Die Suid-Afrikaanse Polisiediens, wat gereeld kla dat hy ondergefinansier is, het al bykans R4 miljoen aan die salarisse van tans geskorste polisielede bestee. Dié syfers is deur Senzo Mchunu, minister van polisie, in antwoord op 'n parlementêre vraag bekend gemaak.
'n Totaal van 40 lede is tans met betaling geskors.
Dit sluit lede op verskeie range in - van luitenant-generaal tot konstabel en administratiewe klerk. Die redes vir hul skorsing sluit in ernstige wangedrag, korrupsie, diefstal en moord. Sommige lede is al meer as twee jaar geskors.
Die R3 873 338,06 wat dít alles kos, kom neer op 'n verbluffende vermorsing van belastinggeld.
Die eerste vraag wat ontstaan, is hoe deurtastend en doeltreffend die polisie se agtergrondondersoeke is op diegene wat hy aanstel. En is dit dalk 'n geval dat die dwingende effek van kaderontplooiing in sommige gevalle gewoon die uitslag van agtergrondondersoeke troef?
Die realiteit is dat misdaad aanhoudend hoog bly en misdadigers al hoe meer gesofistikeerd word, terwyl ons polisiedienste, howe en tronke al verder agteruitgaan.
Die tweede vraag is waarom soveel amptenare met salarisse geskors word. Indien daar genoeg getuienis bestaan om 'n skorsing te regverdig is die vraag waarom amptenare teen wie genoeg getuienis bestaan nie gewoon afgedank of sonder salaris geskors moet word nie. Die Staatsdienskommissie wys jaar na jaar in sy verslag uit dat die praktyk om amptenare as "voorsorgmaatreël" met salaris te skors nie toegelaat moet word nie.
Die tydsduur van baie van die skorsings is 'n wesenlike probleem. 'n Baie deeglike tugondersoek behoort tog nie langer as 60 dae te duur nie, en dít is ook die perk wat die Staatsdienskommissie stel.
Tog is sommige van die lede reeds langer as twee jaar met salaris geskors.
Die realiteit is dat misdaad aanhoudend hoog bly en misdadigers al hoe meer gesofistikeerd word, terwyl ons polisiedienste, howe en tronke al verder agteruitgaan. En terwyl die SAPD al skouerophalende pleit vir meer stewels op die grond, kan die geweldige vermorsing weens lakse personeelbestuur eenvoudig nie toegelaat word nie.
Robuuste maatreëls is nodig en skorsing met volle salaris moet slegs as 'n laaste uitweg beskou word. Trouens, om 'n salaris te ontvang terwyl 'n persoon afwesig is, is strydig met die beginsel van geen werk, geen betaling.





















