Suid-Afrika het professionele diplomate prysgegee om politieke gunste te bewys. Foto: Jaco Marais
Prof. Francois Vrey sê Suid-Afrika het professionele diplomate prysgegee om politieke gunste te bewys. Foto: Jaco Marais

Vrey sê Amerika het as "wêreldpolisieman" begin optree om 'n vakuum te vul. Mettertyd het ander lande en ander akteurs ook begin toetree.

"Een van die groot vrae oor die internasionale bestel op die oomblik is: Hoe beweeg hierdie bestel na multipolariteit toe? Met multipolariteit hoef jy nie 'n wêreldpolisieman te hê nie, want dan het jy 'n reeks entiteite wat die polisiëringsrol kan vervul - om konflik te voorkom en konflikresolusie te doen."

Indië en Brasilië het al voorgestel dat daar 20 permanente Veiligheidsraadslede moet wees en dat 16 stemme een land se vetoreg kan tersyde stel, wys Kleynhans uit.

Van Nieuwkerk dink egter nie die Veiligheidsraad gaan maklik of vinnig hervorm word nie, en die verskillende formules daarvoor is volgens hom tydmors.

" 'n Alternatiewe manier om te dink oor hoe om vrede, sekuriteit, ontwikkeling, stabiliteit en so aan te bevorder, is om vir die middelmagte, streekleiers, die rolle toe te ken wat hulle baie beter kan uitoefen."

In Afrika is dit volgens hom Nigerië, Suid-Afrika, en dalk ook Egipte en Kenia. Die VN kan humanitêre hulp verleen en help om begrotings te ontwikkel.

As jy hier polities die spoor byster raak, dan kry jy 'n ambassadeurspos iewers.

—  Prof. Francois Vrey

SA fakkel verdof

Maar boesem Suid-Afrika genoeg vertroue in vir so 'n rol?

"Nee," sê Van Nieuwkerk, "ons het tien jaar van (Jacob) Zuma gehad en hy het die idee van menseregte, vrede, sekuriteit en ontwikkeling by die deur uitgegooi."

Pres. Cyril Ramaphosa word as 'n sakeman gesien. "As hy op groot Afrika-konferensies praat, dan praat hy oor die vryhandelsooreenkoms en hoe Suid-Afrika ekonomies daarby kan baatvind. Hoekom is hy nie intens betrokke by Soedan nie?"

Vrey sê in die tydperk ná 1994 onder Nelson Mandela se bewind het die idee van sagte diplomasie baie punte vir die land gewen, maar later het dinge begin skeefloop.

"Die rol van kundige, professionele diplomate is oorgeneem deur diplomatieke aanstellings wat in sóveel gevalle 'n absolute verleentheid vir die land geraak het. Daarmee saam, as jy hier polities die spoor byster raak, dan kry jy 'n ambassadeurspos iewers."

Dit het 'n impak op geloofwaardigheid en die praktiese uitoefening van diplomasie.

Voorts bly Suid-Afrika nie by met slim diplomasie, soos tegnologie- en kuberdiplomasie, nie.

"Jy kan nie daardie spel speel as jou diplomatieke aanstellings mense is wat jy probeer wegsteek en as jy nie bybly om jou diplomate op hoogte te hou nie."

Ons het eintlik 'n ongelooflik verwarde buitelandse beleid.

—  Jaco Kleynhans

Oop venster, maar nie vir lank

Van Nieuwkerk sê hy weet nie of die regering van nasionale eenheid (RNE) regtig weet waar Suid-Afrika se belange lê nie, en die koalisievennote het nie gedeelde waardes wat betref buitelandse beleid nie.

"Ronald Lamola (minister van internasionale betrekkinge en samewerking) gaan Amerika toe en hy glimlag baie breed. Volgende week gaan hy China toe, en daar glimlag hy nóg breër. Trouens, hy vat John Steenhuisen saam om die president se hand te gaan skud. Volgende gaan hulle na (die Brics-beraad in) Kazan, Rusland, waar hulle ook met Poetin gaan hand skud."

Kleynhans sê: "Ons het eintlik 'n ongelooflik verwarde buitelandse beleid."

Vroeg vanjaar het Ramaphosa die leier van die Soedannese Rapid Support Forces, Mohamed Hamdan Dagalo, in Pretoria ontvang. "As jy nou so 'n rebelleleier amptelik ontvang, wat is die motief daarmee?"

'n "Skrikwekkende" antagonisme teenoor Suid-Afrika het volgens Kleynhans in baie Afrikalande ontstaan.

"Nou moet dit herstel word. Lamola probeer. Hy het nou weer afsprake gekry met ouens daar by die Kongresgebou in Washington wat (sy voorganger, dr. Naledi) Pandor verlede jaar nie kon kry nie, so kom ons hoop die deure is nou weer 'n bietjie oop.

"Daar is 'n vensterperiode nou met die RNE, maar dit kan ook weer toegaan. Dis nie 'n onbeperkte oop deur nie. Hulle moet nóú die verhouding herstel."

Ronald Lamola, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, op 26 September op 'n vergadering in New York met Antony Blinken, Amerikaanse minister van buitelandse sake. Foto: Reuters
Ronald Lamola, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, op 26 September op 'n vergadering in New York met Antony Blinken, Amerikaanse minister van buitelandse sake. Foto: Reuters

Van der Westhuizen wou by Vrey weet of Lamola 'n beter minister is.

Vir Vrey lê die toets daarin: "Gaan hy toegelaat word om sy rol te speel of gaan hy (behandel word) soos die vorige minister wat 'n uitspraak gemaak het oor die oorlog tussen Rusland en Oekraïne en eenvoudig net afgesny is, en waar die uitspraak net teruggetrek is en gesê is: Dis nie hoe ons werk nie, of jy het die beleid verkeerd verstaan of wat ook al."

Van Nieuwkerk sê: "Suid-Afrika se heil lê by gesonde handelsverhoudinge met Amerika en die Europese Unie en China. Of ons diplomate en ons minister toegelaat gaan word om by al drie die heil te soek, hang af van hoe die RNE verstaan wat Suid-Afrika se rol is. Hy kan verhoed word om dit te doen, en dan dink ek is ons in die moeilikheid."

• De Beer is 'n redaksielid van Netwerk24.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM