Helena van Wyk, Kaapstad, skryf:
Sjoe, Fikile Mbalula, sekretaris-generaal van die ANC, is darem breedsprakig. Hy sê: “Enige lid wat korrupsie pleeg, staan alleen, buite die tradisies, waardes en dissipline van die ANC. Die ANC se standpunt is onmiskenbaar. Ons sal nooit korrupsie verdedig nie, ons sal dit blootlê, hanteer en verslaan . . . Diegene wat die mense verraai vir persoonlike gewin, sal geïsoleer, getug en, as hulle skuldig bevind word, verwyder word.” (03.10).
Nogal, nè. Buiten dat die refrein al hoeveel jaar herhaal word, het ons nog nie veel gesien van die “blootlê”, “hanteer” en “verslaan” nie. Al “verdedig” wat ons sien, is die party wat klippe rol in die pad van ondersoeke na korrupsie. Dalk is dít die eintlike “tradisies”.















