Dr. Quarta du Toit, Kleinmond, skryf:
As iemand wat ’n groot deel van my lewe gewy het aan die bystand en versorging van sterwendes, verkies ek nog om dit genadedood te noem omdat dit die grootste genade is wat jy aan ’n lydende persoon kan betoon, maar wat nog in ons land verbied word.
Ek het al gesê as ek in die Hemel sou kom, die eerste vraag wat ek sal vra, is hoekom moet goeie mense soms so lank ly voor hul sterwe? En wat ook van die kinders? Ek is ’n gelowige, maar ook wetenskaplike wat glo God het ons ’n verstand gegee om te dink en te beplan oor ons lewe en nie slaafs alles te volg wat in die Ou Testament nagevolg is nie.
Vir die voorstanders daarvan om die Ou Testament slaafs na te volg, hoekom suiwer julle die mosterdsaad uit soos dit julle pas? Om iemand sinvol en sonder pyn met sy geliefdes by hom met sy toestemming met bystandsdood te help is grensende aan daardie persoon genade bewys.
Kom staan eers langs my by iemand wat pleit vir die dood en stem dan teen bystandsdood. Anders bly stil as jy nie ware lyding nie ken nie. Ek hoop en glo ons sal spoedig wetgewing hê wat genadedood/bystandsood wettig.
Laat hoor van jou:Stuur jou brief na dbmening@dieburger.com Briewe moet vergesel wees van die skrywer se naam, adres en telefoonnommer. Briewe korter as 350 woorde sal voorkeur kry. Die Burger behou hom die reg voor om briewe te redigeer en verkort. Publikasie van briewe word nie gewaarborg nie en berus by die brieweredakteur. Geen kommunikasie sal hieroor gevoer word nie.
















