Johan Pretorius, Ladismith, skryf:
Op In gesprek (17.08) is ruim geleentheid aan Carl Niehaus gebied om op sy en drr. Naledi Pandor en Jonathan Jansen se weersin in ’n Afrikaanse universiteit uit te brei.
Bid jou aan, die uitsluiting van studente wat nie Afrikaans wil of kan praat nie!
Ontstellend vir Niehaus is dat hy in Tzaneen afgekom het op twee staatskole wat Afrikaans as onderrigtaal gebruik en waarvan die meerderheid leerlinge wit en Afrikaanssprekend is. O berge val op ons en heuwels bedek ons!
Moedertaalonderrig is oënskynlik nie heeltemal onwettig nie, solank die moeder verkieslik net nie Afrikaanssprekend en boonop wit is nie.
Nou wonder ’n mens maar net of daar enige staatskool is waarvan die leerlinge uitsluitlik swart is en in hul moedertaal onderrig word? Ongelukkig is daar steeds nie genoeg kyktyd aan Niehaus gegee om hom ook oor so ’n nagmerrie-situasie uit te laat nie.
Dink net aan hoeveel leerlinge wat nie taal enigsins verstaan of praat nie, hierdeur uitgesluit word.
Laat hoor van jou:Stuur jou brief na dbmening@dieburger.com Briewe moet vergesel wees van die skrywer se naam, adres en telefoonnommer. Briewe korter as 350 woorde sal voorkeur kry. Die Burger behou hom die reg voor om briewe te redigeer en verkort. Publikasie van briewe word nie gewaarborg nie en berus by die brieweredakteur. Geen kommunikasie sal hieroor gevoer word nie.





