Louisemarié Combrink skryf oor Edvard Munch se beroemdste werk wat dertig jaar gelede gesteel en teruggevind is.

Op 7 Mei vanjaar was dit 30 jaar sedert die Noorweegse ekspressionis Edvard Munch se bekendste skildery Die kreet (in Engels The scream) teruggevind is, nadat dit drie maande vantevore gesteel is. Die gebeure rakende die diefstal en opspoor van die werk is dramaties, soos die werk self.
Die kreet is gehuisves in die Nasionale Galery in Oslo. Die Noorweegse titel van die werk is "Skrik" en die Duitse titel waaronder die werk eerste uitgestal is, is Der Schrei der Natur ("Die kreet van die natuur"). Munch het dit in 1893 geskep.
Ná die diefstal is die werk ongedeerd gevind in 'n hotel in Asgardstrand, sowat 70 km suid van Oslo.
Maar hoe het dit gebeur dat so 'n ikoniese werk uit so 'n prominente kunsmuseum verdwyn het?
Op 12 Februarie 1994, tydens die openingsdag van die Olimpiese Winterspele in Lillehammer, breek twee diewe in deur 'n venster van die Nasionale Galery. Hulle knip die draad waarmee die werk teen die muur vas was, en los 'n leedvermakerige nota: "Duisend dankies vir die swak sekuriteit!"
'n Paar dae ná die diefstal is 'n Noorweegse anti-aborsiegroep in die nuus - hulle sê hulle sal sorg dat die skildery terugbesorg word as die Noorweegse televisie 'n rolprent uitsaai wat hul saak ondersteun.
Die regering word op 3 Maart ook 'n losprys van $1 miljoen dollar aangebied in ruil vir die werk, maar dit blyk 'n vals leidraad te wees.
Kort hierna vind die polisie vier stukkies van die skildery se raam in Nittedal, 'n dorpie naby Oslo, en uiteindelik word die werk teruggevind. Die meesterbrein agter die diefstal, Pål Enger, is in Januarie 1996 tot ses jaar en drie maande tronkstraf gevonnis.
Hoekom is hierdie werk so belangrik, veral in die konteks van die moderne tyd? Die kreet word beskou as 'n ikoon van moderne kuns, as die Mona Lisa van ons tyd. Maar pleks van die Mona Lisa se kalmte en misterie gee Munch se werk 'n blik op 'n tyd vol angs en onsekerheid.
Die kreet toon 'n geslaglose figuur op 'n brug, met twee ander figure op die agtergrond. Die figuur is vasgevang in 'n verwronge uitdrukking, hande teen die gesig, asof gestol in 'n ewige stomme gil.
Die werk is gevul met dramatiese lyne en kleure wat as't ware lyk asof die natuur self 'n kreet uiter.
Dit is 'n dokument van ons tyd wat vir die meeste van ons boeiend is op 'n vlak wat min kunswerke kan ewenaar.
Die werk versinnebeeld Munch se ongelooflike emosioneel gelade styl wat met die vroeg-Europese ekspressionisme verbind kan word. Munch se ekspressionisme beeld iets uit van sy donker blik op die mensdom.
Ons dink dikwels aan Vincent van Gogh as 'n kunstenaar wat die mistroostige kant van die vroeg-moderne tyd vasvang, maar ek dink Munch se mistroostigheid is ongeëwenaar.
In die kunsgeskiedenis is dit ook interessant hoe die Germane en Skandinawiërs dikwels neig na 'n besonder rou tipe ekspressie - dit sien ons reeds in die Renaissance, waar verwronge figure en ongebreidelde emosie hoogty vier. Hierteenoor is die suide van Europa - soos Frankryk en Italië - se kuns eerder afgespits op 'n soeke na harmonie.
Die kreet is deel van Munch se reeks van "Die fries van die lewe" waar hy temas soos siekte, die dood, vrees, die donker kant van liefde en melankolie ondersoek.
Kunskenners beskou Die kreet as outobiografies, gegrond op Munch se eie ervaring van 'n gil wat die natuur deurspek soos hy na die sidderende hemelruim kyk.
Munch het swaarkry geken; sy suster en ma sterf terwyl hy nog 'n kind is, gevolg deur sy pa - en 'n ander suster ly erg aan psigiese ongesteldheid. Dit veroorsaak in Munch 'n diep vrees dat ook hy dié ongesteldheid sal erf.
Die kreet bied 'n blik op hierdie gevoel van morbiditeit en angs, maar word ook 'n groter, universele vergestalting van die moderne mens se eksistensiële angs.
Neurose, verwarring en onsekerheid - dis Munch se interpretasie van die werklikheid van bestaan.
Dis 'n skildery waarmee enigeen wat deur 'n donker tyd gaan, kan identifiseer en is verreweg Munch se bekendste werk.
En dankie tog dit is teruggevind ná die diefstal - dit is 'n dokument van ons tyd wat vir die meeste van ons boeiend is op 'n vlak wat min kunswerke kan ewenaar.
- Dr. Combrink is 'n senior dosent in kunsgeskiedenis aan die Noordwes-Universiteit. Sy gesels Sondae tussen 13:05 en 14:00 in Esté Gross se program Wat's nuut? Dis klassiek! op PretoriaFM oor kuns.














