Uitbranding kan soos depressie lyk, maar dit kan bepaald met werkstres verbind word. Kenners verduidelik aan Beth Amato hoe dit manifesteer en wat om daaraan te doen.
'n Katastrofiese brand het in 2021 midde-in die Covid-19-pandemie mediese toerusting van miljoene rande in die Charlotte Maxeke Johannesburg Akademiese Hospitaal verwoes en kritieke pasiëntsorg ontwrig.
Die skade aan fisieke infrastruktuur was net een deel van die skade - byna die helfte (46,2%) van gesondheidsorgwerkers wat in 2021 aan 'n studie deelgeneem het, het aan uitbranding gely, met weinig verbetering sedertdien.
"Tydens Covid-19 was daar 'n hoë voorkoms van uitbranding onder gesondheidsorgwerkers, veral aangesien hulle lang ure gewerk het en veelvuldige rolle moes inneem wanneer daar gapings in dienste was," sê dr. Nazeema Ariefdien, hoofouteur van die studie. Sy is 'n dosent in psigiatrie aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) en die hospitaal se hoof van psigiatrie.
Uitgemergelde jong dokters
Die studie onder Charlotte Maxeke-personeel het onthul uitbranding was die waarskynlikste onder dié op die kruin van hul loopbaan (20- tot 39-jariges). Die waarskynlikheid van uitbranding onder dokters wat hul internskap doen, was drie keer hoër as onder spesialiste.
Boonop het die internskap-dokters se geestesgesondheid agteruitgegaan, wat moontlik tot kliniese oordeelsfoute en skendings van infeksiebeheer kon lei, veral aangesien dit 'n onervare groep is.
"Wanneer 'n gesondheidsorgwerker bedank of afwesig is weens uitbranding, is daar niemand om hulle te vervang nie, dus raak die werklas swaarder vir dié wat oorbly, en op hul beurt kan hulle dalk bedank of siek word. Dis 'n bose siklus. Wat belangrik is, is dat ons veerkragtigheid opbou, en dat ons die institusionele strukture verbeter wat psigiese welsyn bevorder," sê Ariefdien.

Diagnose van uitbranding
Uitbranding bestaan uit drie elemente: hoë emosionele uitputting (chroniese moegheid, lae motiveringsvlak); 'n hoë vlak van ontpersoonliking ('n gevoel van afstand van 'n mens se werk, sinisme en negatiwiteit); en lae persoonlike prestasie.
Kerry Gordon, 'n beradingsielkundige in Wits se eenheid vir berading en beroepsontwikkeling, sê uitbranding gaan daaroor "om nie genoeg te hê nie" - nie genoeg energie, hoop of motivering nie.
"Ander voel wrewelrig teenoor werk, raak onbetrokke en moeg, en bring produktiwiteit in die gedrang. Uitbranding kan baie soos depressie lyk, maar dit hou direk met werkstres verband. Party mense word meer dikwels siek. Hul immuniteit is laer, of hulle ervaar meer pyn."
Baie mense het gedog dit sou ideaal wees, maar om tuis te werk beteken jou huisomgewing is nie meer 'n toevlug nie.
— Dr. Nazeema Ariefdien
Veerkrag in grendeltyd
Ariefdien en haar kollegas het die Healthcare Workers Care Network tot stand gebring. By Charlotte Maxeke het Ariefdien, 'n voorstander van die 10 minute-"minipouse", gehelp om 'n rusplek te vestig waar verpleegkundiges en dokters kon ontspan en gratis koffie drink.
"Dit is noodsaaklik dat daar toegewyde ruspouses moet wees. Dit word dikwels as 'n uitgawe of 'n onmoontlikheid gesien. Maar op lang termyn is die verlies aan produktiwiteit en die uiteindelike koste vir die instelling groter as die waargenome koste en tyd wat dit verg om te sorg dat mense nie uitbrand nie."
Ariefdien glo nie ons sal ooit na "voor-Covid-19-normaal" terugkeer nie. Sy sê organisasiekultuur, bestuur en infrastruktuur is van kardinale belang om veerkragtigheid te bevorder.
"Dit beteken werk-lewe-balans moet gerespekteer en aangemoedig word, bydraes moet erken word, daar moet voldoende finansiële vergoeding vir werk wees, onredelike spertye moenie afgedwing word nie en afknouery en seksuele teistering moet tot die minimum beperk word en dadelik aandag kry."

Tuis werk en vae grense
Ariefdien sê om van die huis af te werk, in watter sektor dit ook al is, verhoog die risiko van uitbranding. "Baie mense het gedog dit sou ideaal wees, maar om tuis te werk beteken jou huisomgewing is nie meer 'n toevlug nie. Die skeiding van werk en lewe is baie belangrik. Mense is ook geneig om langer ure te werk en is gewoonlik te eniger tyd aanlyn beskikbaar. Die grense het vervaag."
Sy beveel kantoorgebaseerde werksomgewings aan om ondersteuningsnetwerke te versterk en sterker kollegiale verhoudings te ontwikkel.
Gordon dink die oorgang na tuis werk was goed vir party mense, maar nie vir ander nie. "As dit werk, beteken dit jy het goeie grense tussen werk en die res van jou lewe. Dit beteken om 'n vasgestelde roetine en 'n struktuur te hê," sê sy.
Ons wil hê die kantoorruimte moet sosiale interaksie aanmoedig en kreatiwiteit en produktiwiteit in die hand werk.
— Prof. Andrew Thatcher
Brandgate in beursies
Wat kan ons aan uitbranding doen in 'n land waar so baie mense lank en hard moet werk om selfs net die basiese goed te kan bekostig?
"Dis moeilik, want dit is nie altyd moontlik om 'n toksiese werkplek te verlaat as die ekonomie swaar trek nie," sê Gordon. Oor sekere goed het 'n mens wel beheer.
"Ek moedig dit aan dat 'n mens self 'n bewustheid kweek oor hoe stres vir jou lyk. Ek moedig ook oop kommunikasie met jou bestuurder aan om maniere te vind om produktiwiteit 'n hupstoot te gee en psigiese gesondheid in stand te hou."
As jy reeds uitgebrand is, stel Gordon voor jy rus, wat insluit dat jy die verlof neem waarop jy geregtig is en in dié tyd heeltemal afskakel.
Ander wenke hoe om uitbranding te verlig, sluit in:
• Kry 'n "ritueel" om die werkdag mee te begin en af te sluit.
• Stel vir jouself 'n skedule op en baken rustyd af om jou van werk af te sluit.
• Beoefen bewustelikheid (mindfulness). 'n Eenvoudige oefening is om drie goed op te merk wat jy kan sien, drie goed waaraan jy kan raak en drie goed wat jy kan hoor.
Kantooruitleg, atmosfeer en produktiwiteit
Prof. Andrew Thatcher van Wits se skool vir menslike en gemeenskapsontwikkeling sê die uitleg van 'n kantoorruimte behoort die verskillende tipes werk wat mense op verskillende tye van die dag doen, te vergemaklik.
"Daar behoort 'n stil ruimte vir gefokuste werk en private ruimtes vir vergaderings te wees. Kantoorruimte moet vir dié buigsaamheid voorsiening maak," sê Thatcher, 'n kenner van ergonomika en die interaksie tussen die omgewing, mense en tegnologie.
Daarby moet die werkomgewing ook vloei en aktiwiteit aanmoedig, soos om trappe te klim en van jou lessenaar af op te staan om met 'n kollega te praat.
Hy verduidelik 'n goed ontwerpte kantoorruimte kan welsyn verbeter. Die stemming is belangrik, en baie geraas kan iemand se werkvermoë byvoorbeeld versteur.
Soveel natuurlike lig as moontlik in die ruimte is ook belangrik, maar daar moenie fel lig op rekenaarskerms skyn nie.
"Temperatuur is 'n ander belangrike aspek van 'n goed ontwerpte kantoorruimte. In 'n opset waar mense meer geneig is om te sit, kan die temperatuur hoër wees as in meer aktiewe werkruimtes."
Thatcher verduidelik al het hibridiese werkreëlings al voor Covid-19 voorgekom, is dit belangrik om vir mense te wys dat dit lekkerder is om op kantoor as tuis te werk.
"Die ideaal is om werkers aan te moedig om na die kantoorruimte terug te keer. Ons wil hê die kantoorruimte moet sosiale interaksie aanmoedig en kreatiwiteit en produktiwiteit in die hand werk."
Hy sê kantore moet vir 'n verskeidenheid mense en take voorsiening maak. "Die huidige neiging is om vir aktiwiteitsgebaseerde werk te ontwerp."
• Dit is 'n vertaling van 'n artikel wat oorspronklik in die Universiteit van die Witwatersrand se navorsingstydskrif, Curios.ty, verskyn het.


















