Kommentaar

Kommentaar: Ernstige vrae oor Venezuela-inval

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Nicolás Maduro, president van Venezuela, op ’n mediakonferensie in Caracas, Venezuela, op 1 September 2025.
Nicolás Maduro, president van Venezuela, op ’n mediakonferensie in Caracas, Venezuela, op 1 September 2025. (Foto: Getty Images)

Daar is talle aanduidings dat ’n tronk ’n beter plek as ’n presidensiële paleis vir Nicolás Maduro is.

Onder sy presidentskap het Venezuela ál meer outokraties geword. Teenstand teen die regering word met geweld onderdruk. Die mense gaan gebuk onder hiperinflasie, armoede en ’n kostekort.

Die uitslag van die verkiesings in 2018 en 2024 word sterk betwis. Nadat die opposisieleier María Corina Machado verbied is om in die 2024-verkiesing te staan, het haar partygenoot Edmundo González dit in haar plek gedoen – en volgens uitgangspeilings met 67% van die stemme gewen.

In reaksie op die VSA se militêre ingryping in Venezuela Saterdag waarin Maduro en sy vrou, Cilia Flores, gevange geneem en na New York geneem is, het pres. Javier Milei van Argentinië sy Amerikaanse ampsgenoot, Donald Trump, die “verdediger van vryheid” genoem.

Daar is egter ernstige vrae oor Trump se motiewe, benewens die dwelmbewerings, wat volgens sommige oordrewe is. As dit vir hom oor demokrasie gaan, hoekom verwerp hy die Nobel-vredespryswenner Machado en kondig visepres. Delcy Rodríguez as opvolger aan? Sy was deel van Maduro se outoritêre bewind, maar is hoof van die staatsoliemaatskappy. Trump sê sy is “bereid om te doen wat nodig is” – wat uit háár reaksie toe glad nie só blyk nie.

Sy sê Venezuela sal nie ’n Amerikaanse kolonie word nie. ’n Noodtoestand wat pas afgekondig is, gee die Venezolaanse regering nog verdere magte om die bevolking en hul regte te onderdruk.

Trump sê hy is nie “bang vir stewels op die grond nie” en danksy die olie sal die ingryping Amerikaners nie ’n sent kos nie. Waarheen gaan die geld vir die olie (en trouens die olie self, waarvan die grootste deel tot dusver na China uitgevoer is) dus? Nie na die Venezolane nie.

Venezuela het 30 miljoen mense en is dubbel so groot soos Kalifornië. Het Trump geen lesse uit die VSA se geskiedenis met “regime-verandering” geleer nie?

Hy ondergrawe sy eie demokrasie – Kongreslede kla hulle is glad nie in dié ingrypende stap geken nie. Hy steek selfs sy eie magsbasis in die rug, wat teen “ewigdurende” oorloë gekant is.

Hy misken die basiese beginsel van soewereiniteit en stel ’n bitter gevaarlike presedent. Dit vat ons etlike dekades terug na ’n wêreld waar die ou Afrika-spreekwoord geld: Wanneer die olifante baklei, word die gras vertrap.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM