Pres. Thomas François Burgers van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) bly ’n omstrede figuur in die geskiedenis. Dr. Theuns Appelgryn het ’n uitstekende werk oor hom geskryf. Maar kom ons fokus op die Burgersponde wat die president laat munt het – wat volgens sommige Transvalers toe nié so ’n uitmuntende idee was nie, maar wat muntversamelaars se oë vandag laat skitter.
As intelligente idealis het Burgers groot planne vir die sukkelende pionierstaat gehad. Die meeste daarvan het egter in die sand vasgeval. Maar ten minste met die goue ponde het Burgers hom laat geld.
Een van Burgers se eerste take in 1872 was die verbetering van die ZAR se finansies. Die Volksraad het hom opdrag gegee om ’n lening te reël om die staat se finansies in orde te bring. Die bykans waardelose papiergeld het ’n verlammende uitwerking op die handel gehad. Primitiewe ruilhandel was die gevolg, want handelaars het geweier om geldnote of regeringskuldbriewe te ontvang en liewer landbouprodukte soos vee, wol of velle as betaling aanvaar. Die landsadministrasie is nadelig geraak, omdat bekwame amptenare nie bereid was om vir waardelose papiergeld te werk nie.
’n Lening van die Cape Commercial Bank van £60 000 het die ZAR se finansiële posisie verbeter. Burgers het nou gereken dat klinkende munt meer vertroue as papiergeld sou geniet. Hy het die ontdekking van die Lydenburgse goudvelde in 1873 as ’n gulde geleentheid gesien om ’n onafhanklike muntstelsel vir die ZAR te skep.
In Desember 1873 het Burgers die goudkommissaris van MacMac gelas om goud ter waarde van £1 000 ten behoewe van die regering aan te koop. In 1874 het Burgers gevolglik 266½ ons goud (sowat 8 kg) ter waarde van £1 000 aan J.J. Pratt, die ZAR se konsul-generaal in Londen, gestuur. Daarmee saam foto’s van Burgers en sketse van die landswapen. Die opdrag: Slaan munte gelykstaande in waarde aan die Britse pond.
Burgers het gemeen die muntstelsel sou nasionale trots aanwakker. En hy wou dit as ’n verrassing vir die Volksraad hou.
In Londen is stempels vervaardig deur L.C. Wyon, graveerder van die koninklike munt, waarop die firma Ralph Heaton & Sons van Birmingham die ponde geslaan het.
Daar word aanvaar dat duisend ponde gemunt is en dat 837 of 833 na die ZAR gestuur is. Die res is blykbaar geskenk aan Europese staatshoofde van lande wat die ZAR se onafhanklikheid erken het en aan goedgesinde konsuls en private persone.
Op 22 September 1874 het Burgers die Volksraad met die goue munte verras. Ná ’n warm bespreking het ’n meerderheid besluit om die munte as wettige betaalmiddel te erken.
Burgers se staatsponde was goed bedoel, maar hy moes liewer eers die volksraad se toestemming gekry het. Vir baie konserwatiewe Boere was die afbeelding van die president heiligskennis. Aanvaarding van die Krugerponde met Kruger se beeltenis het nog 20 jaar in die toekoms gelê.
Nie dat munthandelaars en -versamelaars vandag omgee nie. Jy kan ’n Burgerspond teen R550 000 aankoop, of ’n knaap van uitsonderlike gehalte vir R2 miljoen . . .
• Pretorius is ’n emeritus professor in geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria. Die mening van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

















