Aktueel

‘Ons baiza nie meer nie’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Gayton McKenzie, minister van sport, kuns en kultuur, neem op die pas afgelope Mandeladag deel aan ’n pretloop in Johannesburg. Foto: GALLO IMAGES
Gayton McKenzie, minister van sport, kuns en kultuur, neem op die pas afgelope Mandeladag deel aan ’n pretloop in Johannesburg. Foto: GALLO IMAGES

Die goeie vertoning van die Patriotic Alliance (PA) in vanjaar se algemene verkiesing het die verbeelding aangegryp en het Gayton McKenzie, medestigter en partyleier, in die openbare oog geplaas. Maar, maan Michael le Cordeur, die euforie sal vinnig verdwyn as politici nie by hul beloftes hou nie.

Gayton McKenzie, minister van sport, kuns en kultuur, neem op die pas afgelope Mandeladag deel aan 'n pretloop in Johannesburg. Foto: GALLO IMAGES
Gayton McKenzie, minister van sport, kuns en kultuur, neem op die pas afgelope Mandeladag deel aan 'n pretloop in Johannesburg. Foto: GALLO IMAGES

‘Ons baiza nie," skree-gil 'n klomp ondersteuners van Gayton Mckenzie se PA nadat hulle 'n saamtrekop Wellington bygewoon het. Ek bevind my ver in die agtergrond, maar die hype, energie en geesdrif is aansteeklik.

Hulle dreunsang die rap-liedjie, "Moenie baiza nie". Die video van dié liedjie deur die Afrikaanse hip-hop-sanger en kletsrymer Meneer Cee is al meer as 74 000 keer na gekyk op YouTube.

Hier is 'n gedeelte van die lirieke:

So tell me its worth it

All the pain and the suffering?

All the years of being oppressed and still we have nothing?

All the struggle songs that we sang but still we are struggling?

All the people starving for freedom but still we are hungry?

So is dit nou reg?

Al die jare geveg?

Al die bloed sweet en die tranne ons vaders is weg?

Al die stories, troosings verskonings is daar in hul plek

En is hard om die straat te loop want ons almal is sleg?

Is realiteit vir 'n bruinou, bruinvrou en 'n kind

Realititeit vir die bruinvolk wie sal ons bevind?

Niemand is hier te help of the red is my final punt

En dit issie so hard te sien is maar net ons is almal blind.

Open your eyes, this is your land

Its time to rise up.

Ons skrik vir niemand nie

Dis nie moeilik om te sien waarom McKenzie in aansluiting by dié liedjie se titel op een van sy party se slagspreuke besluit het nie. "Ons baiza nie" beteken ruweg "Ons laat ons nie intimideer nie. In ons poging om diegene in nood te help, skrik ons vir niemand nie".

As jy McKenzie op sosiale media volg, is daar talle plasings waar jy kan sien dat hy sy hande spreekwoordelik vuil maak om mense wat in nood verkeer te help. Dit strek van die ouma vir wie hy 'n toilet gebou het tot bakkies vol brode wat by ouetehuise en kinderhuise afgelaai word. McKenzie is bereid om dinge te doen wat die highty-tighty middelklas bruin mense nie wil doen nie.

Vir baie is hy nie net die leier van die PA nie, maar Pá. Die afkorting van sy partynaam word deur sy volgelinge - meestal arm bruin mense - gebruik om na hom as 'n vaderlike figuur te verwys. Vir baie ander is hy weer die Godfather, en as jy sy volgelinge hoor praat van "G" weet jy dis Gayton na wie hulle verwys.

Op sosiale media maak hy sy doelwitte duidelik: Die PA is gereed om verandering teweeg te bring. Die dae dat bruin mense aan die agterste speen gesuig het, is verby.

In tye van swaarkry soos in die dae van apartheid, was dit die één ding wat arm bruin mense op koers gehou het: hul godsdiens.

Waarom was bruin kinders se ouers in die struggle as hulle in die nuwe Suid-Afrika misgekyk word as poste uitgedeel word? As al die mooi dinge van die 'n nuwe Suid-Afrika en die demokrasie net na die wit mense en swart mense gaan?

In 'n Daily Maverick-artikel kry hy die Johannesburgse metroraad voor stok omdat hulle glo derduisende werkers in diens het, maar die getal bruin mense kan jy op jou hand tel.

Die realiteit vir bruin mense, soos Meneer Cee se liedjie uitspel, is dat die meeste van hulle steeds honger gaan slaap, steeds werkloos is en steeds 'n sukkelbestaan voer. So, is dit nou reg? Al die jare geveg?

Een van McKenzie se hoofdoelwitte (en dis een waaroor hy baie kritiek moes verduur) is dat alle onwettige immigrante moet terugkeer na hul eie land. Dit, sê hy, het niks te doen met xenofobiese neigings nie. Dit is bloot onwettig om in ons land te woon en werk sonder die nodige permitte terwyl duisende Suid-Afrikaners werkloos en haweloos is.

Daarom dat hy vroeg reeds in aanloop tot die verkiesing al begin skimp het dat hy graag die pos van minister van binnelandse sake sal wil beklee. Hy was ook nie ongeneë om minister van korrektiewe dienste te word nie, synde hy self vir lank agter tralies was.

'n Tweede doelwit van hom is om godsdiens terug te bring in die skole en die breë samelewing. In die media is daar in aanloop tot vanjaar se verkiesing byna spottend-skepties hieroor berig en daar is na bruin politici soos Allan Boesak en McKenzie as sogenaamde pastoor-politici verwys.

Diegene wat sulke uitsprake maak, ken nie die hart van die arm bruin mense nie.

In tye van swaarkry soos in die dae van apartheid, was dit die één ding wat arm bruin mense op koers gehou het: hul godsdiens.

Al het dit hoe swaar gegaan, hulle sou nooit van hul kerkpak of hul kerkhoed ontslae raak nie. Om vas te klou aan die Bybel was die een ding wat seker was; wat hulle kon vertrou toe skaamtelose politici hulle verraai het.

Soos toe die Nasionale Party (NP) die bruin mense hul stemreg ontneem het in 1950's.

Soos toe die ANC uit hul pad gegaan het om vir Boesak in die tronk te gooi omdat hulle sy magiese invloed op bruin mense gevrees het. Dat die bruin mense daarna hul rug op die ANC sou draai, was 'n gegewe.

'n Beskeie begin

Die PA het in 2013 'n beskeie begin gehad. In die plaaslike verkiesing van 2016 het die party ongeveer 0,06% van alle stemme landwyd getrek en verteenwoordiging gekry in onder meer die metrorade van Kaapstad, Nelson Mandelabaai, Johannesburg en Ekurhuleni.

In aanloop tot 2021 se munisipale verkiesings, waarin die party sy groot deurbraak gemaak het, het McKenzie sterk begin fokus op veral bruin woongebiede soos Eldorado Park in Johannesburg en Eersterust in Pretoria.

Maar dis uiteindelik op nasionale vlak in vanjaar se verkiesing waar die PA ver bo sy gewig begin presteer het. Met nege setels in die parlement het die PA meer gevestigde party geklop, waaronder die VF Plus en Action SA (ses setels elk), die ACDP en UDM (drie setels elk), Bosa en Rise Mzansi (twee setels elk), Good en die PAC (een setel elk).

Baie is al gesê en geskryf oor die feit dat McKenzie 'n onkonvensionele politikus en self 'n omstrede figuur is. Dit skeel hom min.

McKenzie is 'n veroordeelde misdadiger wat tronkstraf uitgedien het. Maar diegene wat steeds sy sondes van jare gelede teen hom hou, moet volgens hom selfondersoek doen en hulself meet aan wat Christenskap beteken. Die Bybel sê mos: vergewe sewe maal sewe en sewentig keer.

‘Twee verskillende wêrelde'

McKenzie beklemtoon voortdurend die ongelykheid tussen die lewensomstandighede van bruin mense op die Kaapse Vlakte teenoor die gegoede woongebiede in Kaapstad. "Dis soos twee verskillende wêrelde," sê hy. Dis hierdie marginalisering van sy mense in die provinsie waar hulle hul lewe lank woon, wat die teelaarde geskep het vir McKenzie om die arm bruin mense tydens die afgelope verkiesing te mobiliseer.

Sy boodskap was eenvoudig: Vandag se keuses bepaal jou lewe van môre. As bruin mense nie hul stem verander nie, sal hul sukkelbestaan voortduur.

McKenzie het ook al aangevoer die DA sien nie om na die behoeftes van bruin mense nie. Weer vind dit aanklank by Meneer Cee se liedjie.

Dis asof jy hoor "maak oop julle oë. Hierdie is jou land ook. Hou op om julself te bejammer en neem vir 'n slag standpunt in. Dis tyd vir saamstaan en opstaan vir jul regte."

Kortom: "Ons baiza nie meer nie!"

Maar ons nuwe minister van sport, kuns en kultuur moet kennis neem van wat in die afgelope verkiesing met die ANC gebeur het. Ongeag hoe goed die PA in hierdie verkiesing presteer het, die party se toekoms hang af van sy vermoë om sy verkiesingsbeloftes gestand te doen.

'n Mens gun McKenzie sy sukses, maar hy moet weet hy is net so goed soos in sy laaste verkiesing.

Kiesers is ná al die jare moeg vir leë beloftes. Hulle wil ontsnap uit die haglike lewe van armoede en vir hul kinders en kleinkinders 'n plekkie in die son beding in hierdie mooi land van ons. Mense stem deesdae met hul voete. As jy hulle teleurstel, sal hulle eenvoudig wegloop.

Vra gerus vir die ANC. Ná dese kan hulle getuig hiervan.

  • Prof. Le Cordeur is die visedekaan vir onderrig en leer aan die Universiteit Stellenbosch se fakulteit opvoedkunde.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM