Aktueel

Natte en Sappe se kiesstryd ‘elektries’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die ver­kiesing wat in 1924 in Suid-Afrika gehou is, het amper net soveel bespreking oor elektrisiteit ontlok as vanjaar se verkiesing. En natuurlik broeder­twis, skryf Wynand Beukes.

J.B.M. Hertzog Foto’s: Gallo Images
J.B.M. Hertzog Foto’s: Gallo Images

Koalisies, die verskaffing van elektrisiteit en broedertwiste is van die vernaamste besprekingspunte in vanjaar se algemene verkiesing in Suid-Afrika. So hoe meer dinge verander, des te meer bly dit blykbaar dieselfde, want in die verkiesing van 'n eeu gelede was dieselfde onderwerpe ook baie sterk in die nuus.

In 1924 is verkiesingsgesprekke oorheers deur die samewerkingsooreenkoms tussen die Nasio­nale Party (NP) en die Arbeiders­party. Die destydse Pakt-ooreenkoms is voor die verkiesing al gesluit, terwyl vanjaar se koalisievorming, indien­ nodig, eers ná stemdag onder die loep gaan kom.

Jan Smuts, destyds die eerste minister, se Suid-Afrikaanse Party (SAP) het in die verkiesing steun aan die Arbeidersparty afgestaan weens die re­gering se gewelddadige onderdrukking van die mynwerker­staking aan die Rand. Heelwat van die Sappe het ook oorgeloop na die Natte toe vanweë laasgenoemde party se steun vir die bevordering van Afrikaans en die Afrikaanse kultuur.

Die Natte het in die verkiesing op Dinsdag 17 Junie 1924 63 setels verower en die Arbeiders 18, teenoor die Sappe se 53. Smuts is in sy eie kiesafdeling verslaan en J.B.M. Hertzog het eerste minis­ter geword.

Opskrifte in die Kaapstadse dagblaaie weerspieël die felheid van dié politieke stryd 'n eeu gelede, net soos dit vandag die geval is. Die hoofopskrifte het dikwels oor 'n volle bladsy gestrek. Dié berigte was nie op die voorblaaie nie omdat die eerste drie of vier bladsye aan advertensies gewy is.

Van die opskrifte in Die Burger, wat die Natte gesteun het, is "Politiek van S.A. Party is 'n hopelose mislukking" (23 April), "Weer 'n berg van belof­tes - en 'n wavrag vol paaiboelies" (24 April), "Klaar met genl. Smuts" (9 Junie) en "Die laaste stormloop begin" (11 Junie).

Die opskrifte van Die Burger en The Cape Times­, wat die Sappe ondersteun het, op stemdag en die twee dae daarna, lui: "Vandag is dié dag" (17 Junie), "You can trust him", "Generaal Smuts verslaan", en "Smuts loses his seat" (18 Junie) en "Hoe zijn de helden gevallen" / "Pact majority certain" (19 Junie).

Politieke vergaderings was 'n eeu gelede 'n baie belangrike manier om kiesers in te lig. Die koerante het bladsye en blad-sye vol verslae oor sulke vergaderings gepubliseer. Die Natte het byvoorbeeld gereeld vergaderings in die destydse Afrikaner-Koffiehuis in Kaapstad gehou. Die twee Pakt-vennote het ook soms saam vergader.

Deesdae spog politieke partye gereeld oor die talle ondersteuners wat hul vergaderings bywoon. In 1924 was dit presies dieselfde en die koerante het mildelik daaraan meegedoen. Op 5 Junie is byvoorbeeld soos volg berig: "Genl. Hertzog het gisteraand 'n reuse vergadering in die Stadsaal, Johannesburg, gehou." Sy toespraak word as "skitterend" beskryf. "5 000 mense het binne die saal gedring en honderde moes omdraai."

'n Goeie tandarts

Die Kaapstadse dagblaaie het destyds verteenwoordigers op plattelandse dorpe gehad wat oor die plaaslike nuus berig het.

Dié beriggewers, wat korrespondente genoem is, het nie geskroom om hul politieke voorkeure in berigte te laat deurglip nie. Só het Die Burger se kor­respondent op Laingsburg op 21 Maart berig oor hul dominee wat terug is ná sy vakansie, maar dat die opkoms by die nagmaal­ nie goed was nie.

En dan in die volgende paragraaf: "Op politieke gebied gaan dit nie sleg nie. Die Nasionaliste is wakker en is nie bang nie."

Die laaste paragraaf onderskryf die gevoel van die tyd oor die opheffing van die Afrikaners: "Wat ons hier nodig het, is 'n goeie tandarts; daar is 'n kans vir 'n Afrikaner hier."

The Cape Times se korrespondente het aan die ander kant ook ywerig berig oor die kanse van die Sappe se kandidate.

Op 5 Mei is uit Calitzdorp berig dat die Sappe tot in die laaste loopgraaf gaan veg. Vyf dae later was die nuus uit Oudtshoorn dat die Sappe se kans baie beter is as met die vorige verkiesing.

Die menings van die lesers oor die verkiesing in briewe aan Die Burger is ook geplaas, mees­tal van Natte.

"Nasionalis van Somerset-Wes" voer op 10 Junie aan dat Smuts nou maai wat hy gesaai het. "Die juigkrete van 'n verloste volk sal op die 18de Junie gehoor word deur die beskaafde wêreld."

Daarteenoor skryf P.J. van Vuuren van Vredefort dat "die mense wat genl. Smuts se ver­gaderings vandag opbreek, dieselfde mense is wat 10 jaar ge­lede genls. De Wet, Hertzog en ander gestenig het".

Kritiek op die Pakt is ook uitgespreek. Op 13 Junie is aangevoer dat die voortbestaan van die NP van die Arbeiders sal afhang. Voorts word beweer dat die ooreenkoms nooit met die Nasionaliste bespreek is nie, maar op hulle afgedwing is.

Bewerings van bedrog het ook kop uitgesteek, soos die aanklag dat 'n kandidaat omgekoop is om hom verkiesbaar te stel om 'n meerderheid vir Smuts te verseker.

Evkom en beurtkrag

Kragvoorsiening en die ontwrigting wat beurtkrag veroorsaak, duik vanjaar dikwels op in gesprekke. Daarteenoor het Suid-Afrikaners 100 jaar gelede pas ná die stigting van Evkom die uitbreiding van elektrisiteitsvoorsiening in 'n positiewe lig ervaar.

Die SAP het die belangrikheid van kragvoorsiening onder die kiesers se aandag gebring. Die party het aangevoer dat die industriële toekoms van die land afhang van die verskaffing van goedkoop grootmaatkrag. Daarom word kragstasies in die steenkoolgebiede opgerig. Die stelsel word beskryf as baie meer gevorderd as dié wat in ander lande aangepak is.

In die Wes-Kaapse Argief is talle verwysings na gemeenskappe in die destydse Kaap­provinsie wat in dié tyd by kraguitbreiding baat gevind het. Die inwoners van Simonstad en Glencairn was 'n eeu gelede waarskynlik heel in hul noppies omdat hul elektrisiteitsverbinding toe uitgebrei is. In die verkiesingsjaar is aansoek gedoen vir elektrisiteitsverskaffing aan die woongebiede tussen Kaapstad en die voorgestelde radio-uitsendingstasie op Klipheuwel. Melding is ook gemaak van 'n "superkragstasie" in Soutrivier.

Krag het ook 'n rol in die bekendmaking van die verkiesingsuitslae gespeel. Die British General Electric Company in Kaapstad het gereël dat die uitslae uitgesaai word aan die besitters van die ontvangtoestelle.

Die Burger het die ver­kie­sings­uit­slae op die hoek van Adder­ley- en Langmarkstraat deur middel van projeksies op 'n doek bekend gemaak. Duisende mense het die wind en weer getrotseer om die uitslae te gaan besigtig.

Twis op Riversdal

Die breuk tussen die huidige en gewese ANC-leiers maak opslae in vanjaar se verkiesing. In 1924 was broedertwis tussen die Natte en die Sappe aan die orde van die dag. Nat en Sap het eenvoudig nie om dieselfde vuur gesit nie. Twee neefs van Riversdal in die Suid-Kaap het hulle in dié situasie bevind.

Die korrespondent op Riversdal het op 30 April berig oor die politieke broedertwis op die dorp: "Die stryd is aan die gang. Die twee ou neefs wat saam grootgeword het, sal mekaar moet beveg. Oom Koos van Wyk vir die SAP, Oom At Badenhorst vir die NAT."

Op 4 Junie het die korrespondent laat weet dat daar hard aan albei kante gewerk word. "Huisbesoek, Huisbesoek! Oom Koos pleit aan die een kant en Oom Attie aan die ander kant."

Vier dae later het die korrespondent op Albertinia berig oor 'n vergadering wat Van Wyk die vorige week daar gehou het.

"Die oubaas het hom net 'n mosie van wantroue op die hals kom haal." Die dorpe Albertinia en Mosselbaai was deel van die kiesafdeling Riversdal.

The Cape Times het die verkiesing op Riversdal so belangrik geag dat 'n verslaggewer soontoe gestuur is. Drie dae voor die verkiesing is berig dat Badenhorst sukkel om die setel te behou. Hy word in die berig beskryf as 'n eentonige kandidaat. Die NP is aan die agteruitgaan in dié geweste. Daarteenoor word Van Wyk, 'n bekende in plaaslike sake en 'n suksesvolle boer, bestempel as iemand wat baie meer geskik is om in die parlement te dien as Badenhorst, "a cousin by the way".

Badenhorst het toe uiteinde-lik koning gekraai. Hy het met 1 958 stemme as die oorwinnaar uit die stryd getree met 'n meerderheid van 223 stemme - heelwat beter as die Natte se meerderheid van een stem drie jaar tevore.

Op 25 Junie het Riversdal se korrespondent oor die verkiesingsuitslag verslag gedoen.

Die berig lui dat toe "Oom Attie­ eerste by die magistraatskantoor se deur uitstap", die gejuig­ so groot was "dat daar aan toe­sprake geen gedagte was nie".

Die opskrif van die berig is kort en kragtig: "Gejuig vir Oom Attie".

(Jo Van Eeden)
  • Bronne: Wes-Kaapse Argiefdiens en die Suid-Afrikaanse Nasionale Biblioteek.
  • Dr. Beukes is van Monte Vista en is 'n navorser oor die geskiedenis van Kaapstad.
Wynand Beukes

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM