Lesers sê

Sewe maande, vier ritte vir twee sertifikate

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

André Roux, Kuilsrivier

Ek deel graag my eie ondervinding na aanleiding van Deon van Riebeeckshof se skrywe “Binnelandse sake werk steeds nie” (15.10).

My seun en skoondogter woon in Luxemburg en in middel-Januarie stuur hulle my al die nodige dokumentasie sodat ek namens hulle kan aansoek doen vir hul (onverkorte) geboortesertifikate.

Ek sou einde Februarie by hulle gaan kuier en het gehoop om dit dan te kan saam neem. Groot fout.

Die eerste afspraak wat ek kon kry by binnelandse sake is by Caledon op 3 Februarie waar ek die aansoeke indien en verneem dit neem tussen agt en 10 weke om die sertifikate te bekom. My navraag oor hoekom so lank (al die inligting van hulle twee, my vrou en myself, asook my swaer en skoonsuster, is mos op hul stelsel beskikbaar) bly onbeantwoord.

Geen kommunikasie vanaf binnelandse sake. Ek ry toevallig daar verby op 23 Mei en doen navraag.

Ek is baie opgewonde toe ek hoor die sertifikate is beskikbaar, net om te sien dat my skoondogter se dokument korrek is, maar dat hulle my ’n afskrif gee van die oorspronklike geboorteregistrasie van my seun.

Hulle verduidelik iemand het dit verkeerd gelog op hul stelsel. Dit word dadelik reggestel en ek kan oor twee weke die dokument kom afhaal. Hulle sal ’n SMS stuur.

Weer eens geen kommunikasie nie, hulle antwoord nie die telefoon nie, en ek ry op 19 Junie Caledon toe, net om te hoor daar is glad nie so ’n aansoek op hul stelsel is nie. Dit sal dadelik reggestel word, ’n SMS sal volg.

My e-pos aan dr. Leon Schreiber, minister van binnelandse sake, en die bestuurder van Caledon se binnelandse sake om die swak diens aan te meld, bly onbeantwoord, en telefone word steeds nie beantwoord nie.

My volgende rit na Caledon op 23 Julie is weer onsuksesvol. Steeds geen aansoek op die stelsel nie, dit sal dadelik reggestel word, SMS sal volg.

Op 8 September besoek ek die Stellenbosch-tak van binnelandse sake. Hulle kan my nie help nie, want hulle het nie toegang tot aansoeke wat te Caledon ingedien is nie. Ek kan ook nie by hulle weer ’n aansoek indien nie aangesien dit tot duplikasie sal lei.

Hulle gee my die nasionale dienssentrum se nommer. Ná twee dae word my oproep na die sentrum beantwoord en ’n baie vriendelike en behulpsame dame lig my in dat ek die dokument in Caledon kan gaan afhaal.

Ek ry op 11 September om 06:00 na Caledon – en om 08:30 het ek die dokumente in my hande.

Opsomming: Dit neem my sewe maande, vier ritte na Caledon en baie frustrasie met onbevoegde amptenare om die twee sertifikate te bekom, en geen teken van Schreiber se voorneme om hul diens te verbeter nie.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM