Louisemarié Combrink bekyk Pablo Picasso se kuns en die vroue in sy lewe wat as muse moes dien.

Ons ken die Spaanse kunstenaar Pablo Picasso as een van die grotes van moderne kuns. Nie net het hy algehele vernuwing gebring met sy benadering nie, hy het ook met sy kubistiese werke die relatiwiteit van tyd en ruimte tot vergestalting gebring. Vir my is sy aangrypende Guernica 'n hoogtepunt in sy oeuvre. Hierdie werk bied 'n bloedstollende perspektief op die Nazi-bombardement van die dorpie Guernica tydens die Spaanse burgeroorlog, en bly een van die mees aangrypende anti-oorlogkunswerke van alle tye.
Picasso staan inderdaad kop en skouers bokant heelwat kunstenaars van die 20ste eeu. Daar is egter 'n donkerder kant aan hierdie kunstenaar, veral wat sy verhouding met vroue betref. Hy het agt langerige verhoudings gehad, waarvan sommige ook huwelike was - en die een was meer stormagtig as die ander.
Sy bekende uitspraak was dat daar twee tipes vroue is: deurmatte en godinne. Ons sien hier iets van sy beskouing van vroue - enersyds as muses vir sy kuns, maar andersyds ook mense wat vinnig verwerp is. Hy is ook bekend daarvoor dat hy redelik wreed kon optree, en daar is ook 'n paar vroue wat onder hom deurgeloop het.
Picasso voer aan dat sy seksuele energie en sy skeppende energie vervleg is, en dat nuwe liefdes sy kuns aanvuur. Tog, wanneer een van sy minnaresse of vroue byvoorbeeld swanger raak en die aandag nie meer volledig op hom is nie, verloor hy vinnig belangstelling en soek dadelik na 'n vars bron van romantiese en seksuele intrige.
Hy was byvoorbeeld getroud met die Russiese ballerina Olga Khokhlova, vir wie hy kostuums ontwerp het. Ten tyde van dié huwelik het hy 'n romantiese tussenspel met Sarah Murphy, 'n Amerikaner.
Kort daarna, in 1927 en steeds met Khokhlova getroud, ontmoet hy Marie-Thérèse Walter (17). Hy was 46 en op die hoogtepunt van sy loopbaan. Picasso gebruik hierdie nuwe liefde as inspirasie vir 'n werk - Vrou met horlosie - enersyds om sy nuwe liefde aan te kondig, en andersyds om stylvernuwing in sy oeuvre teweeg te bring. Hierdie werk is onlangs vir $139 miljoen verkoop. Inderdaad is om 'n Picasso te besit 'n besondere statussimbool.
Picasso het Walter basies in 'n goue kou aangehou, en vir haar 'n woonstel gekoop net oorkant sy en Khokhlova s'n. Hy het haar soos 'n valk dopgehou en haar bewegings gemoniteer en beheer. Sy was ook die ma van sy dogter Maya.
Daar was verskeie ander verhoudings in Picasso se lewe, en die meeste daarvan oorvleuel met mekaar.
Picasso was ook bekend daarvoor dat hy nie verhoudings beëindig het voordat hy die volgende muse betrek het nie, en sodoende het heelwat van die vroue in sy lewe eintlik redelik hopeloos bly hoop dat daar tog iets sal kom van 'n langduriger verhouding.
Daar word verwys na Picasso se hantering van verhoudings as redelik narsisties. Sy selfvoldane ingesteldheid dui op 'n soort aanspraak op spesiale behandeling.
Verder lyk dit asof hy homself bokant die reëls en norme van die samelewing ag. Ook is sy dors na nuwe verhoudings, die vinnige objektivering van die liefdes in sy lewe, en die verwerping van soveel van hulle ook aanduidend van hierdie persoonlikheidstipe.
In sy kinderjare is die jong Picasso met byna goddelike agting bejeën. Hy was 'n intense en baie mooi kind, en sy ma, tantes, die huisverpleegster en ook sy twee jonger susters het meegeding om sy guns te wen. Hier reeds is die idee by hom vasgelê dat sy wense belangriker is as ander mense s'n.
Dit het ook nie gehelp dat sy rou talent hom daadwerklik onderskei het van ander nie. Hy ontvang die Spaanse erepenning op 14-jarige ouderdom - geen ander kunstenaar kon tot nog toe daar naby kom nie.
Sy oeuvre is astronomies: Kundiges glo dat Picasso in sy loopbaan van 78 jaar sowat 147 800 kunswerke geskep het, waaronder skilderye, drukgrafiese werke, beeldhouwerke en illustrasies. Dit is minstens twee werke per dag.
Picasso laat 'n mens met een ander vraag. Hoekom lyk dit of visuele kunstenaars wat hulself in seksuele verhoudings sleg gedra makliker daarmee wegkom as byvoorbeeld rolprentakteurs? Is dit omdat daar 'n tipe afstand is tussen die kunstenaar en sy werk, terwyl die akteur sy liggaam gebruik in die beoefening van sy kuns?

- Dr. Combrink is 'n senior dosent in kunsgeskiedenis aan die Noordwes-Universiteit. Sy gesels Sondae tussen 13:05 en 14:00 in Esté Gross se program Wat's nuut? Dis klassiek! op PretoriaFM oor kuns.














