Daar word in verskeie verslae na Suid-Afrika verwys as 'n polities gepolariseerde gemeenskap. Dit klink nie omstrede nie in ag genome sy geskiedenis van onteiening en diskriminasie gedurende kolonialisme en apartheid, en die nalatenskap daarvan ná 30 jaar van demokrasie.
Maar my ontleding van Suid-Afrika se geskiedenis en politiek weerlê die siening.
Die Atlantic Council het voor die land se algemene verkiesing in Mei berig hoewel Suid-Afrika "baie hoog" op ranglyste lê wat verkiesings en politieke regte betref, is daar 'n effens negatiewe neiging, wat toegeskryf kan word aan politieke polarisasie.
Die Democracy and Development Progam het aangedui dat partylojaliteit en politieke popularisering dit vir mense moeilik kan maak om die uitslae van verkiesings te aanvaar as dit nie in hul guns is nie.
Verder is Suid-Afrika onlangs saam met Argentinië, Colombia, Amerika, Spanje en Swede op 'n ranglys van die Edelman Trust-barometer onder die polities mees gepolariseerde lande geplaas.
Politieke polarisasie, word geredeneer, is die gevolg van 'n afname in ekonomiese optimisme, die gevolglike groter wantroue in die regering en 'n groterwordende kloof in die inkomste van arm en ryk mense. Wantroue in die tradisionele media het toegeneem, met mense wat toenemend hul inligting kry van "eggokamers" op sosiale media.
Die bewering dat polarisering in Suid-Afrika ekstreem is, word wyd gevoed deur die aannames dat die land se politiek verdeel is langs die lyne van "ras" en klas.
Die bewering dat polarisering in Suid-Afrika ekstreem is, word wyd gevoed deur die aannames dat die land se politiek verdeel is langs die lyne van "ras" en klas. Of swart teenoor wit, en ryk teenoor arm. In ag genome die land se gewelddadige geskiedenis, is dit nie verrassend nie. Maar gegrond op my ontleding van die land se politieke landskap sedert die 1970's glo ek ons moet versigtig wees om te aanvaar dat Suid-Afrika polities gepolariseerd is. Dit is belangrik, want sommige mense voer aan dat polarisering gevaarlik is en kan lei tot politieke dooiepunte, onstabiliteit en die ineenstorting van demokrasie.
Indien Suid-Afrika polities gepolariseerd is, sou dit tog lyk of die einde van die demokrasie in sig is. Maar is dit die geval?
As die land so polities gepolariseerd is as wat sommige voorhou, is die veronderstelling dat 'n mens dit sou kon sien in die uitslag van die verkiesing in Mei. Maar die uitslag van die verkiesing wys baie duidelik dat die land nie verdeel is in twee antagonistiese kampe nie. Die ANC, wat lank reeds regeer, het 40% van die stemme gekry. Die DA, die opposisieparty, het byna 22% van die stemme gekry. En hoewel die twee partye ideologies verdeel is, het hulle genoeg middelgrond gevind om die kern te vorm van 'n regering van nasionale eenheid (RNE), wat uit 10 partye bestaan.
Dit word wyd geïnterpreteer as 'n bewys dat die politieke sentrum staande gebly het. En dit word gestaaf deur meningspeilings waarin bevind is dat die eenheidsregering aanleiding gegee het tot groter optimisme oor die toekoms.
Teenstrydige bewyse
Amerikaanse politieke wetenskaplikes wat probeer verstaan hoe dit gebeur het dat Donald Trump in 2016 die president van Amerika geword het, het die idee van politieke polarisering ontwikkel. Hulle het altyd erken dat Amerikaanse kiesers verdeeld is wat klas, ideologie en politieke belange betref. Nou identifiseer hulle daardie verdeling as twee kampe wat wedersyds antagonisties teenoor mekaar staan.
Die Demokrate en die Republikeine het begin om mekaar te sien as 'n eksistensiële bedreiging vir hul nasie of hul leefwyse.
Die politieke wetenskaplikes het verder soortgelyke prosesse geïdentifiseer wat in baie ander lande plaasvind. Hulle argumenteer dat dit 'n ondermyning is van die demokrasie se vermoë om te oorleef.
Dit sluit aan by die erkenning dat maatskaplik-ekonomiese ongelykheid sedert die 1980's globaal drasties toegeneem het. Dit het vertroue in gevestigte politieke instellings en partye ondermyn. Die gevolg was meer toenemend ekstremistiese benaderings tot politiek. Populistiese politici moedig dit aan. Hulle mobiliseer steun deur die gemeenskap te verdeel in groepe wat bitterlik gekant is teen mekaar. En dan doen hulle hulself as die redders van eerlike burgers voor wat onder beleg is van die gevestigte elite, 'n "skadustaat" of onwelkome en uitbuitende buitestanders.
Die uiterste ongelykhede in Suid-Afrika het soortgelyke scenario's moontlik gemaak.
In Suid-Afrika het lede van die regerende ANC se faksie vir radikale ekonomiese transformasie in oudpres. Jacob Zuma se ampstermyn (2009-2018) verskeie aanvalle op "witmonopoliekapitaal" van stapel gestuur. Die suggestie was dat skaduagtige ekonomiese magte wat van die apartheidsera dateer, die land se demokrasie ondermyn.
Of dit die werklikheid weerspieël, was minder van belang vir die faksie as om dit te gebruik om politieke menings te mobiliseer. Die aanname was dat, ondanks die formele instelling van die demokrasie in 1994, Suid-Afrika steeds deur 'n ryk wit minderheid bestuur word ten koste van die massa swart Suid-Afrikaners.
Die Suid-Afrika van die 1970's en die 1980's, toe die stryd teen apartheid hoogty gevier het, was baie duidelik gepolariseerd tussen die apartheidsregering en demokratiese magte.
Sommige politici probeer politieke steun kry deur polariserende taal en terme te gebruik. Maar beteken dit in werklikheid dat Suid-Afrika polities gepolariseerd is?
Versigtige besinning suggereer iets anders.
Die Suid-Afrika van die 1970's en die 1980's, toe die stryd teen apartheid hoogty gevier het, was baie duidelik gepolariseerd tussen die apartheidsregering en demokratiese magte. Tog bly die eenheidsregering vandag staande ná die sesde demokratiese verkiesing, ondanks die beleidsverskille tussen die ANC en die DA (wat tussen die twee van hulle amper twee derdes van die stemme gekry het).
Hulle ontgin, al is dit net vir die oomblik, maniere waarop hulle kan ooreenstem oor hoe om te verskil. Die land bly op baie maniere verdeel. Tog is dit nie gepolariseerd in onversoenbare antagonistiese kampe met wyduiteenlopende wêreldbeskouings nie.
Spanning
Daar is nietemin spanning. 'n Alternatiewe interpretasie van die uitslag van vanjaar se algemene verkiesing is dat die Suid-Afrikaanse politiek verdeeld is tussen diegene wat die legitimiteit van die demokratiese Grondwet erken en diegene wat dit nie erken nie.
Die verrassende verskyning van Zuma se MK-party (MKP) is die grootste faktor wat gelei het tot die ANC se verlies van sy meerderheidsteun - van 57% in 2019 tot 40% vanjaar. Die MKP het 14% van die stemme gekry. Die party het sy gewig agter dié van Julius Malema se EFF, wat 9% gekry het, ingewerp om die Progressiewe Koukus in die parlement te vorm. Saam vorm hulle nou die kern van die opposisie.
Die EFF het lankal sy minagting vir sekere dele van die Grondwet laat blyk.
Die MKP wil die huidige Grondwet vervang. Die party se argument is dat die Grondwet dit vir howe moontlik maak om wette wat deur die parlement goedgekeur is, ongrondwetlik te verklaar en dit ontken meerderheidsregering.
Die EFF het lankal sy minagting vir sekere dele van die Grondwet laat blyk.
Dit is daarom geen verrassing dat die Progressiewe Koukus 'n alliansie van anti-grondwetlike magte genoem word nie - die aankondiging van 'n verdeling van Suid-Afrika in twee strydende kampe.
Beduidende opposisie binne die ANC téén die RNE bevestig dat die party in die toekoms die gevaar van verdere fragmentasie loop. Diegene wat vyandig is teenoor die koalisie met die DA, kan die skip verlaat.
'n Soortgelyke situasie speel in baie ander demokrasieë af. Net 58% van geregistreerde kiesers het in Mei gestem. Die lae vlakke van deelname is kommerwekkend.
Maar dit sal nie noodwendig lei tot 'n verenigde, anti-konstitusionele opposisie nie.
Nietemin, wat die Edelman Trust-verslag en ander peilings wel bevestig, is dat vertroue in die regering en in ander nasionale instellings soos die howe, die polisie en die verkiesingsowerheid, aan die afneem is.
'n Soortgelyke situasie speel in baie ander demokrasieë af.
Net 58% van geregistreerde kiesers het in Mei gestem. Die lae vlakke van deelname is kommerwekkend. Dit is 'n teken dat die demokrasie vir die groot minderheid van die bevolking nie so goed werk soos dit moet nie.
Maar net verdere navorsing sal wys of daardie minderheid vasbeslote is in hul antagonisme teenoor die Grondwet.
Southall is 'n professor in sosiologie aan die Universiteit van die Witwatersrand. Dié artikel het eers op The Conversation verskyn.





















