Waaraan kan oudpres. Jacob Zuma se gewildheid toegeskryf word? Roger Southall bekyk vyf moontlike teorieë wat dit kan verklaar.

Verskeie teorieë word aangevoer oor waarom en hoe oudpres. Jacob Zuma sy aanhang as 'n leier behou. En hoekom die MK-party wat hy gevorm het in die pas afgelope verkiesing daarin kon slaag om 14,58% van die stemme nasionaal en 45,35% van die stemme in KwaZulu-Natal - die meeste in die provinsie -- te bekom. En dit in net meer as vyf maande ná die party se bekendstelling.
Maar al die vermoedens en verduidelikings moet met uiterste versigtigheid hanteer word, want niemand weet regtig wat die antwoord is nie. Gegrond op die vyf dekades wat ek Suid-Afrikaanse politiek as 'n sosioloog bestudeer, is my mening dat daar geen eenvoudige verduideliking is vir die MK-party se onverwagse sukses of Zuma se voortgesette gewildheid nie.
Daar was 'n soortgelyke dissonansie toe Zuma die destydse president van die ANC, Thabo Mbeki, in 'n waterskeiding by die party se nasionale konferensie in Desember 2007 verslaan het. Ek het toe 'n ontleding gedoen van wat 'n senior leier die "Zuma-tsunami" genoem het en hoe die gebeurtenis deur die media, akademici en politici self geïnterpreteer is. Ek het agt verduidelikings vir die verskynsel gekry, waarvan talle in teenstelling is met mekaar of oorvleuel.
In daardie tydperk het die gebrek aan konsensus tot totale verwarring gelei. En 'n vrees dat Suid-Afrika op 'n afgrond afstuur.
Soortgelyke vlakke van vrees word uitgespreek in kommentaar oor die rol wat Zuma vandag speel en sy MK-party. Dit is nodig om dit te ontsyfer. My aanvanklike opname van die media dui op vyf maniere waarop dit geïnterpreteer kan word.
Suid-Afrika se Donald Trump
Die eerste tema wat in baie van die ontledings deurskemer, is wat ons kan noem "Jacob Zuma as Donald Trump", met verwysing na die vorige president van die VSA wat bereid is om politieke chaos te veroorsaak ten einde homself uit die tronk te hou.
Dit suggereer dat Zuma, uit vrees vir die einde van die pad nadat hy hofprosesse aanhoudend gebruik het om vervolging weens korrupsie te vermy, in 'n pokerspel vir die ANC ore aangesit het.
Waar Trump die werkinge en volgelinge van die Republikeinse Party van binne aangegryp het, beweer Zuma die MK-party is eintlik die ware ANC wat verraai is deur diegene wat hom in 2018 uit sy presidentskap gewerk het.
Trump beweer die uitslag van die Amerikaanse verkiesing van 2020 is deur Joe Biden en skadufigure in die politieke elite beknoei.
Zuma maak asof die Verkiesingskommissie (OVK) die 2024-verkiesing ten gunste van die ANC bekook het ten einde pres. Cyril Ramaphosa in beheer te hou.
Trump dreig as hy tronk toe gestuur word, sal dit lei tot 'n populistiese opstand. Zuma waarsku dat enige poging om te keer dat die MK-party mag in KwaZulu-Natal opneem tot geweld sal lei.
Al dié en soveel meer parallelle word getrek tussen Trump en Zuma. En om sake nog interessanter te maak, word Trump se antagonisme teenoor Biden gelykgestel aan Zuma se woede jeens Ramaphosa omdat hy hom vervang het.
Maar daar is altyd slaggate wanner dit kom by verwysings na etnisiteit.
Etnisiteit
'n Tweede groot tema wat gesien kan word in ontledings, is dat die MK-party se onverwagse sterk vertoning verduidelik kan word aan die hand van Zuma se beroep op Zoeloe-"nasionalisme" of "etnisiteit".
Hierdie terrein is 'n konseptuele moeras. Zuma se gewildheid en die MK-party se sterk vertoning in KwaZulu-Natal dui daarop dat hulle suksesvol aanklank gevind het by aspekte van die Zoeloe se kultuur, geskiedenis en uitsonderlikheid om te verseker dat gewone mense in die provinsie hulle sal steun. Net soos wyle Mangosuthu Buthelezi en die IVP dit voor hulle gedoen het.
Maar daar is altyd slaggate wanner dit kom by verwysings na etnisiteit. Een hiervan is die probleem rondom wie "etnisiteit" het en wie nie. Dit word dikwels implisiet gesuggereer dat Afrikane dit het en wit mense nie.
Net soos ander terme wat dikwels gebruik word om die gewildheid te beskryf van individuele politici wat deur die elite gevrees word, soos "populisme" en "charisma", kan die losse gebruik daarvan meebring dat dit betekenis verloor.
As ons daarom "etnisiteit" wil gebruik om Zuma se gewildheid in KwaZulu-Natal te verduidelik, moet ons ook verduidelik waarom hy aanklank vind by sommige Zoeloes en nie by ander nie.
Terselfdertyd moet ons verduidelik hoekom hy gewild bly onder segmente van kiesers reg oor die land, ver buite die grense van KwaZulu-Natal. Dit kan kwalik aan "etnisiteit" toegeskryf word.
Koalisie van gegriefdes
Die derde rede wat voorgehou word vir Zuma se gewildheid is dat die opkoms van die MK-party 'n produk is van 'n "koalisie van gegriefdes": diegene wat voel hulle is deur die Ramaphosa-regering eenkant toe geskuif. Toe Zuma verkies is tot leier van die party, het die vakbondfederasie Cosatu en die SAKP - gedryf deur hul teenkanting van Mbeki se "neoliberale" ekonomiese beleid - hande gevat met entrepreneuriese elites wat gevoel het hulle word uitgesluit uit die vrugte van swart ekonomiese bemagtiging.
In vanjaar se verkiesing is daar gesê baie van diegene wat Zuma gesteun het, is deur die Zondo-kommissie betrek by korrupsie. Hulle kon dalk staatskontrakte verloor het of vrees vervolging.
Kontrakte
Daaruit spruit 'n vierde moontlikheid, wat in 'n noue verband staan met die vorige een. Dit is naamlik dat nes Zuma sy posisie as president gebruik het om die staat te plunder, skadufigure agter die MK-party dié party steun om seker te maak hulle behou beheer oor sake in provinsies. Dis sodat hulle kontrakte en politieke goedere tot hul voordeel kan toewys.
Voor in die koor is die mafias wat prominensie begin verkry het in spesifieke sektore van provinsiale ekonomieë, spesifiek in vervoer en konstruksie. Die MK-party het daarom ook waarskynlik steun verkry uit drukgroepe in die steenkoolbedryf. En dit verduidelik sy voorspraak vir Suid-Afrika se verdere omhelsing van kernkrag. Dit bied verskeie geleenthede vir die toewysing van kontrakte aan diegene wat naby beweeg aan die besluitnemers.
'n Aanval op die Grondwet
Die vyfde en finale rede is die idee dat Zuma en die MK-party se beleidsplatforms 'n aanval op die Grondwet en konstitusionalisme is.
Ek het in my ontledings van die "Zuma-tsunami" waargeneem dat Zuma se opkoms die spreekwoordelike Pandora-boks geopen het. Dit het gelei tot die opkoms van 'n styl en inhoud van politiek wat nie net vulgêr en disrespekvol was binne die ANC-tradisie nie, maar eksplisiet gevaarlik teenoor demokrasie. Dit was gemik op 'n sosiale konserwatisme wat die waardes van die Grondwet vyandiggesind was.
In aansluiting hierby is die idee dat Zuma self polities beginselloos is en geneig is om sy gewildheid uit te buit vir persoonlike gewin.
Nadine Gordimer, Suid-Afrikaanse skrywer wat die Nobelprys vir letterkunde in 1991 gewen het, het byvoorbeeld opgemerk toe sy Zuma sien, het hy haar laat dink aan Hitler in die biersaal.
Die dringendheid
Wat hieruit spruit, is dat daar nie een enkele verduideliking is vir Zuma se politieke Renaissance en die verskyning van die MK-party as 'n magtige speler in die Suid-Afrikaanse politiek nie. Dit gaan tyd en versigtige ontleding kos om die betekenis hiervan te verstaan.
Baie sal saamstem dat Zuma en sy party 'n duidelike en teenwoordige gevaar inhou vir die Suid-Afrikaanse politiek. Terselfdertyd moet ons verstaan hoekom Zuma en sy party soveel steun gekry het.
Baie van die hedendaagse interpretasies van Trump se gewildheid maak staat op die idee van vervreemding, sy uitbuiting van die vrese en hoop van mense - gewone hoewel sosiaal konserwatiewe mense - wat agtergelaat is in die snelveranderende aard van die Amerikaanse kapitalistiese ekonomie.
As ons wil verstaan hoekom Zuma so gewild is, moet ons vasstel hoekom hy soveel aanhang geniet onder arm en werklose Suid-Afrikaners. Dit ondanks die oortuigende getuienis wat deur die Zondo-kommissie verkry is oor sy rol in staatskaping - ten koste van die materiële belange van werkloses en armes.
Dat daar geen maklike verduideliking is vir die onverwagse sukses van die MK-party nie, dui op die dringendheid waarmee ons harder moet probeer om dit te verstaan.
- Southall is 'n professor in sosiologie aan die Universiteit van die Witwatersrand. Hierdie artikel het eerste op The Conversation verskyn.




















