Menings

Dawie: ‘Gigupta’ onthul ANC-‘moraliteit’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Dawie
Dawie (Netwerk24)

As kunsmatige intelligensie reeds bestaan, moet kunsmatige moraliteit bepaald ook binne bereik wees. Veral die ANC kan daarby baat vind, want ofskoon sy weergawe van moraliteit nog nooit nootvas was nie, val die vals note deesdae soos skilfers.

Die jongste voorbeeld is die party se eiegeregtige verontwaardiging oor oudminister Malusi Gigaba wat gesê het die ANC se leierskap haal nie sy doelwitte nie en dat die ANC nie saam met die DA in die bed moes klim nie. Die ANC wil nou teen hom stappe doen omdat hy die party kwansuis in oneer gebring het.

Dawie sal dalk die laaste persoon op aarde wees wat vir Gigaba in die bresse tree, maar die beoogde stappe sê baie meer van die ANC as van Gigaba en sy vermeende saakbeskadiging van die ANC se “goeie naam”. Dit stel die ANC se selektiewe moraliteit en dubbele standaarde behoorlik aan die kaak.

Waar was kommer oor die ANC se “goeie naam” toe Gigaba, in 2007 nog adjunkminister van binnelandse sake, reuse-ruikers op Valentynsdag aan sy destydse vrou, Norma, op die departement se rekening gestuur het? Die ANC het nooit teen hom opgetree nie en hy is bloot verplig om die geld terug te betaal – omdat die ministeriële handboek nie pertinent stipuleer dat jy nie blommeruikers op staatsonkoste aan jou vrou op Valentynsdag mag stuur nie!

Dat hierdie eenvoudige morele oordeel by Gigaba berus het en nie by die ministeriële handboek nie, het die ANC ontgaan. Ook dat iemand wat nie daaroor beskik nie, nie geskik is vir bevordering en nóg mag oor méér geld nie.

Desondanks word Gigaba bevorder tot minister van openbare ondernemings (geen verrassing: in die kabinet van oudpres. Jacob Zuma). Daarna word hy minister van binnelandse sake en in 2017 selfs minister van finansies toe Zuma hom in die bevoegde Pravin Gordhan se plek aanstel.

In elkeen van hierdie portefeuljes maak hy met byna heroïese onbevoegdheid op groot skaal droog.

Dit was tydens sy wagbeurt by openbare ondernemings dat die Guptas miljarde rande van onder meer Eskom en Transnet gebuit het. By binnelandse sake het sy gewraakte visumregulasies in 2015 waarskuwings uit alle oorde ontlok, maar Gigaba het hom doof gehou.

Almal met ’n belang in die toerismebedryf het deurlopend gesê daar kom moeilikheid. En toe toerismesyfers die skade wys, het hy – ironies genoeg, komende van hom – dit as leuens afgemaak. Oplaas moes ’n interministeriële komitee die kastaiings uit die vuur krap. In die Zondo-verslag word Gigaba (Gigupta?) uiteindelik geïmpliseer in staatskaping en getuienis word aangehoor dat hy van bevoegde amptenare in die tesourie wou verwyder om Gupta-belange te bevorder.

Die hooggeregshof het ook bevind dat hy onder eed gelieg het. Regter Neil Tuchten het in sy uitspraak gesê: “Die minister het die Grondwet oortree, wat so ernstig is dat ek dit selfs as ’n skending daarvan kan bestempel.”

Pres. Cyril Ramaphosa het die amp opgeneem onder die vaandel dat hy gaan “skoonmaak”, maar tog raak hy nie van Gigaba ontslae nie; hy het hom bloot gerelegeer tot minister van binnelandse sake (waar hy oorspronklik sy verwoestingswerk begin het).

Niks hiervan het die ANC ooit laat dink dat Gigaba besig is om die party in oneer te bring nie. Nooit, van daardie eerste Valentynsruikers van sowat R1 000 tot die miljarde rande se staatskaping waarby hy geïmpliseer is, het die ANC ooit gedink dié kêrel is dalk nie goed vir sy beeld nie. En hy dien steeds as LP.

Dié morele bankrotskap is presies hoe ’n besigheid bankrot raak: stadig aan die begin, maar baie vinnig aan die einde. Dis presies waar die ANC is.

• Die mening van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM