Menings

Dít is Brics se betekenis

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Pres. Cyril Ramaphosa deel ’n grappie met pres. Wladimir Poetin van Rusland terwyl afgevaardigdes wat die pasafgelope Brics Plus-beraad in Kazan, Rusland, bygewoon het, gereed maak vir ’n “familiefoto”. Foto: Reuters
Pres. Cyril Ramaphosa deel ’n grappie met pres. Wladimir Poetin van Rusland terwyl afgevaardigdes wat die pasafgelope Brics Plus-beraad in Kazan, Rusland, bygewoon het, gereed maak vir ’n “familiefoto”. Foto: Reuters

Waar pas Suid-Afrika in by die groterwordende Brics-legkaart? En hoe versoen die regering van nasionale eenheid sy rol in dié alliansie met sy verhouding met die VSA, Europa en China? Anthoni van Nieuwkerk bekyk die pas afgelope Brics-beraad en waag 'n aanbeveling.

Sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog in 1945 word die internasionale orde deur die Weste bepaal en bestuur. Dié orde bestaan uit 'n kapitalistiese wêreldekonomie, gekenmerk deur globalisering, 'n staatstelsel gekenmerk deur 193 soewereine state wat onderling diplomatieke betrekkinge handhaaf en 'n veiligheidstelsel gekenmerk deur die militêre alliansie genaamd die Noord- Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo).

Hierdie orde word gelei deur Amerika, die wêreld se voorste supermoondheid in terme van mag en invloed. Amerika gebruik verskeie instrumente om die orde te handhaaf, onder meer die Wêreldbank en Internasionale Monetêre Fonds (IMF), die Groep van 8 (G8), asook die Groep van 20 (G20), die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF), die Verenigde Nasies (VN) se Veiligheidsraad en militêre ontplooiing oor die wêreld heen om sy bates teen vyande te beskerm en belange te bevorder.

Verskeie ontleders is van mening dat die Amerikaanse Ryk nou op die punt van verval is.

Amerika het hierdie komplekse stelsel tot onlangs toe behendig bestuur tot voordeel van die globale Noorde, hy en sy Westerse bondgenote, en ten koste van die globale Suide, die ontwikkelende lande van Afrika, Asië en Suid-Amerika. Dit is tipies van 'n imperiale mag of empire, wat tot 'n groot mate van uitbuiting en geweld gebruik maak om sy status te behou.

Maar empires het 'n raklewe en kom tot 'n val wanneer die koste om aan sy eie behoeftes te voorsien, te duur word en wanneer morele verval intree as gevolg van hebsug en grootheidswaan.

Die geskiedenis is vol met voorbeelde van imperiale wreedheid: die Mongoolse, die Japanse, die Romeinse, die Britse, die Franse en die Sowjet Ryk om 'n paar te noem. Ons kan Amerika se verwoestende oorloë in Viëtnam, Irak, Afganistan en Gasa daarby voeg.

Verskeie ontleders is van mening dat die Amerikaanse Ryk nou op die punt van verval is. Die voordele van tegnologiese innovering en die magtige dollar word ondermyn deur die nasie se onvermoë om sterk leiers te produseer wat met integriteit kan lei.

Die geskiedenis leer ook dat 'n tanende ryk uitgedaag word en sy rol as leier van 'n wêreldorde uiteindelik oorgeneem word deur 'n ontluikende ryk.

Bestaande orde skeur

Ons beleef tans so 'n oomblik; 'n skeuring of einde aan 'n bestaande orde en die ontstaan van geleenthede om 'n nuwe orde te vestig. Dit is nie 'n proses wat oornag plaasvind nie. Mededinging, konflik en geweld is kenmerke van so 'n oorgang en kan jare lank duur. In dié proses word die Westers oorheerste wêreldorde tot in sy fondamente geskud.

Dis die agtergrond waarteen ons die skepping en groei van 'n groep ontwikkelende lande moet verstaan. Vier sterk lande in die globale Suide - Brasilië, Rusland, Indië en China - het in 2009 besluit om vir ekonomiese redes saam te werk en vorm die Bric-groepering. In 2010 sluit Suid-Afrika by hulle aan, hoofsaaklik as gevolg van oudpres. Thabo Mbeki se destydse aanvoorwerk, en só word Brics gebore.

Op die Brics-beraad wat verlede jaar in Suid-Afrika gehou is, is besluit om lidmaatskap uit te brei. Tans bestaan Brics uit die oorspronklike vyf lande plus vier nuwe­ lede: Egipte, Ethiopië, Iran en die Verenigde Arabiese Emirate (wat nou as Brics Plus bekend staan), met Saoedi-Arabië op die kantlyn.

Op die pasafgelope Brics-beraad wat vandeesmaand in Kazan, Rusland, gehou is, is besluit om die lidmaatskap van die groepering selfs verder uit te brei.

'n Gedugte span

Dit klink of hierdie bondgenote die tekens van die tye reg lees en daarvoor voorberei om 'n kernrol in die oorgang na 'n nuwe wêreldorde te speel.

Op papier is Brics Plus 'n gedugte span. Hy verteenwoordig 45% van die wêreld se bevolking, 27% van die bruto wêreld produk, 'n geraamde­ $5,2 miljard (sowat R91,8 miljard) in gekombineerde buitelandse reserwes en beslaan sowat 32% van die wêreld se grondoppervlak.

Verskeie lidlande is ryk aan natuurlike hulpbronne, veral olie, en besit kernwapens of streef na kernwapen-status.

Op die beraad in Kazan, wat vernuftig deur pres. Wladimir Poetin bestuur is, is etlike belangrike besluite geneem:

• Versterk handelsbetrekkinge tussen die onderskeie lede van Brics Plus deur handels- en finansiële transaksies in plaaslike geldeenhede te doen (eerder as in Amerikaanse dollar);

• Skep 'n oorgrens-betalingstelsel as een van die nuwe take vir die nuwe ontwikkelingsbank; en

• Skep 'n Brics Plus-graanbeurs, om voedselsekerheid binne die lidlande te bevorder.

Hierbenewens onderneem die groep om ook aandag te gee aan teenterreur-inisiatiewe wat tans op die VN se agenda dien en daar is 'n onderneming om dialoog en diplomasie eerder as konflik te bevorder.

Vriende en vyande

As 'n mens die Kazan-verklaring lees wat ná afloop van die beraad uitgereik is, is dit egter nie duidelik of die Brics Plus-alliansie die wêreld wil verander nie. Sommige meen dat China, die ontluikende ryk in die Ooste, Brics Plus net gebruik om die komende wêreldorde te rig en bestuur.

Dit is dalk so, maar daar is ook 'n ander moontlikheid. Brics Plus is op soek na 'n identiteit, met gedeelde waardes en visie. Onderling ideologiese verskille en die soeke na eiebelang beperk die alliansie se rol in die wêreld.

Dit herinner ons aan die onvermoë van ons regering van nasionale eenheid (RNE) om Suid-Afrika se vriende en vyande te identifiseer.

'n Storm wat broei

'n Mens kan sekere aspekte van die Kazan-verklaring met skeptisisme bejeën, maar op die keper beskou, speel Brics Plus in dié stadium van sy ontwikkeling die rol van 'n selfhelp-organisasie, amper soos 'n koöperasie, maar net op groot skaal.

Hy het 'n innoverende agenda en is 'n deelnemer aan eerder as uitdager van die ontluikende wêreldorde. Suid-Afrika het veel om daarby baat te vind.

Die RNE het nie baie tyd om uit te werk waar die nasie se heil lê nie: Wes, Oos of Suid? Die uitdaging vir ons buitelandse besluitnemers is om 'n balans te vind in ons betrekkinge met die wêreld se groot spelers.

Hoe versoen ons byvoorbeeld ons rol as gasheer op verlede jaar se Brics-beraad in Johannesburg met ons komende rol as gasheer van die G20 volgende jaar? En hoe moet Suid-Afrika sy politieke en handelsbetrekkinge met Amerika, Europa en China koördineer?

My aanbeveling sou wees om die regering se onlangse beleidsraamwerk oor nasionale belang te raadpleeg en indien nodig, die beleid verder te verfyn en 'n werkbare strategie te ontwikkel deur dit op die agenda van die voorgenome nasionale dialoog te plaas.

Hiersonder gaan die nasie die komende storms sonder 'n kompas moet aandurf.

• Prof. Van Nieuwkerk is verbonde aan die departement internasionale en diplomatieke studies van Unisa.

Anthoni van Nieuwkerk

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM