'n Volskaalse oorlog dreig tussen Israel en Hezbollah met die VN en wêreldleiers wat magteloos toekyk, skryf Jaco Kleynhans.

Terwyl Israel se weermag die afgelope week met sukses topbevelvoerders van Hezbollah in Beiroet en ander dele van Libanon doodgemaak en vuurpyllanseerders en wapenopslagplekke van dié militante groep vernietig het, het vrese vir 'n volskaalse oorlog tussen Israel en Hezbollah toegeneem. Met die oorlog in Gasa wat binnekort reeds een jaar lank sal voortduur, 'n verdiepende krisis in die noorde van Israel en veral die suide van Libanon, en vrae oor die uitkringeffek hiervan na ander dele van die Midde-Ooste, soos Sirië, die Rooisee en Irak, was die fokus die afgelope week egter eerder op New York as op Tel Aviv of Beiroet.
Die mees verrassende toespraak oor die konflik in die Midde-Ooste is die afgelope week by die Verenigde Nasies (VN) se Algemene Vergadering in New York nie deur Joe Biden of Benjamin Netanyahu gelewer nie, maar eerder deur Masoed Pezesjkian, die onlangs verkose president van Iran. Pezesjkian se uitspraak dat daar geen wenner in oorlogvoering is nie en dat mense wat dit wel glo net hulself mislei, was nie die boodskap wat Netanyahu en veral die konserwatiefste elemente van sy regering aan die een kant, of die Israel-hatende ajatollas in Teheran aan die ander kant, wou hoor nie.
Terwyl geharde Iran-kritici Pezesjkian se toespraak en sy bereidwilligheid om oor diplomasie en vrede te praat, wat hy ook tydens talle media-onderhoude openbaar het, as blote bluffery bestempel het, is dit 'n feit dat dit in die belang van enige pro-hervormingsgroepe en leiers in Iran, soos Pezesjkian, is dat die konflik in die Midde-Ooste nie uitbrei nie en bygelê moet word.
Iran het sedert die laaste oorlog tussen Israel en Hezbollah in 2006 tot die reusagtige militêre opbou in die suide van Libanon bygedra deur Hezbollah by te staan met die ontwikkeling van sy bevelstrukture, die opleiding van soldate en die verskaffing van meer gevorderde wapens soos ballistiese missiele, beter vuurpyle en aanvalshommeltuie. Die land is deur veral Amerikaanse en Europese sanksies ekonomies verlam en 'n uitkringende oorlog waarby Iran selfs regstreeks betrek kan word, sal katastrofies vir dié land wees.
Ook die Biden-administrasie in die VSA sal in sy laaste paar maande kan baat vind by goeie nuus uit die Midde-Ooste en in die besonder 'n einde aan die oorlog in Gasa en 'n hernude vredesooreenkoms tussen Israel en Hezbollah, wat voortbou op die 2006-ooreenkoms wat juis 'n gebied weerskante van die grens tussen Israel en Libanon demilitariseer. Amerikaners het nie tans die aptyt vir regstreekse betrokkenheid in nog 'n Midde-Oosterse oorlog ná hul rampspoedige oorloë in Afganistan en Irak nie. Sou Israel egter in 'n oorlog met verskeie Iran-proksies soos Hamas, Hezbollah, die Hoethi's en groepe uit Sirië en Irak betrokke raak, kan die Amerikaners met geen keuse gelaat word as om Israel te hulp te snel nie.
Groepe soos Hamas en Hezbollah se bestaansreg is op konflik met Israel geskoei.
Terwyl Biden as 46ste Amerikaanse president sukkel om sy nalatenskap te bepaal, sal vrede in die Midde-Ooste vir hom van groot waarde wees.
Amerika en Iran, onderskeidelik die grootste buitelandse ondersteuners van Israel en die groepe met wie Israel voortdurend in stryd gewikkel is, is egter nie al wat by vrede sal baat vind nie. Arabiese lande soos Jordanië en die ryker Golf-lande soos Katar, die Verenigde Arabiese Emirate en Saoedi-Arabië, is almal deeglik bewus van die potensiële uitkringeffek van die huidige konflik en hoe dit die groter streek kan benadeel.
Die grootste bevoordeeldes van vrede sal egter die mense wees wat tans ly en wat die toekoms vrees. Die mense van Gasa, die noorde van Israel en groot dele van Libanon verdien korttermynskietstilstandooreenkomste, maar ook 'n veel meer ambisieuse langtermynoplossing vir die laaste paar dekades se patroon van konflik en geweld.
Vrede is egter nie in almal se belang nie. Groepe soos Hamas en Hezbollah se bestaansreg is op konflik met Israel geskoei. In vrede sal al twee waarskynlik wegkwyn. In Iran is dit lankal duidelik dat 'n meerderheid van dié land se bevolking vrede met Israel en die Weste wil nastreef terwyl die ajatollas se magsgreep geskoei is op die siening dat Israel en Amerika 'n eksistensiële bedreiging vir dié land inhou. In vrede kan die benoude, uitgediende teokrasie in Iran dalk ook net tot 'n einde kom.

In Israel is dit lankal duidelik dat Netanyahu se politieke posisie direk gekoppel is aan die oorlog met Hamas en nou ook die konflik met Libanon. Netanyahu se Israel is een wat op meesterlike wyse die een veldslag ná die ander wen, terwyl hulle die groter oorlog vir 'n volhoubare langtermynvoortbestaan kan verloor.
Die reeks aanvalle wat Israel die afgelope twee weke op Hezbollah uitgevoer het, soos die ontploffing van duisende Hezbollah-roepradio's, 'n lugaanval in Beiroet waarin 'n groep elite- militêre bevelvoerders dood is, en die afgelope Dinsdag se lugaanval in die suide van Beiroet waarin Hezbollah se topmissielbevelvoerder, Ibrahim Moehammad Kabisi, dood is, is bewyse van Israel se meesterlike intelligensienetwerk en vermoë om sy vyand deur 'n voorvoetbenadering te ontwrig en verswak. Terwyl Israel en sy nasionale intelligensie-agentskap, Mossad, krediet hiervoor verdien, help dit hom net met die volgende veldslag en nie die groter oorlog nie.
Met elke veldslag wat Israel op meesterlike wyse wen, raak sy opponente net meer gemotiveerd, selfs meer fanaties, om sterker terug te slaan. Dit is hoe Hezbollah, wat in 2006 minder as 10 000 vuurpyle en missiele gehad het, vandag volgens skattings minstens 150 000 van hierdie wapens in hulle arsenaal het. Israel se volgehoue stryd hou egter ook radikale groepe en leiers aan die bewind en dra selfs by tot die radikalisering van onder andere die Palestynse bevolking wat uiteindelik op lang termyn Israel se veiligheidsbedreigings net sal vergroot.
Israel se isolasie, polities en ekonomies, is ook nie volhoubaar nie. Die Trump-administrasie het in 2020 dit verstaan toe die Abraham-akkoorde tussen Israel en lande soos die Verenigde Arabiese Emirate, Bahrein en Marokko onderteken is. Politieke vrede is makliker wanneer ekonomiese samewerking en selfs integrasie 'n gegewe raak. Dit is ook waarom die kroonprins van Saoedi-Arabië onlangs gesê het dat sy land diplomatieke en ekonomiese bande met Israel sal aanknoop indien 'n omvattende vredesooreenkoms in die Gasa-strook onderteken en onderhou word.
Dit was egter die afgelope week in New York duidelik dat Netanyahu meer geïsoleerd as ooit tevore is. Selfs bondgenote in Amerika is bekommerd dat Netanyahu nie nou 'n ooreenkoms met Hamas of Hezbollah wil sluit nie. Sou Israel vandag vrede met Hamas en Hezbollah sluit, sal die einde van Netanyahu se politieke loopbaan waarskynlik ook aanbreek met groter wordende druk op sy wankelende koalisieregering wat reeds maande lank in Israel duidelik is.
Terwyl al die debatte, toesprake, bilaterale samesprekings, openbare fokusgroepe en talle mediageleenthede die afgelope week in die VN-hoofkwartier op die oewer van die Oosrivier in Manhattan afgespeel het, was dit egter duidelik dat op 'n geopolitieke vlak, en in die besonder die noodsaaklike behoefte aan internasionale samewerking om wêreldwye konflik by te lê, die VN juis deur die Midde-Oosterse krisis as toenemend ondoeltreffend en selfs mislukkend ontbloot is.
Vir nou lyk dit of die randfigure wat konflik nodig het om te oorleef, die oorhand het in teenstelling met die talle partye wat uiteindelik by vrede kan baat vind. 'n Verswakte VN, wat die speelveld van 'n hernude wêreldmagstryd geword het, en die afwesigheid van sterk leiers in die VSA en Europa, dra by tot die gebrek aan daadkragtige optrede.
• Kleynhans is hoof van internasionale skakeling by die Solidariteit Beweging.




















