Weerstand teen antibiotika neem so vinnig toe dat roetine-operasies te gevaarlik kan word. Willemien Brümmer het by kenners gaan uitvind wat ons eendag in die plek van antibiotika moet gebruik.
Presies 96 jaar gelede het die mikrobioloog dr. Alexander Fleming "per ongeluk" penisillien ontdek toe hy ná sy somervakansie afkom op skimmel wat in 'n petribakkie met stafilokokkus bakterie begin vorm het.
" 'n Mens vind soms iets waarna jy nie soek nie," het hy later skertsend opgemerk. "Toe ek net ná die daeraad wakker word op 28 September 1928 het ek beslís nie beplan om 'n omwenteling in die medisyne te veroorsaak deur die wêreld se eerste antibiotika, of bakteriedoder, te ontdek nie."
Helaas het Fleming ook baie vroeg agtergekom dat bakterieë weerstand opgebou het teen dié moordwapen wanneer te min penisillien gebruik is - of indien dié middel vir 'n te kort tydperk gedrink is.

Vandag, byna 'n eeu later, waarsku dr. Tedros Adhanom Ghebreyesus, die direkteur-generaal van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), dat antimikrobiese weerstandigheid dreig om 'n "eeu van mediese vooruitgang tot niet te maak" en ons weer kan terugkeer na 'n era voor dié lukrake ontdekking.
Volgens die VN se jongste syfers word 'n volle 4,95 miljoen sterftes per jaar tans geassosieer met AMW. Dit is meer as die totale gekombineerde sterftesyfer van MIV/vigs en malaria.
Vernuwende antibakteriële middels word nie gou genoeg ontwikkel nie - en dié wat dit die nodigste het, het nie toegang daartoe nie.
Sonde van oordaad én ongeregtigheid
Meer as 'n dekade lank is antimikrobiese weerstandigheid (AMW) egter beskou as 'n sonde van oordaad, waar antibiotika vir die geringste hoesie of verkoue voorgeskryf is. Maar in onlangse hoëvlak-samesprekings in die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies (VN) het wêreldleiers toenemend begin erken dis dalk ook 'n kwessie van geregtigheid - dat sommige te veel het, en ander te min.
AMW is, kortliks, wanneer bakterieë, virusse, swamme en parasiete nie meer die knie buig voor medisyne nie omdat dié mikrobes oor tyd weerstand opgebou het teen middels soos Fleming se penisillien.

Party bakterieë word op dié manier sogenaamde superkieme omdat hulle geleer het hoe om antibiotika te fnuik. Luidens die VN se jongste syfers word 'n volle 4,95 miljoen sterftes per jaar tans geassosieer met AMW. Dit is meer as die totale gekombineerde sterftesyfer van MIV/vigs en malaria. Sowat 700 000 infeksies per jaar kan op hul beurt toegeskryf word aan onbehandelbare infeksies wat direk deur antimikrobiese weerstandigheid veroorsaak is.
Dié sterftes kan tot 10 miljoen 'n jaar styg teen 2050 en sodoende kanker verbysteek as die voorste oorsaak van sterftes wêreldwyd.
Luidens 'n waarnemingsverslag wat vanjaar deur die departement van gesondheid gepubliseer is, was daar van 2020 tot 2022 'n jaarlikse toename van 50% in die gebruik van hierdie middels - veral gedryf deur die private sektor.
AMW word vererger deur 'n gebrek aan toegang tot skoon water, oorlaaide gesondheidstelsels, beperkte begrotings, swak toegang tot diagnose en geskikte behandeling sowel as wetgewing wat nie afgedwing word nie, het Ghebreyesus onlangs gesê. "Sepsis onder pasgeborenes wat in hospitale versprei, is veral 'n dramatiese illustrasie van hoe haglik die situasie is in laer- en middelinkomstelande."
Teenstrydigheid tussen ryk en arm
In Suid-Afrika illustreer hierdie gesondheidskrisis weer eens die gapende afgrond tussen Bishopscourt en Lusikisiki - tussen die private sektor en die openbare sektor.

Prof. Renier Coetzee, 'n apteker en 'n kundige van antibiotiese rentmeesterskap verbonde aan die skool vir openbare gesondheid aan die Universiteit van Wes-Kaapland, sê die meeste antibiotika (vir mense) in Suid-Afrika word tans in die private sektor voorgeskryf. Probleme kom egter oral voor en dit word onoordeelkundig gebruik deur dokters, verpleegsters, veeartse, boere en aptekers. Antibiotika word byvoorbeeld soms oor die toonbank in private apteke uitgegee sonder 'n geldige voorskrif, of dit word voorgeskryf deur verpleegsters. Die heel meeste antibiotika word deur mense aan diere gegee om byvoorbeeld die groei van varke te stimuleer.
Luidens 'n waarnemingsverslag wat vanjaar deur die departement van gesondheid gepubliseer is, was daar van 2020 tot 2022 'n jaarlikse toename van 50% in die gebruik van hierdie middels - veral gedryf deur die private sektor.
"Dié sektor het ongelukkig toegang tot enigiets en daar is nie riglyne wat hierdie dokters reguleer in terme van wat hulle mag voorskryf nie," sê Coetzee. "Daarteenoor mag staatsdokters in die openbare sektor net voorskryf volgens die standaardbehandeling-riglyne en sekere kleiner staatsklinieke het nie eens toegang tot sekere van die antibiotika nie."

Van die middels wat in die openbare sektor gereserveer word vir sekere infeksies word algemeen voorgeskryf in die private sektor - en dit dra by tot hierdie weerstandigheid, sê Coetzee.
" 'n Voorbeeld hiervan is sekere lede van die kinoloon-klas-antibiotika wat kritiek is vir die behandeling van multimiddelweerstandige TB, wat in die private sektor 'n standaardvoorskrif is. Die WGO het 'n sogenaamde AWaRe-kategorisering, waar hulle onderskei tussen antibiotika wat algemeen mag voorgeskryf word vir die meeste infeksies op primêregesondheidsorgvlak, en die Watch-kategorie wat werklik net beperk moet word vir noodgevalle. Maar wat ons in die private sektor sien, is dat die Watch-kategorie as eerste linie voorgeskryf word. In die Suid-Afrikaanse konteks is dit uiters belangrik dat die AWaRe-kategorisering oordeelkundig gebruik word, ook in die lig van siektes soos TB, MIV/vigs en malaria wat die belangrikste drie infeksiesiektes is," sê hy.
Rentmeesterskap
Helaas, sê Coetzee, is daar nie 'n panasee teen weerstandigheid nie - en die kragtigste wapen bly rentmeesterskap. "Die WGO het 'n hele ruk terug data gepubliseer wat getoon het 50% van antibiotika-voorskrifte is onnodig," sê hy.
Baie kleinboere kan nie 'n veearts bekostig nie, maar hulle kan letterlik van die rak af by koöperasies gaan antibiotika koop.
"Plaaslike studies het getoon in 45% van die gevalle was dit oorbodig. Net soos wat jy dus jou begroting opstel en sê ek gaan soveel gebruik vir die gym en soveel vir petrol en soveel vir kos - netso moet jy maak met antibiotika," sê Coetzee. "Ons moet ook mooi gaan dink hoe werk ons met farmaseutiese afval, en wat kan ons doen om te verseker dat ons nie antibiotika in dreine afgooi sodat dit in ons waterstelsel en dan weer in ons landerye beland nie."
Nóg 'n tameletjie is die oordadige gebruik van antibiotika vir plaasdiere, wat baie beter gereguleer moet word in Suid-Afrika. "Baie kleinboere kan nie 'n veearts bekostig nie, maar hulle kan letterlik van die rak af by koöperasies gaan antibiotika koop," sê Coetzee.
‘Ons het nie soveel tyd nie'
Tog is die krimpende arsenaal nuwe middels steeds 'n belangrike fokus van beleidmakers, maar die meeste farmaseutiese maatskappye deel nie hierdie ywer nie. Dit is ook nie bloot 'n geval van 'n paar vlieë wat met een klap bokveld toe gestuur kan word nie.

"Met AMW het jy verskillende organismes wat verskillend doodgemaak kan word - so een antibiotika gaan nie vir alle infeksies werk nie," sê Coetzee. "Jy gaan steeds 'n verskeidenheid antibiotikas moet ontwikkel omdat daar so baie organismes is wat weerstandigheid toon. Ongelukkig is insetkostes in die farmaseutiese bedryf ontsettend hoog en daar is soveel prosesse betrokke dat dit jou tussen 15 en 20 jaar kan neem om van 'n molekule tot 'n produk op die mark te kom.
"Ons hét nie soveel tyd nie en ons het besef ons sal nou 'n ander rigting moet begin inslaan en aan ander alternatiewe moet begin dink. Dis waar entitlement of geregtigheid inkom: Lande, veral armer lande, moet toegang kry tot beter diagnostiese toetse en beter antibiotika - en ons moet beter doen in terme van water, sanitasie en higiëne. Ons moet die lewensomstandighede van baie Suid-Afrikaners verbeter om regtig 'n impak te hê op AMW."
Inenting
Nog 'n wapen teen AMW is immunisasie omdat dit infeksies in die eerste plek kan voorkom.
Prof. Hannelie Meyer, die hoof van die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Inenting en Immunisering, sê inenting verminder ook sterftes, hospitalisasie, die ontoepaslike gebruik van antibiotika vir virale infeksies en die behoefte om alternatiewe antibiotika te gebruik indien ander misluk weens weerstandigheid.
"Maar terwyl immunisering bekend staan as die suksesvolste ingryping in die openbare gesondheidstelsel, het die dekking van hierdie lewensreddende entstowwe tydens die pandemie afgeneem en het dit nog nie na die vlakke van voor 2020 teruggekeer nie," sê sy.

Dit bied geleentheid vir voorkombare siektes soos masels, Duitse masels, kinkhoes, longontsteking en griep om weer uit te breek - en op sy beurt 'n toename in hospitalisasies en sterftes, wat gepaardgaan met die onnodige gebruik van antibiotika weens sekondêre infeksies.
Inenting gaan nie net daaroor om jouself en jou kinders te beskerm nie - maar oor kudde-immuniteit. "Dit beteken dat jy ook ander rondom jou beskerm, wat insluit mense met verswakte immuunstelsels, byvoorbeeld mense met kanker," sê sy.
Nog 'n pandemie?
Helaas is die vooruitsigte tans volgens sommige navorsers "redelik hopeloos" omdat die bevolking en dus weerstandigheid groei - terwyl die ontwikkeling van alternatiewe sloer. Intussen is nog 'n pandemie nie buite die kwessie nie - onder meer omdat die grootskaalse misbruik van antibiotika onder plaasdiere kan lei tot weerstandige bakterieë wat op hul beurt weer mense kan besmet.
Prof. Erick Strauss, voorsitter van die departement biochemie van die Universiteit Stellenbosch, lei tans 'n Afrika-span wat probeer om nuwe middels teen TB te ontwikkel wat hopelik ook teen ander bakteriële infeksies ingespan kan word.

Medisyne wat tans ontwikkel word om AMW te pypkan, kan in twee kategorieë verdeel word, sê hy. "Die eerste kategorie is 'n nuwe weergawe van ou middels wat min of meer op dieselfde manier werk. Maar wat jy eintlik wil hê is middels wat op 'n heeltemal nuwe manier funksioneer - en dit vat nóg langer. Dit kos geweldig baie en die werklikheid is dat farmaseutiese maatskappye nie daarin wil belê nie omdat dit nie 'n goeie finansiële model is nie.
Van die 32 nuwe soorte antibiotika wat tans wêreldwyd ondersoek word teen middelweerstandige bakterieë wat beskou word as die gevaarlikste vir menslike gesondheid, kan net 12 luidens 'n onlangse verklaring deur die WGO beskou word as "vernuwend".
"As jy dit vergelyk met pille teen hoë bloeddruk wat jy elke dag moet drink, gaan jy net antibiotika drink vir 'n week of twee - so hoekom moet hulle so baie geld daarin belê as hulle nie geld terugkry op hul belegging nie?"
'n Virus teen 'n bakterie?
Van die 32 nuwe soorte antibiotika wat tans wêreldwyd ondersoek word teen middelweerstandige bakterieë wat beskou word as die gevaarlikste vir menslike gesondheid, kan net 12 luidens 'n onlangse verklaring deur die WGO beskou word as "vernuwend". Slegs vier daarvan is potensiële wapens teen kieme in die WGO se "hoërisiko-kategorie".
Om dié rede het navorsers begin om onder meer biologiese middels te ondersoek as aanvulling of alternatiewe tot antibiotika.
Een van die belowendste biologiese agente is bakteriofage - "letterlik 'n virus wat bakterieë aanval", aldus Strauss. "Maar jy moet gewoonlik gaan soek na die spesifieke virus wat die spesifieke bakterie gaan aanval wat jy onder lede het, so dit verg 'n baie spesifieke diagnose en dis baie duur," sê hy.
'n Selfdood-visstok?
Die middel wat sy groep ondersoek, is heeltemal nuut omdat dit beloof om 'n kiem se essensiële proteïene wat kritiek is vir sy oorlewing "van binne af te takel".

Hy verduidelik tradisionele antibiotika en ander antimikrobiese middels werk deur in te meng by die prosesse wat noodsaaklik is vir die groei en oorlewing van siektekieme - soos die maak van proteïne of die oprigting van 'n nuwe selwand.
Die middel wat sy span ondersoek, sal egter werk as 'n vernuwende soort "visstok" met "hake" aan albei kante. Die een haak sal die geteikende proteïen inkatrol terwyl die ander sy natuurlike proteïen-opruimings-kompleks sal vashaak. "Jy stuur dus amper sy proteïen na sy eie ashoop en dan begin hy homself op te eet. Namate die teiken-proteïenvlakke daal, neem die patogeen se vermoë om te oorleef en om te vermenigvuldig ook af sodat die infeksielas verlaag en 'n pasiënt kan gesond word," verduidelik Strauss.
"Hierdie tegnologie word reeds vir sommige kankerbehandelings gebruik, maar in die afgelope twee jaar het navorsers begin vra of dit nie ook as antimikrobiese middels ingespan kan word nie. My groep het nou finansiering gekry om te sien of ons iets kan maak wat lyk asof dit 'n kans het om op dieselfde manier te werk om bakterieë dood te maak."
Jy sal bang wees vir selfs 'n blindederm-operasie, want as jy 'n infeksie kry, is dit verby omdat ons nie iets sal hê waarmee ons jou sal kan behandel nie.
— Prof. Erick Strauss
Die middel sal spesifiek vir TB getoets word, maar in beginsel sal jy dit op enige bakterie kan toepas, sê hy. "Ons probeer ook kyk hoe ons die middel goedkoper kan maak omdat dit tans, sou ons kon wys dat dit werk, gans te duur sou wees om op groot skaal te gebruik."
Skietstilstand tussen kieme en mense
Dit kan egter maklik 15 jaar neem voordat so 'n middel op die mark en op die rak is - en intussen waarsku die WGO AMW kan met 70% toeneem teen 2050.
"Daar is baie kommer dat dit weer kan word soos in die tyd voor Fleming se ontdekking van penisillien," sê Strauss. "Jy sal bang wees vir selfs 'n blindederm-operasie, want as jy 'n infeksie kry, is dit verby omdat ons nie iets sal hê waarmee ons jou sal kan behandel nie.
"Dis baie moeilik om in die toekoms in te kyk en te weet hoe naby of hoe ver ons is van so 'n scenario, maar die realiteit is ons moet so hard as moontlik werk dat dit nie gebeur nie."
Op kort termyn is die beste oplossing om te leer hoe om met hierdie bakterieë saam te leef deur gesond te bly, sê Strauss. Inderwaarheid 'n soort skietstilstand tussen bakterieë en mense. "Ons fokus moenie probeer wees om infeksies teen te werk nie. Ons moet eerder probeer om in die eerste plek infeksies te verhoed deur mense se lewensomstandighede te verbeter."
Wenke vir die gebruik van antibiotika
• Baie infeksies word deur virusse veroorsaak en kan nie met antibiotika behandel word nie - byvoorbeeld respiratoriese siektes soos 'n hoes, toe neus, brongitis of griep. Volgens Meyer moet pasiënte en dokters baie seker maak dat dit nie onnodig ingespan word nie.
• Wees bedag op die moontlike newe-effekte van antibiotika soos allergiese reaksies, maag- en dermprobleme, naarheid en swaminfeksies. Oormatige en onbehoorlike gebruik kan erge newe-effekte veroorsaak en doeltreffendheid verminder.
• Antibiotika moet geneem word vir die voorgeskrewe tydperk. Wanneer die simptome van die siekte verdwyn, beteken dit nie dat al die bakterieë uitgewis is nie. Oorblywende bakterieë kan veroorsaak dat die siekte weer begin.
• Indien sommige tablette of kapsules oorbly, moet dit nie gehou word vir latere gebruik of aan ander mense gegee word nie. Dié medikasie kan by sekere apteke ingehandig word waar spesifieke houers verskaf word vir die vernietiging van medisyne. Meyer beklemtoon pasiënte moenie self daarvan ontslae probeer raak deur dit byvoorbeeld in die vullisdrom of drein te gooi of in die toilet af te spoel nie. Dit is skadelik vir die omgewing en verhoog die risiko van antimikrobiese weerstandigheid.
• Moet nooit antibiotika gebruik wat vir iemand anders voorgeskryf is nie.
• Moet nooit jouself probeer behandel deur antibiotika te gebruik of dit probeer koop sonder 'n voorskrif van 'n mediese praktisyn nie.















