Terwyl party Suid-Afrikaners kla oor "Engels! Engels! Alles Engels! Engels wat ons sien en hoor", is daar ander wat maniere vind om hul eie én ander inheemse tale te bevorder. Erika de Beer berig.
In 2013 was daar minstens 7 776 tale in die wêreld. In die loop van die volgende 50 tot 100 jaar sal meer as die helfte daarvan na verwagting uitsterf.
"Dis nie wat ons vir Afrikaans of al die ander tale in Suid-Afrika wil hê nie," sê Marlie Coetzee, uitvoerende direkteur van die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA).
Michelle Johnson, 'n lid van die Oeswana San, 'n Khoi-San-stam, sê: "Wanneer mense 'n taal doodmaak, maak jy die nasie dood."
Chiefness Sharon Kleinbooi vertel hoe wreed hul taal, Khoekhoegowab, onderdruk is: "Ons voortande is verwyder om te keer dat ons ons taal kan praat."
Hulle en ander lede van die Oeswana San het onderneem om hul taal en hul kultuur te laat herleef.
Vir dié doel maak Johnson TikTok-video's. Sy het ook 'n WhatsApp-groep waar sy mense die verskil tussen die hakskoenklik, die kwaadklik, die foeitogklik en die proeklik leer.
Coetzee sê om te keer dat tale uitsterf, moet goeie digitale infrastruktuur daarvoor gebou word.
VivA ontwikkel IT-produkte vir die digitalisering en behoud van Afrikaans, maar is ook in staat en toegerus om ander inheemse tale daarmee te help.
Hulle was van die sprekers op Pendoring se Imbizo oor Inheemse Tale.

‘Hoekom uitgesluit?'
Die Grondwet bepaal in art. 29 elkeen het die reg op onderwys in die taal van hul keuse, sê Julius Dantile, uitvoerende hoof van tale by die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (Pansat).
"Hoeveel van ons, myself inkluis, het die taal vir ons kinders gekies wat ons aanvoer ons praat en wat ons identiteit dra? Ek het nie weens sistemiese probleme, wat 30 jaar later nog nie in dié land opgelos is nie."
Hy sê 'n gebrek aan terminologie word dikwels as rede gegee hoekom inheemse tale nie vir wetenskap gebruik word nie.
Tog is die Bybel 200 jaar gelede in sulke tale vertaal. "Ek weet nie waar hulle die terminologie vandaan kry nie, maar hulle het dit gekry. Maar wanneer dit by wetenskap kom, word daar vir ons gesê Afrikatale het nie die terminologie nie."
Dis 'n denkfout wat nie aanvaar moet word nie, sê Dantile.
"Die lewe is wetenskaplik. As jy kosmaak, is dit wetenskap. As jy wasgoed was, is dit wetenskap. Kom ons maak ons wetenskap alledaags."
Sien KI as 'n kwantitatiewe werktuig. Jy is die kwalitatiewe element van die finale produk.
— Marlie Coetzee
Ons tale word in die Grondwet beskerm, sê Eben Keun, hoofbestuurder van Pendoring. "Tog word ons nie in ons eie tale bedien soos ons bedien wil word nie."
Tegnologie en kunsmatige intelligensie (KI) kan egter hiermee help.
"As ons 'n optimale manier kan vind om mense en robotte te laat saamwerk, kan ons regtig uitsonderlike dinge doen."
Coetzee sê 'n mens moenie bang wees vir KI nie en dit eerder tot jou voordeel gebruik. "KI kan nie menslike vertolking en mening gee nie. Dis wat jy moet doen. Sien KI as 'n kwantitatiewe werktuig. Jy is die kwalitatiewe element van die finale produk."
Sy betreur die verdwyning van 'n koerant soos Beeld.
"Joernalistiek en koerante, ongeag in watter taal dit gepubliseer word, is so waardevol vir enige taal."

Chris Mcinga is 'n lid van die Association of Independent Publishers, wat 178 publikasies verteenwoordig. Meer as 40% daarvan is in inheemse tale.
Hy sê al is daar 'n migrasie na digitale platforms, bly koerante belangrik.
"Ons moenie dink drukmedia is dood nie. Dis nie dood nie. Daar is steeds struikelblokke vir toegang tot inligting. Moet dit nie uitsluit nie."
Tradisionele media soos koerante kan steeds 'n rol speel om inheemse tale te help bewaar en ons gemeenskappe te help opvoed, sê Mcinga.
Volgens hom herken Google nie die skryftekens op inheemse tale op webwerwe nie. "Dus kan 'n klein gemeenskapskoerant in Venda nie advertensieruimte verkoop nie omdat Google nie hul taal erken nie, en sê: ‘Julle is nie deel van die digitale ekonomie nie.' "

‘Maak kinders trots op eie taal'
Limu Lab is 'n app met inhoud wat daarop gemik is om kinders taal te leer, veral Afrikatale. Dit bevat aktiwiteite, speletjies en raaisels in Afrikaans, Engels, Suid-Sotho en Zoeloe.
Dit gaan binnekort ook in Xhosa en Swahili beskikbaar wees, sê Sifiso Danisa, medestigter. Hulle beplan om die inhoud in al die land se amptelike tale, asook San-tale en dié van buurlande, beskikbaar te maak.
"Ons wil hê kinders moet trots daarop wees om hul eie taal te praat. Baie kinders kies Engels as verstekopsie."
Om die taal te bewaar, beteken ons bewaar ons identiteit, ons stories, ons geskiedenis.
— Given Mahlangu
Pendoring het 'n kompetisie uitgeskryf vir tegnologiese werktuie om moedertale te bewaar, te bevorder en uit te brei.
Een van die finaliste, Given Mahlangu, sê al is sy moedertaal, Ndebele, 'n amptelike taal, is die sowat een miljoen sprekers daarvan nie genoeg om 'n impak te maak nie. "Baie van ons praat ander Nguni-tale."
Sy voorstel is vir 'n app met 'n woordeboek, geskiedenis en biblioteek van Suid-Ndebele, asook gespreksgeleentheid deur middel van KI.
Taal is meer as kommunikasie; dis die wese van 'n mens se kultuur, sê Mahlangu. "Om die taal te bewaar, beteken ons bewaar ons identiteit, ons stories, ons geskiedenis. Dit beteken ons bewaar wat ons óns maak."
Een van sy groot inspirasies is ouma Katrina Esau, die laaste vlot spreker van die N|uu-taal, wat so hard werk om dit behoue te laat bly.
KI en tegnologie kan die volgende geslag sprekers help om 'n taal aan te hou gebruik, sê Mahlangu.

Natacia Mnguni, ook 'n finalis, wil 'n uitgebreide-realiteitsapp ontwikkel om leerlinge te help om van chemiese verbindings te leer.
"In ons onderwysstelsel word daar van ons verwag om in Engels te onderrig en te leer, maar as jy na die statistieke kyk, praat net 10% van die bevolking Engels (as huistaal)," sê sy. Dis 'n struikelblok vir die meeste leerlinge, veral as dit by ingewikkelde konsepte soos chemiese verbindings kom.
Sy het Afrikaans saam met Zoeloe en Noord-Sotho vir haar projek gekies, maar wil dit uiteindelik in al die amptelike tale beskikbaar hê.
Dis belangrik dat elke kind in elke deel van Suid-Afrika 'n boek in hul taal kan lees.
— Lebohang Masango
'n Boek in jou taal
Engelse boeke verkoop oor die algemeen verreweg die beste, maar met kinderboeke lyk die prentjie beter, sê Sewela Langeni, eienaar van die winkel Book Circle Capital in Melville, Johannesburg. "Zoeloe en Suid-Sotho volg op Afrikaans se hakke."
Langeni moedig ouers aan om by boekwinkels te vra vir kinderboeke in hul huistaal.
Lebohang Masango se kinderboekreeks, wat met Mpumi se towerkrale begin het, word uit Engels in tien amptelike tale vertaal.
Een van die boeke, Mpumi en Jabu se spesiale dag, plaas die kollig op Suid-Afrikaanse Gebaretaal (SAGT) en Dowekultuur. Masango het dit saam met prof. Claudine Storbeck, hoof van Wits se Sentrum vir Dowestudies, geskryf.

"Daar is tale waaruit jy kan geld maak en daar is tale waarmee jy ongelukkig 'n verlies maak," sê Masango. Engels, Afrikaans, Xhosa en Zoeloe verkoop maklik, terwyl Swati en Ndebele die minste verkoop.
"In 'n jaar kan ek dalk een boek in Ndebele verkoop. Wat vir my saak maak, is dat een Ndebele-kind regtig 'n prettige boek gelees het."
Masango sê die Afrikaanse vertalings gebeur altyd vinnig. "Dis omdat daar minder gesprekvoering nodig is en omdat die taal veel langer in die ruimte vir openbare gebruik is. Daarmee bedoel ek daar is boeke en groot pogings met goeie hulpbronne om die taal lewend te hou."
Die standaardisering van ander inheemse tale vorder stadiger, en streekvariante bemoeilik die proses ook.
"Dis belangrik dat elke kind in elke deel van Suid-Afrika 'n boek in hul taal kan lees, ongeag hoe groot of klein daar gedink word die taal is."

Maakomele Manaka het 'n projek genaamd "Translating the Protea" om sy gedigte in ander tale te vertaal. Sy bundel Flowers of a Broken Smile is in Xhosa, Noord-Sotho en Afrikaans vertaal. Hy het groot lof vir die Afrikaanse digter Pieter Odendaal wat die Afrikaanse vertaling gedoen het.
"Poësie is op sigself 'n danstaal," sê Manaka, wat met sy krukke dans. "Dit verg 'n digter om poësie te vertaal."
Hy wil hê die hele poësiebiblioteek in Suid-Afrika moet vertaal word.
Itumeleng Qhali se klein Oos-Kaapse uitgewery, Kairos Ark Publishing, gee inheemse boeke, digbundels in inheemse tale en "bevrydingserfenisboeke deur onbesonge vryheidsvegters" uit.
Sy is baie trots op die Loss Ihlaleko-reeks, 'n bloemlesing en oorlewingsgids oor geslagsgebaseerde geweld. Dis geskryf deur 11 vroue en in 11 tale vertaal. Daar is ook 'n oudioboek.
Die Afrikaanse weergawe is Loss - Verlies.

"Wat baie spesiaal hiervan is, is dat vroue in my familie, of in families wat ek nooit gaan ontmoet nie, oor geslagsgebaseerde geweld praat in 'n taal wat hulle vashou, in 'n taal wat na hulle luister, in 'n taal wat hulle omhels," sê Qhali.
"Toe ek die Xhosa-boek die eerste keer met my familie gedeel het, het my tannies en my ooms vir die eerste keer stories gedeel van hul eie ervarings met geslagsgebaseerde geweld. Ons het in die Paasvakansie oor aandete gesit en gepraat tot die son opkom. Dit het gevoel asof dit die eerste keer is dat ek my familielede ontmoet, want ons het in 'n taal gepraat wat aan ons behoort."
Ons wil seker maak inheemse tale neem hul regmatige plek in en floreer soos enige ander taal.
— Cathrine Lekgoletsi Mokoena
Witrenoster nie wit nie
Om in mense se eie taal met hulle te kommunikeer speel 'n kardinale rol om te sorg dat hulle reageer op inisiatiewe van die departement van bosbou, visserye en die omgewing om risiko's te temper, sê Christelle van der Colff. Sy is 'n adjunkdirekteur in die taaldienskantoor van dié departement.
"Dit help nie om 'n plan te hê, maar dan word dit nie uitgevoer nie. Daarvoor is taal baie belangrik."
Die departement het projekte om terminologie in al die land se tale tot stand te bring. Só het hulle byvoorbeeld besef 'n letterlike vertaling van "witrenoster" en "swartrenoster" gaan nie deug nie omdat dié diere nie regtig wit en swart is nie. Die een wei op die grond en die ander vreet aan bome, dus maak dit meer sin om met die vertaling na die vorm van die bek te verwys.

Die departement van sport, kuns en kultuur het pas 'n uitnodiging gerig vir voorstelle van projekte waarmee taal en tegnologie in al die land se amptelike tale geïntegreer word.
Die departement is ook verbind tot 'n florerende boekkultuur in al dié tale, asook Khoi-San-tale, sê Cathrine Lekgoletsi Mokoena, direkteur: boeke en uitgewerswese.
Hulle bied ondersteuning aan skrywers.
"Ons wil seker maak inheemse tale neem hul regmatige plek in en floreer soos enige ander taal."
Abongile Coki, bestuurder van stroomdienste by die SAUK, sê hulle beplan om in die komende maande ander tale by Engels op SABC Plus te voeg.
Hy kan nie nou al bevestig watter dit sal wees nie, maar daar sal minstens drie wees.
Coki is bekommerd daaroor dat databasisse wat vir vertaling nodig is aan buitelandse maatskappye behoort.
"Dit moet nie vir ons nodig wees om die lisensie vir Xhosa by Amazon te koop nie. Hulle besit dit nie; óns besit dit."
As 'n Afrikaner het ek in die laaste tien jaar baie geleer hoe nodig dit is om stil te bly.
— Dr. Roela Hattingh
Ry wipplank deur die muur
Daar is dinge wat KI nie kan doen nie, sê dr. Roela Hattingh, dosent in die departement strategiese kommunikasie aan die Universiteit van Johannesburg.
Sy sê ons moet ons tale skryf, praat en vir ons oumas en ooms vra om hul stories vir ons te vertel. "KI kan nie daardie stories uitdink nie."
Ons moet met mekaar praat en terugpraat wanneer nodig. Dialoog bou brûe, sê Hattingh.
Sy het verwys na die Teeter-Totter Wall-projek deur 'n stuk van die grensmuur tussen die VSA en Mexiko. Drie helderpienk staalstawe is op 'n dag in 2019 deur die pilare van die muur geïnstalleer. Só kon mense aan weerskante van die muur 40 minute lank met mekaar speel.

Nog 'n voorbeeld van terugpraat is Nando's se #RightMyName-veldtog van 2018. Dié maatskappy het besef die meeste Suid-Afrikaners se name word op die program Word in rooi onderstreep asof dit 'n spelfout is.
"Met ander woorde jy is 'n vreemdeling, ons is almal vreemdelinge. Ons name is foute. Hulle het 'n app gemaak waar jy jou naam kon gaan invul en dit sou die rooi streep verwyder, dan is jy nie meer 'n fout nie."
Sy haal die Brasiliaanse filosoof Paulo Freire aan wat gesê het: "As ons nie vir goed name gee en sê wat dit in ons taal is nie, dan gaan ons die onderdrukker toelaat om dit name te gee."
Hattingh sê hoe meer tale ons praat, hoe meer maniere is daar hoe ons dink en hoe slimmer is ons.
Ons moenie net ons eie stories lees nie; ons moet ons vel uittrek en die vel aantrek van ander se stories soos dit geskryf is, sê sy.
"As 'n Afrikaner het ek in die laaste tien jaar baie geleer hoe nodig dit is om stil te bly. En as daar ruimtes is waar mense tale praat wat ek nie verstaan nie, is dit oukei, want ek wil die ritme hoor, en ek kan altyd vra wat dit beteken.
"En ek kan my Afrikaanse vel uittrek en my luiperdvel aantrek en in die droomtyd van die ander tale ingaan in die stories. En as mense so gaaf is om hul taal met my te deel, om vir my te vertel wat dit letterlik beteken, het ek elke dag tien nuwe stories om te vertel."
• De Beer is 'n redaksielid van Netwerk24.



















