Wat ouers darem nie alles sal aanvang langs die sportveld om hul bloedjies aan te moedig nie. Fransjohan Pretorius skryf oor twee sulke voorvalle van weleer.

Ouers se ondersteuning langs die sportveld is 'n onderwerp waaroor menige kostelike verhaal vertel kan word. Van skreeuende ma's wat al langs die kantlyn af hol as Boetie op pad is doellyn toe, tot pa's wat in onderonsies met die skeidsregter of die opposisie-buurman betrokke raak.
Ek het twee kostelike stories gehoor, van Linza en haar broertjie, John. In dié betrokke huisgesin was die pret eintlik die ma se benoudheid as hulle deelneem. Sy, wat, wanneer sy benoud was, glo haar neus met duim en wysvinger toegedruk en met groot oë die wêreld bekyk het. Die pa was stil, maar hy het ook een keer kop verloor. . .
Laat ek u ver terugvat na hul verhale. 1958. Op 'n warm plek soos Brits was die munisipale swembad net wes van die stadsaal 'n gewilde bymekaarkomplek vir die jeug, sê John. Op 1 September elke jaar het die seuns voor die ingang versamel en gretig op die deur gewag om oop te gaan. Van heinde en ver het hulle op hul fietse aangery gekom, kosjie oor die kop getrek. Sommige jare was daar gerugte dat die swembad vanweë die hitte vóór 1 September gaan oopmaak, en dan het die knape vergeefs voor die ingang gewag.
Oom Stoney Steenekamp-hulle het 'n swemklub op Brits gestig, en swem het 'n ernstige saak geword. John was gou doenig in rugslag, vlinderslag en borsslag. Sy maats Jan-Harm Steenekamp en Ludi Koekemoer het in die ouderdomsgroep hoër as hy geswem.
Linza het belofte as vryslagswemmer getoon. Sy was lank en sterk en het met pragtige hale geswem. Vrydagaande het die gesin deurgery Hillcrest-klub toe in Pretoria, waar hulle ook lede was. John vertel die pad van Brits oor Silkaatsnek, verby die Swartspruit-hotel, met Van der Hoffweg in Pretoria in en af met Flowersstraat in Capital Park, Hillcrest toe, was 'n ritueel. Ook die pad terug huis toe, want hul pa het vir almal lekker rooiworsies en tjips by Mahem Take-away gekoop, hul Austin A95 dae lank daarna gevul met 'n sout-enasynreuk. John reken elke keer as hy op 'n gedeelte van daardie pad ry, maak sy herinneringe 'n sprong in die verlede in.
Hy vertel dis in verwondering dat hy terugkyk en besef hoeveel moeite sy pa gedoen het om vir Linza al die geleenthede te gee om haar talent uit te leef. Hy het selfs as sy plaasdam 'n 55 treë lange sementdam, vier treë breed, op sy 13-morg-plasie buite die dorp laat bou, waar sy kon oefen.
Toe word Linza in 1958 vir Noord-Transvaal gekies vir die o. 14-meisies 110-treë-vryslag op die Suid-Afrikaanse junior kampioenskap in Durban. Hul ma gaan as amptelike chaperone vir die meisies van die span saam. Toe die meisies se o. 14-vryslag-item aan die beurt kom, sit sy daar ewe benoud tussen die beamptes van die ander provinsies, almal Engelse.
"Oh, they needn't even swim this race. Gail Tweedy of Natal will come first, So-and-so second, and So-and-so third," deel een van hulle luid en selfversekerd sy kollegas mee.
Ma sit glo tjoepstil, en sy knyp, soos sy altyd gedoen het as sy benoud was, haar neus toe.
Toe die skoot klap, is die lang donkerkop van Noord-Transvaal met haar bruingebrande lyf onmiddellik voor. Almal om Ma gryp na hul programme om te kyk wie dit nou kan wees. 'n Stilte daal oor die beamptes neer. Dan kom 'n dun stemmetjie uit, in Afrikaans: "Swem, my kind!"
Dis Ma. Sy kry meer selfvertroue: "Swem, my kind!" Nog meer, harder en harder. Met elke "Swem, my kind!" slat sy met haar plat hand die ou voor haar so op sy skouer. En 110 treë is ver, so sy kry genoeg houe in. Teen die einde haal Gail Tweedy vir Linza in en klop haar net-net met 0,2 van 'n sekonde.
Toe die opwinding bedaar, draai die ou voor Ma om en sê vir haar: "Madam, I hope your daughter is swimming in one race only."
Toe verskuif die toneel na 1966, vertel John. Die Suid-Afrikaanse junior atletiekkampioenskap op die Pilditch-stadion in Pretoria. Hy moet vir Noord-Transvaal se o. 17-seuns in die een-myl-item deelneem.
Saterdagmiddag 2 April is dit sulke tyd. Pa en Ma is op die paviljoen, Pa met sy stophorlosie en rolprentkamera. Sy onhandigheid met kamera en tegnologie was glo 'n legendariese gesinsgrappie.
Vieruur. Die skoot klap en 'n anderhalfdosyn voornemende wenners spring weg in die o. 17-seuns se een-myl-item. Hierdie wedloop is anders as interhuis of interhoër, John besef hy kan nie van die begin af probeer voor hardloop nie. Dus bly hy maar teen die stywe pas so onder die voorstes.
Al gou sorteer die spul mekaar uit. Graham Raubenheimer van Natal hardloop voor, gevolg deur Louis de Lange van Suid-Transvaal. John lê derde. Wat hy toe nie besef nie, vertel hy, is dat nog 'n John, John Leitch van die Oostelike Provinsie, gevaarlik naby op sy hakke vierde lê.
En dis hier waar sy ma inkom. Linza het later vertel dat Ma haar neus tussen duim en wysvinger vasgeknyp en grootoog aanmekaar hardop geprewel het: "Wie's daai Wittetjie?! Wie's daai Wittetjie?!" Pa was doenig met sy stophorlosie en rolprentkamera, en het nie tyd gehad om op die program te kyk wie "daai Wittetjie" is nie.
Dit was egter John Leitch met sy blonde kuif in sy wit Oostelike Provinsie-frokkie met die dun ligblou-en-rooi skuinsstrepe op die bors.
Vir die laaste drie rondtes het Ma ge-"Wie's daai Wittetjie?! Wie's daai Wittetjie?!" totdat John derde verby die wenpaal is en die Wittetjie ná hom.
Linza het die verhaaltjie verder gevoer. Pa het glo tydens die wedloop naderhand met sy rolprentkamera die trappies afgenael en tussen die staande toeskouers voor die paviljoen beland om die res van die wedloop te verfilm.
Sy kon sien hoe hy tussen almal deurvleg om by te bly met die atlete.
'n Rukkie later is die ontmoeting met Pa en Ma op die paviljoen een groot omhelsing.
"Wat het Pa my tyd gekry?" vra John, net om te vergelyk of syne met die amptelike tyd ooreenstem, want die eerste drie atlete het die Noord-Transvaal-rekord oortref.
Pa kyk op sy stophorlosie: "Tikketikketikketikke," sê die stophorlosie. In die opwinding het Pa vergeet om die stophorlosie se knoppie te druk.
'n Paar weke later kyk die gesin na Pa se film van die wedloop. Dis duidelik die Wittetjie was 'n bedreiging vir John, van die begin af. Toe die klok vir die laaste rondte lui, begin die beeld egter skud. Nog meer. Jy sien glo nog die Skilpadsaal op die Skouterrein op die agterste pylvak, en dan bokspring die beeld iets geweldigs. Dis net flitse van blou lug en groen gras en toeskouers, en groen gras en toeskouers en blou lug. Die volgende oomblik kom die ordelike defileermars van die marsjerende soldate in Eeufeesweg met die vyfjarige herdenking van die Republiek op 31 Mei voor hul oë verby.
Jare later sou John homself glo betrap dat hy 'n skeidsregter teetyd konfronteer oor sy been-voor-paaltjie-beslissing van sy bloedjie.

- Pretorius is 'n emeritus professor in geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.

















