Aktueel

Tydlose lesse uit Watergate-sage

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Vyftig jaar ná Richard Nixon se bedanking as Amerikaanse president bly ‘The Washington Post' se ontbloting van die Watergate-sage 'n gevallestudie vir joernalistieke werkwyse wanneer magshebbers hulle aan vergrype skuldig maak én dit probeer toesmeer, berig Gert Coetzee.

Richard Nixon tydens sy toespraak voor Withuis-personeel nadat hy op 9 Augustus 1974 as 37ste president van die VSA bedank het. David Eisen­hower, sy skoonseun (en kleinseun van pres. Dwight D. Eisenhower), staan op die agtergrond. Foto: Getty Images
Richard Nixon tydens sy toespraak voor Withuis-personeel nadat hy op 9 Augustus 1974 as 37ste president van die VSA bedank het. David Eisen­hower, sy skoonseun (en kleinseun van pres. Dwight D. Eisenhower), staan op die agtergrond. Foto: Getty Images

Die Watergate-sage is die moderne model van die klassieke kringloop vandat heersers hulle aan mag vergryp totdat hulle tot 'n val kom.

Mooi beloftes. Absolute mag wat absoluut verlei. Vergrype. Onaantasbaarheid. Skeiding van staatsmagte wat sneuwel. Ontkenning. Blaamskuiwery. Die leuen wat inhaal. Slagofferskap. Die val (soms).

Sonder dat aanspreeklikheid aanvaar word. Van berou is nog minder sprake.

Staatskaping in Suid-Afrika pas in die raamwerk, met selfverryking as leitmotief.

Vervolging is nie noodwendig nie. Richard Nixon het dit danksy 'n kwytskelding van Gerald Ford, sy opvolger, ontduik.

Tog word Watergate veral onthou vir die rol van joernalistieke samespanning in die ontbloting van magsvergrype. Twee joernaliste met instinkte, oë, ore, voete, telefone, penne en notaboekies en tikmasjiene was aan die spits - The Washington Post se Bob Woodward en Carl Bernstein. Onder die beskermende sambreel van die Post-uitgewer, Katharine Graham, redakteur Benjamin Bradlee en besturende redakteur Howard Simons,

Die Post se werkwyse bied lesse oor waghond-joernalistiek van die ouskool-orde. Die verloop van hul ondersoek dra elemente wat vir joernaliste oral bekend behoort te wees. Elke ware nuusberig - teenoor sonskynjoernalistiek - verg ondersoekende werk.

Dit begin by spanwerk en eindig by die waarheid dat 'n koerant net so goed soos sy laaste uitgawe is. Tussenin is die geloofwaardigheid ingebed wat elke koerant, deesdae mediahuise of nuuswebtuistes, se bestaansreg regverdig.

Foto:
Foto:

Goeie ou voetwerk

Spanwerk: Die legendariese joernalistieke tweemanskap Wood­stein (Woodward + Bernstein) het halsstarrig beslag gekry. "They had never worked on a story together. Woodward was 29, Bernstein 28," skryf hulle in All the President's Men.

Bernstein het sy spore in nuuskantore verdien - as boodskapper (copy boy) vandat hy 16 was en verslaggewer vandat hy 19 was. Woodward was skaars nege maande in die joernalistiek. Woodward was van Yale; Bernstein het sy universiteit­studie laat vaar.

Albei alleenlopers was geskei. In die jare van saamwerk was hulle met hul werk getroud en het 'n verhouding gesmee wat die argwaan van skeptiese kollegas én druk van die Withuis moes deurstaan. Hulle is tot 'n span gebrei, maar in die nuuskantoor het die vonke gespat. Albei móés saamstem alvorens hulle iets sou skryf. Hulle moes ego's bêre en mekaar vertrou. Bernstein was die eerste wat Woodward oor die identiteit van Deep Throat, sy enigmatiese regeringsbron, in sy vertroue geneem het. Nie een sou Watergate alleen kon blootlê nie.

Huiswerk: Dit was voor rekenaars, selfone, internet en google-joernalistiek. Woodward en Bernstein het die raaisels ontrafel deur oproepe te maak (ook van telefoonhokkies), hul skoensole deur te loop, aan deure te klop en verdagtes te konfron-teer.

'n Beswaarde het by Bradlee gekla dat Woodward en Bernstein werknemers van die Committee for the Re-election of the President (CPR) treiter. "Wat doen hulle?" "Hulle klop aan hul woonsteldeure en bel hulle van die ingangsportaal af."

"Wel, dis die gaafste ding wat ek in jare oor enigeen van hulle gehoor het," het die redakteur gesê.

Soos Nick Davies, skrywer van Flat Earth News, sê: "What an idea! That two reporters - armed with nothing more than their pens and notebooks - could bring down the most powerful man in the world, because he was corrupt."

‘Sensasie' en 'n ‘agenda'

Val die boodskapper aan: Die taktiek, eintlik menslike natuur, is nie beperk tot magshebbers nie, maar is waar van diegene wat hul slegte storie uit die koerant wil hou. Rektore, skool­hoofde, predikante, sportlui, gewones . . .

Die Withuis en sy destydse woordvoerder, Ronald Ziegler, het die aanslag teen die Post gelei. Ook hoë Republikeine het in toesprake gesê die koerant "is met die Demokrate in die bed".

Senator Robert Dole van Maryland het in 'n aanval van 20 minute 57 verwysings na die Post gemaak, insluitende die lae hou dat die koerant se geloofwaardigheid 'n laagtepunt bereik het.

Op nuuskonferensies is Post-verslaggewers verkleineer. Dorothy McCardle (68) wat in vyf presidentstermyne oor die Withuis se sosiale gebeure berig het, is verbied om dit by te woon.

Graham is gedreig dat haar koerant toegemaak sal word. Die Post het juis vanweë sy Pentagon Papers-beriggewing adverteerders verloor.

"The White House had decided that the conduct of the press, not the conduct of the President's men, was the issue," skryf Woodward-hulle.

Die gewone beskuldiging is sensasie en tweedens dat die koerant 'n agenda sou hê. In Suid-Afrika word die rassekaart gespeel.

Bradlee se raad? Tyd sal die toets wees.

Ontginning van netwerke: Lank vóór die Watergate-sage het Woodward toevallig vir Mark Felt van die FBI ontmoet. Hy het dié "vriendskap" bly smee, onwetend dat Felt eendag tot die FBI se nommertwee-amptenaar sou vorder en ook, danksy sy pos, die bron der bronne sou word.

Elke bron het 'n agenda. Felt se motief as fluitjieblaser was glo "integriteit" en dat hy gemeen het die Withuis diskrediteer die FBI. Natuurlik is hy ook ten gunste van Pat Gray oor die hoof gesien toe Nixon 'n nuwe FBI-direkteur aangestel het.

Hofbeamptes, sekretaresses, bodes en deurwagte het ook stories te vertel. Of kan toegang tot inligting belemmer. Lees All the President's Men.

Dié fout is gebruik om die Post se hele verslaggewing verdag te maak. Dus: Berig reg oor die groot goed én die klein dingetjies.

‘Moeder van alle bôkkerops'

Bronbeskerming: By die Post het Woodward se vertroulike bron (Felt) gou die bynaam Deep Throat, na aanleiding van die blou film, gekry en omdat sy wenke "vir diep agtergrond" was.

Woodward en Deep Throat se kommunikasie was spioenasie-materiaal. Woodward sou die pot met 'n rooi vlag op sy woonstelstoep skuif as hy wou praat. Dan sou sy afgelewerde koerant 'n omkringde bladsynommer met 'n tyd daarby hê.

Hul middernagtelike ontmoetings in 'n parkeergarage met Deep Throat wat agter 'n pilaar skuil en Woodward wat die gloeiende kooltjie volg, word in All the President's Men (die rolprent) treffend uitgebeeld.

Vir meer as 30 jaar het Woodward sy bron se identiteit beskerm. Eers toe Felt (toe 91) in 2005 aan Vanity Fair verklap het hy is Deep Throat, het Woodward en Bernstein in 'n verklaring van twee sinne die antwoord op die joernalistieke geheim bevestig. "W. Mark Felt was Deep Throat and helped us immeasurably in our Watergate coverage. However, as the record shows, many other sources and officials assisted us and other reporters for the hundreds of stories written in The Washington Post."

Moenie aanneem nie: Die moeder van alle bôkkerops. Daar was konsternasie toe Woodward en Bernstein berig 'n bron het gesê hy het voor die groot jurie getuig dat H.R. Haldeman van die Withuis die geheime fonds-uitbetalings behartig het. Die bron het wel Haldeman met die uitbetalings verbind, maar nie gesê dat hy so getuig het nie.

Dié fout is gebruik om die Post se hele verslaggewing verdag te maak. Dus: Berig reg oor die groot goed én die klein dingetjies.

Simons se advies aan die twee verslaggewers? "When in doubt, leave out." Overgeset synde, as jy nie berig nie, kan jy altyd later berig; as jy eers berig het, kan jy dit nie onttrek nie.

John Vorster

Twee bronne, verkieslik drie: Nog 'n reël, wat deur Simons ingedril is, was dat die Post nie sou berig tensy minstens twee onafhanklike bronne, verkieslik drie, inligting bevestig nie. Die nuus-onderwerp (meestal die Withuis of Nixon se woordvoerder) moes altyd kans kry om te reageer.

Maksimum inligting, minimum waarheid: Jy kan al die inligting kry, maar jy hoef nie als te skryf nie.

Woodward het vir John Mitchell telefonies meegedeel dat die Post 'n berig gaan dra dat Mitchell as prokureur-generaal die geheime CRP-fonds beheer het.

Mitchell: "All that crap, you're putting it in the paper? It's all been denied. Katie Graham's gonna get her tit caught in a big fat wringer if that's published."

Woodward het Bradlee verseker hy het homself deeglik as 'n verslaggewer aan Mitchell bekend gestel en laasgenoemde se ontkenning word ingesluit.

Bradlee het oorweeg om Graham te bel, maar besluit dis onnodig. "Leave everything in but ‘her tit'," het hy Woodward aangesê. Woodward wou die aanhaling volledig dra, maar Bradlee het sy beswaar verwerp. "Mense sal die boodskap kry."

Nuus is altyd vars: Ná elke dag se scoop het Bradlee gevra: "Now what have you guys got for tomorrow?"

Selfs in die tyd van die internet moet die nuus altyd "nuut" wees of minstens nie verouderd voorkom nie. Soos 'n kollega altoos gesê het: Moet minstens nie jou berig verouder deur in die intro te verklap dat die moord al verlede week gepleeg is nie. Dit wys ons het die nuus 'n week lank misgeloop.

Nuus is onafhanklik: Nie aanvalle van die Withuis-woordvoerder of ander amptenare en senatore, die onttrekking van advertensies, 'n dreigement om die Post se radiostasie-lisensies op te skort en 'n boikot teen sy verslaggewers het Graham en Bradlee gestuit nie.

Dit herinner aan Hubert Coetzee, besturende direkteur van Nasionale Pers, se vraag aan Schalk Pienaar, redakteur, in die 1970's nadat eerste minister John Vorster oor koerantrubrieke gekla het: "Wie de donner is redakteur van Die Beeld - jy of John Vorster?"

Ziegler, die woordvoerder, het later die Post om verskoning gevra.

The first rough draft of history: Dié beskrywing van nuus word onder meer toegedig aan Philip Graham, Katherine se man en voor haar uitgewer van die Post.

Die Watergate-sage staaf dit. Daar's te veel boeke om almal te lees oor "die grootste politieke skandaal van die twintigste eeu". Komende nie net van joernaliste nie, maar ook van bykans elk van die "president's men" wat agterna, te laat, hul eie straaltjie wou piepie. Naas All the President's Men, bly Woodward en Bernstein se The Final Days die beslissende werke. In ons land is staatskaping deeglik geboekstaaf.

Jy is net so goed as jou laaste koerant: Ná die Watergate-skandaal is die Washington Post erken as dié standaard vir ondersoekende joernalistiek.

Tydens hul werk om die sameswering oop te vlek, het Simons ná elke berig gewaarsku: "We cannot afford to gloat."

Later het die koerant in 'n slaggat getrap. In 1981 het die Post die Pulitzer-prys teruggegee wat aan verslaggewer Janet Cooke (ook 'n fabulist genoem) toegeken is vir haar reeks "Jimmy's World" oor 'n negejarige heroïen-verslaafde. Die stories was versin.

  • Aanvullende bronne: All the President's Men, Bob Woodward en Carl Bernstein. The Secret Man, The Story of Watergate's Deep Throat, Bob Woodward. Felt, The man who brought down the White House, Mark Felt. Personal History, Katherine Graham. Flat Earth News, Nick Davies. Die Groot Aanhalingsboek, George Claassen (samesteller).
  • Coetzee is 'n oudredakteur van Volksblad.

Waaroor het dit gegaan?

Die Watergate-skandaal behels meer as die inbraak in die kantoor van die Demokrate se nasionale komitee in die bunkeragtige Watergate-hotel-en-kantoorkompleks vroegoggend op 17 Junie 1972. Dié poging deur ondergeskiktes, wat die vuil werk moes verrig, is gefnuik toe 'n veiligheidswag 'n oop slot ontdek het.

Bob Woodward was daardie Saterdag een van die Washington Post se diensverslaggewers. Oortuig dat hy vir groot joernalistieke louere bestem was, was hy nie lus vir die storie oor die inbraak wat op sy lessenaar geland het nie. Totdat hy besef het dit was nie die plaaslike Demokratiese kantoor nie, maar die hoofkwartier van die Demokrate se nasionale komitee (NDC) waar ingebreek is . . .

Carl Bernstein, 'n politieke streekverslaggewer, het ook snuf in die neus gekry en aan die storie begin knaag. Woodward moes dit verduur, min wetende dat hulle saam joernalistieke geskiedenis sou maak.

Dit het twee jaar geneem voordat pres. Richard Nixon op 9 Augustus 1974 weens die Watergate-skandaal sou bedank om te vermy dat hy die eerste Amerikaanse president word om in 'n staat van beskuldiging geplaas te word.

Agterná het Woodward gesê: "The outline of the Watergate cover-up was so clear in retrospect."

Die inhegtenisneming van die inbrekers was die eerste draad wat losgetorring moes word om die komplot te kon ontbloot. Dié vyf sondebokke van Miami, van hulle Kubaans-Amerikaans, het pakke klere en mediese Playtex-rubberhandskoene gedra het.

Die polisie het op 'n handradiostel, 40 rolletjies film, twee kameras, lopers (vir deurslotte), traangasvuurwapens (van pen-grootte) en afluisterapparate beslag gelê.

In die hof het die nagsluipers swygreg uitgeoefen. Hulle het later skuldig gepleit en is tronkstraf opgelê. (Hulle is betaal om eerder tronk toe te gaan.)

Die inbraak was maande vóór daardie jaar se verkiesing. Nixon het in sy eerste ampstermyn sedert 1968 die storm rondom die Pentagon Papers oorleef. In daardie tyd het hy sy klandestiene Spesiale Ondersoekeenheid gestig, ook genoem die Plumbers wat dinge moes regknoei.

Hy was verbete om ook 1972 se verkiesing te wen. Agter die skerms was sy manne met hul onderduimse streke aan't spook.

Watergate het nie gewyk nie. Woodward en Bernstein het bly opvolg en opvolg.

Die vertroulike bron Deep Throat het Woodward aangemoedig om die vloei van die geld van skenkers van die Republikeinse party te bly volg. Die ondersoekende credo "Follow the money" is gemunt.

Waarheen sou die spoor lei? Stuk vir stuk het die joernaliste aangetoon die inbraak was een skakel in " 'n massiewe veldtog van politieke spioenasie en sabotasie".

Al op 1 Augustus, maande voor die verkiesing, verskyn 'n berig wat skenkersgeld vir die presidentsverkiesingsveldtog die eerste keer verbind met die Republikeine se Committee for the Re-election of the President. Die einste CRP, of CREEP, wat die Watergate-inbraak aangelê het om op die Demokrate te kan spioeneer.

Twee maande later het "die verspreidende skandvlek van Watergate die Wit Huis finaal binnegesypel".

Desondanks is Nixon, wat onkunde gesweer het, nogtans as president herverkies - met 60,7% van die volkstem!

Watergate sou hom inhaal. In die volgende twee jaar is die konneksies tussen die inbraak, CRP, presidentskantoor en Nixon blootgelê.

Dit was Nixon se persoonlike prokureur, Herbert Kalmbach, wat geld uitbetaal het aan die kollaborateurs om die Demokrate se veldtog te ontwrig. En die Republikeine se John Mitchell, toe hy nog prokureur-generaal van die VSA was, het die besteding van "veldtoggeld vir onwettige aktiwiteite teen die politieke opposisie gemagtig". (Mitchell en sy vrou, Martha, se konflik oor Watergate word in Gaslighting met Sean Penn en Julia Roberts in die rolle vertel.)

Watergate was deel van 'n wye veldtog van onwettige koverte manipulasie gerig teen vermeende Nixon-vyande, wat die Demokrate, leiersfigure teen die Viëtnamese Oorlog, onwillige administrateurs en eindelik die Amerikaanse regstelsel en die FBI (vir hul ondersoeke na Watergate) ingesluit het.

Sedert 1968 is mense afgeluister en agtervolg, vals inligting aan die pers gelek, vals briewe geplant, reëlings vir Demokratiese saamtrekke gekanselleer, vals advertensies van Republikeinse "steungroepe" geplaas, dokumente gesteel en spioene in politieke betogings geplant.

Die Withuis het volhard daarmee dat die politieke spioene en saboteurs sonder goedkeuring van die president opgetree het. Nixon se leuens sou die tou wees waarmee hy homself ophang.

Vervolgingswaan het hom ingehaal. Hy het in die geheim bandopname-toerusting in die presidentskantoor laat installeer om gesprekke skelm vas te lê vir latere gebruik. Die bestaan van die bandopnames is onthul en die hooggeregshof het Nixon gedwing om dit te oorhandig.

Dele van die opnames is opsetlik uitgevee. Die beskadigde bande was 'n simbool van Nixon se hele Watergate-probleem, het Woodward en Bernstein geskryf: "The truth had been deleted. The truth was missing."

Die "smoking gun tape" van 'n gesprek tussen Nixon en H.R. Haldeman, sy hoofknoeier, was verdoemend.

Al "die president se manne" kon of wou hom nie meer red nie. Hulle het teen hom gedraai, Haldeman inkluis.

Voordat hy van dwarsboming van die gereg en van magsmisbruik deur die presidentskantoor aangekla kon word, het Nixon die pad gevat.

'n Halfeeu later is dit onbevestig of Nixon wel vooraf geweet het van die Watergate-inbraak wat, danksy joernaliste wat hul werk gedoen het, tot sy val sou lei.

Gert Coetzee.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM