Lesers sê

BRIEF | Integriteit fondament van leierskap

DURBAN, SOUTH AFRICA - MARCH 27: ANC supporter with a flag during the African National Congress (ANC) and Umkhonto weSizwe (MK) Party court case in respect of the MK Party trademark heard at Durban High Court on March 27, 2024 in Durban, South Africa. Its believe that despite the ANC welcoming the court's ruling to declare the former President Jacob Zuma's Umkhonto weSizwe (MK) Party lawful and constitutional, it prepares to engage in legal battles with MKP over the name and logo. (Photo by Gallo Images/Darren Stewart)
DURBAN, SOUTH AFRICA - MARCH 27: ANC supporter with a flag during the African National Congress (ANC) and Umkhonto weSizwe (MK) Party court case in respect of the MK Party trademark heard at Durban High Court on March 27, 2024 in Durban, South Africa. Its believe that despite the ANC welcoming the court's ruling to declare the former President Jacob Zuma's Umkhonto weSizwe (MK) Party lawful and constitutional, it prepares to engage in legal battles with MKP over the name and logo. (Photo by Gallo Images/Darren Stewart) (Gallo Images)

Sarel Myburgh, Thailand

Dr. Theuns Eloff se artikel “Dís waarom die ANC-steun tuimel” (08.09), waarin hy sewe leierskapskenmerke waarin die ANC volgens hom jammerlik misluk het, belig, slaan na my mening die spyker op die kop.

Dié leierskapskenmerke sluit volgens Eloff in lei deur voorbeeld; bereid om foute en dié van hul organisasie te erken en iets daaraan te doen; die kweek van kritiese lojaliteit onder volgelinge; en die kweek van ’n korporatiewe kultuur van diensbaarheid aan die land en al sy mense.

Ek wil egter graag, in alle beskeidenheid, ’n verdere dimensie byvoeg wat volgens my die fondament vorm waarop alle sterk en geloofwaardige leierskap gebou word: integriteit.

Al die genoemde leierskapstekorte word uiteindelik vererger deur die gebrek aan integriteit wat oor die afgelope drie dekades op verskeie vlakke van regering sigbaar geword het.

Integriteit is in wese die vermoë om eerlik en eties op te tree en getrou aan jou waardes en beginsels te bly. Dit beteken dat daar ’n konsekwente ooreenstemming bestaan tussen wat ’n mens sê en wat jy doen. Integriteit is die morele kompas wat ons keuses, ons optrede en ons verhoudinge met ander rig.

Na my beskeie oordeel is integriteit egter nie ’n eienskap wat bloot deur ’n kursus of oor ’n tydperk van 30 jaar aangeleer kan word nie. Dit word oor geslagte heen gevestig en versterk binne gesinne, gemeenskappe en instellings waar gedeelde waardes, verantwoordbaarheid en morele standaarde konsekwent uitgeleef word.

Hiermee beweer ek geensins dat daar nie individue binne die ANC is wat oor persoonlike integriteit beskik nie. Maar wanneer ’n mens na die kollektiewe rekord van die regerende party oor die afgelope 30 jaar kyk, is dit moeilik om te ontken dat integriteit dikwels ontbreek het.

’n Mens kan daarom net hoop dat toekomstige verkiesings leiers na vore sal bring wat nie net oor politieke vaardigheid en administratiewe vermoë beskik nie, maar ook oor integriteit.

Dit sal ’n noodsaaklike vertrekpunt wees om weer ’n staats- en regeringskultuur te bou waarin integriteit nie die uitsondering is nie, maar die norm – iets wat Suid-Afrika oor die afgelope 30 jaar ongelukkig toenemend verloor het.

Laat hoor van jou:Stuur jou brief na dbmening@dieburger.com. Briewe moet vergesel wees van die skrywer se naam, adres en telefoonnommer. Briewe korter as 350 woorde sal voorkeur kry. Die Burger behou hom die reg voor om briewe te redigeer en verkort. Publikasie van briewe word nie gewaarborg nie en berus by die brieweredakteur. Geen kommunikasie sal hieroor gevoer word nie.