Lesers sê

Pasop vir geduldige man se wraak

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Ons lees van die vindingryke mosie van Julius Malema, EFF-leier, in die Nasionale Vergadering om die moontlikheid te ondersoek dat die standbeelde van koloniale en apartheidsleiers verwyder word (20.09).

Die motief vir die mosie is die slegte verlede van onderdrukking in dié land.

Die probleem is dat standbeelde nie verbrand kan word nie, mits dit van hout gemaak is.

Miskien moet die moontlikheid ondersoek word om die standbeelde in die see te gooi, byvoorbeeld by die Simonstad-vlootbasis. Die vlootbasis sal dan weer in sy eertydse glorie herstel word en weer toeriste lok.

Die ander vraag is wat in die plek van die standbeelde van die verlede opgerig kan word. Ek dink ek het ’n briljante voorstel: Standbeelde van Malema.

Dink net hoe mooi dit sal lyk as daar in die plek van die standbeeld van Louis Botha op sy perd voor die afgebrande parlementsgebou­ ’n beeld van Malema op ’n seepkissie opgerig word. Toeriste van heinde en ver sal oopmond staan en luister na die toerleier wat sal vertel van Malema se prestasies.

Ek kan my nogal indink hoe beelde van Malema landwyd opgerig sal word. Daar sal sekerlik voor die Uniegebou in Pretoria iets besonders opgerig word en ook voor die Voortrekkermonument in Pretoria.

En strate wat byvoorbeeld die naam Vredestraat het, sal mettertyd ander name kry.

Die Engelse digter John Dryden­ het ’n ware woord gespreek: Pasop vir ’n geduldige man se wraak.

johann nel, malmesbury

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM