Stemme

Die glyskaal van blomme op Valentynsdag

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Dis vanoggend die tyd om te gaan vir daai Valentynsdag-specials op enigiets van hartjies en kaartjies tot teddiebere en sommer enigiets wat nog tot volgende jaar heel sal bly. Dis nou ook dingetjies soos liefde, verdraagsaamheid, gemeensaamheid en ander mooi goedjies. En dan is daar die verganklike waarvan blomme vanoggend, half verlep, heel voor in die ry staan. Ja-nee kyk, dis nou die tyd vir winskopies.

Blomme vir Valentynsdag werk mos so op ’n glyskaal: hoe nader die dag kom, hoe dieper gly jy die skuld in. So ’n week voor die tyd begin die pryse skerp styg met hoogtepunte op gelukkige Vrydag die 13de en natuurlik op die groot dag self, wanneer die manne van die gholfbaan af kom en besef hulle is nou in diep sandgate.

Teen laatmiddag kan jy dan by daai fênsie kruidenierswinkel soveel vir jou blomme betaal as vir ’n trollie en ’n kruiwa kruideniersware. En dan natuurlik so op die heilige Sondag die heel duurste blommetjies vir die bere wat heeltemal vergeet het en laat Saterdagaand tuisgekom vir ’n verrassingsete bestaande uit slegs twee geregte naamlik koue boud en warm tong. Daai is ’n rooikaart-waarskuwing en as daar nog ’n stingel of drie oor is, gaan jy betaal ou pappie!

’n Ou blommetjie bly darem maar net spesiaal om iemand se harte te vermurwe. Maar kom jy op die verkeerde tyd met hulle daar by die huis, kan hulle maklik net so asblik of komposhoop toe. Nee, jy moet jou tyd mooi kies.

Jare gelede moes ek amper weekliks Kaap toe vir werk en op pad lughawe toe daar uit die middestad was my laaste stop altyd by die Blommemarkplein waar die tannies met die baie sêgoed by hul stalletjies gesit het. “Nee dankie antie, al is dit ‘three for the price of two’, ek moet vlieg met die ou goedjies.”

Op die lughawe kry jy dan twee tipes kyke. Die een simpatiek van ander stryders wat sê: “Wat het jy nou weer verkeerd gedoen dat jy daai duur goed moes koop, ou maat?” Die ander deernisvolle kykies van dametjies wat die jongman (onthou dis nou dáái jare) so dophou en vir hulself sê: “Ek moet vir my ook so ’n kêrel kry.” Min wetende dat die romantiese ou ’n armgat staatsamptenaartjie is. Maar gelukkig een wat van kleins af lief is vir blomme, met ’n pa wat soggens pronkertjies gepluk het om oral uit te deel en ’n ma wat ontelbare troues se blomme met liefde vir tevrede bruidjies gedoen het. Ek was dan ook as enigste hulp die ou wat daardie massiewe ruikers veilig voor in die kerk moes kry. Daai jare net ’n diamantvormige of ’n driehoekige ruiker op ’n staalstaander met ’n vet oase. Ek het dan agter in die kerk gaan staan om vir Ma Tinkie te wys waar daar nog ’n oop gaatjie was. En ná die tyd kerksaal of Duiweklub toe met dieselfde ruiker. Terwyl my maters rondjol.

Ek hoop my ou vriend Blom, die grootste angelierboer in die land, het die naweek ’n killing gemaak. Maar, ou vriend, wil jy nie maar die stingeltjies wat oorgebly het, by my huis aflaai nie? Want koop kan ek die volgende twee maande nie koop nie.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM