Kommentaar

Kommentaar: CR moet optree om erns te wys met korrupsie

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Pres. Cyril Ramaphosa  Foto: GCIS
Pres. Cyril Ramaphosa Foto: GCIS

Pres. Cyril Ramaphosa laat amper geen geleentheid waarin hy Suid-Afrikaners toespreek, verbygaan sonder 'n hernieude verbintenis tot die uitwissing van korrupsie nie.

Dit was uit die staanspoor een van die sterkste temas wat hy gebruik het in sy veldtog om Jacob Zuma as president van die ANC te onttroon. En dit was een van die groot redes waarom Suid-Afrikaners ná sy inhuldiging as president van die land 'n ruk lank aan Ramaforie gely het.

'n Mens sou die president kon verskoon vir die feit dat hy nie primêr beheer oor elke liewe tender en transaksie het nie.

Seker die grootste terugslag in hierdie veldtog van hom het Ramaphosa in die Covid-19-pandemie getref. Tydens sy aankondiging van omvattende hulppakkette in een van sy "familievergaderings" het hy hard en duidelik onderneem dat geen korrupsie geduld sal word nie. Sy woorde was egter skaars koud of grootskaalse bedrog is gepleeg.

'n Mens sou die president kon verskoon vir die feit dat hy nie primêr beheer oor elke liewe tender en transaksie het nie. En dat hy 'n administrasie by sy voorganger oorgeneem het waarin die tentakels van staatskaping in byna elke liewe plek waar staatsgeld beskikbaar is, ingewurm is.

Maar dit raak moeiliker om te verstaan waarom Ramaphosa huiwerig is om sterk op te tree in gevalle waar hy die volste mag, outoriteit en invloed het om dit te doen.

Die presedent is reeds geskep.

Ter sprake is die bewerings dat Khumbudzo Ntshavheni, minister in die presidensie, glo betrek word by korrupsie wat verband hou met 'n munisipale tender van R2,5 miljoen. Die Valke het die bewerings ondersoek. Dit spruit uit 'n kontrak wat toegeken is toe Ntshavheni die munisipale bestuurder van Ba-Phalaborwa was.

Dit volg kort op die hakke van die omstredenheid waarin Thembi Simelane by die VBS-skandaal betrek is. Maande lank het Ramaphosa nie opgetree teen Simelane, wat in daardie stadium die minister van justisie en staatkundige ontwikkeling was, nie. En toe hy wel iets doen, herontplooi hy haar bloot as minister van menslike nedersettings.

Suid-Afrikaners moet dus nie verwag dat Rama­phosa gou teen Ntshavheni gaan optree nie. Die presedent is reeds geskep.

As Ramaphosa Suid-Afrikaners wil oortuig dat hy werklik erns het met die uitroei van korrupsie, sal hy die een of ander tyd moet ophou praat daaroor en iets daaraan moet dóén. Hoe gouer, hoe beter.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM